Energie

Só dryf SA’ners grootliks self beurtkrag-blaaskans

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jou eie sonkrag doen baie meer om beurtkrag in bedwang te bring as wat voorgegee word.  Foto: Bill Mead, Unsplash
Jou eie sonkrag doen baie meer om beurtkrag in bedwang te bring as wat voorgegee word. Foto: Bill Mead, Unsplash

"Behoorlike instandhouding", "uitmuntende leierskap", "puik oorsig". Met dié woorde klop die regering en Eskom hulself op die skouer vir die afwesigheid van beurtkrag die laaste tyd, maar min lof word aan Suid-Afrikaners vir hul eie groot bydrae gegee.

Dis nou al 33 dae dat Suid-Afrikaners nie weens beurtkrag in die donker hoef te sit nie.

LEES OOK | 5 redes vir die beurtkrag-blaaskans: Wat gaan aan?

Al erken sekere Eskom-bestuurders die bydrae van Suid-Afrikaanse huishoudings en ondernemings wat self sonkragstelsels opgerig het om die intensiteit van beurtkrag oënskynlik in bedwang te bring, kom dit gewoonlik as 'n nagedagte teenoor die regering en Eskom se eie rol.

Die syfers vertel egter hul eie storie.

Die syfers praat

Sedert 2020 verskaf Eskom al 'n reeks statistieke op sy uitgebreide dataportaal vir openbare insae.

Al is die portaal moeilik om te verstaan, is baie data beskikbaar wat soms meer konteks en feite verskaf, teenoor die narratief wat mondelings op nuuskonferensies en aanbiedings gegee word.

LEES OOK | Snap Eskom se data oor krag makliker op nuwe webwerf

Danksy die vrywillige verskaffing van bykomende statistieke oor verskeie aspekte van die kragnetwerk deur byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Sonkragbedryfsvereniging (Sapvia) is dit moontlik om te sien hoe beurtkrag werklik op tye in bedwang gebring word - sonder om staat te hoef maak op die stellings van Eskom en kie.

Ons sal self

Suid-Afrikaanse huishoudings en ondernemings wat vir hul eie kragbehoeftes sonkrag installeer, het nou 'n hoë vlak bereik.

Altesaam is daar al teen Februarie vanjaar 5 539 MW se sonkragstelsels deur huishoudings en ondernemings opgerig.

Dit is gelykstaande aan 858 MW meer nominale opwekkingsvermoë as Eskom se drie kleinste steenkoolkragstasies (Grootvlei, Camden, en Hendrina) saam.

LEES OOK | Meer sonkrag al op huise se dakke as al regering se sonkragplase saam

Volgens Sapvia se jongste syfers is die meeste van private sonkrag wat vir eie gebruik opgerig is deur ondernemings geïnstalleer, maar die groeikoers onder huishoudings is nou nóg hoër.

Op 'n kwartaalgrondslag het die sonkrag wat deur ondernemings en huishoudings vir eie gebruik opgerig is, met 'n stewige 25% gegroei.

In 2022 het Suid-Afrikaners R5 miljard se sonpanele vir eie gebruik ingevoer. Volgens die Sapvia dui die jongste data dat dié syfer in 2023 meer as verdubbel het.

Met groot dele van dié private sonkragopwekking wat met batterye ondersteun word, word krag selfs vir spitstye saans en soggens geberg, wat baie druk van die nasionale kragnetwerk afhaal.

Volgens Isabel Fick, hoof van die kantoor van die stelseloperateur by Eskom, help private sonkrag wel "baie" om die kragnetwerk by tye te stabiliseer.

Fick het Vrydag op Eskom se bekendstelling van sy winterplan vir 2024 gepraat.

Die bydraes van private sonkrag is nie in die uitvoerende bestuur se voorlegging genoem nie, maar Fick het in antwoord op Netwerk24 se vraag ingetree om konteks hieroor te verskaf.

"Die bydrae gedurende die dag tussen 09:00 en 15:00 is groot (afhangende van die weer)," het sy gesê.

"Dit val egter naderhand weg. Dit beteken hierdie bydrae is nie vir spitstye beskikbaar nie."

Beurtkrag word hoofsaaklik toegepas weens die tekort aan krag tydens spitstye soggens en saans.

