In slegte nuus vir mense wat nog somme maak oor hoeveel hulle vir brandstof moet begroot as hulle die langpad na vakansiebestemmings aanpak, word petrol Woensdag 17c per liter duurder, en diesel se groothandelpryse styg met 55c en 56c per liter.
Die styging sou minder skerp gewees het, maar Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, het 'n verhoging van 15,4c per liter goedgekeur vir die jaarlikse aanpassing van die groot- en kleinhandelwinsmarge op petrol. Die marge op diesel en paraffien is met 8,88c per liter verhoog.
Die groot bydraer tot die duurder brandstof was die rand wat verswak het teen die dollar, van R17,53 in die vorige oorsigtydperk tot R17,93.
Internasionaal het petrolpryse in praktyk gedaal weens laer vraag, hoër voorraadvlakke en die oorskakeling na goedkoper produkte. Petrol kon 19c per liter goedkoper geword het, was dit nie vir die swakker rand en die aanpassing in die winsmarges nie.
Maar diesel en paraffien se pryse het internasionaal gestyg weens groter seisoenale vraag in aanloop tot die winter in die Noordelike Halfrond, waar diesel vir verhitting gebruik word.
Die prys van vloeibare petroleumgas het gestyg weens die pryse van propaan en butaan wat gestyg het. Die gasprys styg Woensdag met 95c per kg aan die kus en met R1,15 per kg in die binneland.
In die gasprys het Mantashe ook aanpassings in winsmarges en ander prysstrukture goedgekeur.
Die stygings bring die prys van 95-oktaan-petrol op R21,47 per liter in Gauteng te staan en op R20,68 per liter aan die kus.
Die groothandelprys van diesel word R19,21 per liter in Gauteng en R18,42 per liter aan die kus. Die vulstasieprys van diesel word nie gereguleer nie.
- francois.williams@24.com





