Fick het egter nie die uitwerking van wisselrigters en batterye genoem wat met dié soort sonkragstelsels gepaardgaan nie.

Private sonkrag help selfs noodkragaanlegte

Sy het wel verduidelik dat selfs die bydrae van huishoudings en ondernemings se sonkragstelsels gedurende die dag wanneer die vraag na krag op sy laagste is, onregstreeks 'n groot hupstoot aan Eskom vir die spitsure verskaf.

"(Private) sonkrag beteken wel dat ons gedurende die dag (water vir ons pompopgaarskemas) kan pomp, en dus meer (opwekkingsvermoë uit hierdie aanlegte) vir spitstye beskikbaar het," het sy verduidelik.

"Ook word die gebruik van die oopsiklusgasturbines nou beperk tot spitstye omdat ons hierdie bydrae (van private sonkrag) gedurende die dag het."

Eskom se Ankerlig-noodkragaanleg. Dié diesel-aangedrewe oopsiklusgasturbine is in Atlantis, noord van Kaapstad. Foto: Eskom
Eskom se Ankerlig-noodkragaanleg. Dié diesel-aangedrewe oopsiklusgasturbine is in Atlantis, noord van Kaapstad. Foto: Eskom

Dié verwikkeling is 'n beduidende verandering teenoor die tendens wat in Mei verlede jaar tot einde Maart vanjaar geheers het.

Met die aanstelling van dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, vroeg verlede jaar, was een van sy eerste doelwitte om Eskom in staat te stel om sy dieselaangedrewe oopsiklusgasturbines al hoe meer as volslae basislading-kragstasies te gebruik.

Dié aanlegte verbrand diesel teen 'n astronomiese pas, maar kan onmiddellik tot amper 3 000 MW verskaf indien Eskom se steenkoolkragstasies sukkel.

Vir die boekjaar tot einde Maart 2024 het Eskom meer as R30 miljard aan diesel bestee, en is die benuttingskoers van die turbines tot baie ver bo die normale vlakke van noodkraggebruik gedruk.

Bheki Nxumalo, opwekkingshoof van Eskom, het op Vrydag se nuuskonferensie Eskom se nuwe "verantwoordelike" verbruik van diesel vir sy oopsiklusgasturbines tydens die afgelope 31 dae sonder beurtkrag verdedig.

"Diesel is redelik omsigtig deur die stelseloperateur benut, en ook omdat die steenkoolkragstasies so goed presteer het," het hy gesê.

Eskom se data, sê hy, dui daarop dat dieselverbruik vir die eerste 26 dae van April 50% laer was as gedurende dieselfde tydperk in April 2023.

Ons bly uiters agterdogtig oor die gebruik van (dié noodkragaanlegte) en die volumes diesel wat verbrand word.

—  Samantha Graham-Maré, DA-LP

Samantha Graham-Maré, DA-LP en woordvoerder oor elektrisiteit, sê egter Eskom vertel nie die hele storie oor sy oopsiklusgasturbines nie.

"Ek dink enige vermindering in die benutting van die oopsiklusgasturbines is as gevolg van 'n laer vraag na krag," het sy Vrydag aan Netwerk24 gesê.

"Ons bly uiters agterdogtig oor die gebruik van (dié noodkragaanlegte) en die volumes diesel wat verbrand word, maar glo dat baie van die ‘verbeterings' aan Eskom se kant eintlik te wyte is aan die dalende vraag na krag."

Matthew Cruise, oud-Eskom-werknemer en energiekenner van Forest Energy Solutions, is net so skepties.

"Ten spyte daarvan dat Eskom 'n vermindering van 50% in sy gebruik van die oopsiklusgasturbines gemeld het, kan mens duidelik sien dat hul gebruik steeds hoog was oor die afgelope 30 dae."

Nxumalo sê sowat R460 miljoen se diesel is net in die week van 15 tot 22 April verbrand.

"Mens moet jouself afvra hoekom ons skielik duur diesel verbrand om te verhoed dat ons nou in fase 2 of 3 ingaan, terwyl fase 2 of 3 voorheen deur die regering geduld is met dieselverbruik wat tóé slegs plaasgevind het om te verhoed dat ons in fases van bo 3 sou ingaan," sê Cruise.

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM