Die feit dat die land tans beurtkrag vryspring, is nié te danke aan 'n hemelhoë dieselrekening nie.
Inteendeel, Eskom bestee nou aansienlik minder aan diesel as 'n jaar gelede.
In April verlede jaar het Eskom R3,1 miljard se diesel verbrand en daar was elke dag beurtkrag - 27 dae met beurtkrag van fase 4 tot 6. Verlede maand was die dieselrekening net R1,4 miljard en "daar is skepe wat rondvaar met vragte vol diesel wat hulle verwag het om aan ons te verkoop", sê Dan Marokane, Eskom se nuwe bestuurshoof.
Eskom het Woensdag, op Werkersdag, 'n nuwe mylpaal bereik en deur die vlak van 65% gebreek wat die beskikbaarheid van sy kragsentrales betref.
Die regering wou toesien dat Eskom dié mikpunt al in April bereik. Die laaste paar jaar het die beskikbaarheidsyfer algaande gedaal en in 2023 het Eskom nader aan 50% en selfs soms onder dié syfer geboer. Dit beteken dat minder as die helfte van sy opwekkingsvermoë beskikbaar was.
Die res was uit diens vir beplande instandhouding of omdat dit onverwags onklaar geraak het en nog nie herstel is nie.
Die jongste mylpaal kom nadat die kragreus al meer as 'n maand lank die ligte aanhou sonder enige beurtkrag. Boonop het Marokane tydens sy eerste openbare optrede onlangs gesê dat beurtkrag selfs in die komende winter, wanneer die vraag die hoogte inskiet omdat mense warm kos en 'n warm bad wil hê en die verwarmers hoog stel, waarskynlik tot fase 2 beperk sal word. Die vorige winter het dit meestal gewissel tussen fase 3 en 6.
Suid-Afrikaners is egter skepties. Die leier van die EFF, Julius Malema, en die DA se John Steenhuisen waarsku dat Eskom net sy sokkies opgetrek het omdat daar 'n verkiesing aan die kom is en kiesers die ANC sal straf as daar nie krag is nie.
Eskom het die agterdog dat hulle beurtkrag hokslaan met hemelhoë dieselverbruik die nekslag toegedien met die bekendmaking van die jongste dieselrekening.

Op 'n vraag hoe Eskom dit nou regkry om die ligte aan te hou, het die Eskom-voorsitter, dr. Mteto Nyati, gesê dit is danksy die beter prestasie van Eskom se kragsentrales.
Die antwoord is egter nie heeltemal so eenvoudig nie.
Beurtkrag word deur die stelseloperateur gebruik wanneer die vraag na krag dít wat Eskom kan lewer, oorskry. As die vraag verminder, is die gaping kleiner en die beurtkrag minder.
Volgens Eskom se verwagting gaan die gemiddelde vraag vandeesmaand sowat 1 300 MW minder wees as in Mei verlede jaar. Tot Augustus verwag Eskom elke maand dat die vraag sal daal, hoewel nie so drasties soos hierdie maand nie.
Dié daling is die gevolg van druk op die ekonomie waar ondernemings hul deure tydelik of permanent sluit en ondernemings wat ander planne beraam omdat hulle Eskom nie meer as 'n kragverskaffer vertrou nie.
Die tandekryprobleme by Medupi is uitgeskakel en die kragsentrale bring nou sy kant.
Isabel Fick, hoof van die stelseloperateur se kantoor by Eskom, sê daar is al 12 000 MW se hernubare energie aan die Eskom-netwerk gekoppel en nog byna 5 500 MW se opwekkingsvermoë sit in sonpanele op geboue se dakke. Dié krag is veral tussen 09:00 en 15:00 beskikbaar en verlig dan die druk op Eskom sodat hy sy pompstasies, wat ook as noodreserwe dien, kan laai, sê sy.
Eskom se oopsiklus-gasturbines, wat groot hoeveelhede diesel in 'n japtrap verorber, kan ook dan opsy staan sodat die son die gaping tussen vraag en aanbod vul. Aan die aanbodkant is daar nou 'n paar ekstra eenhede wat kan krag opwek, vergeleke met verlede jaar. Die belangrikste is Kusile se eenhede 1, 2 en 3 wat in Oktober 2022 skade aan hul skoorstene opgedoen het en feitlik die hele 2023 buite werking was.
Eskom het intussen 'n tydelike plan gemaak en al drie werk tans goed. Daarmee saam is eenheid 5 aan die netwerk gekoppel. Die konstruksiespan het dit nog nie amptelik aan Eskom oorhandig nie, maar dit lewer reeds 'n goeie klompie krag aan die netwerk.
Die tandekryprobleme by Medupi is uitgeskakel en die kragsentrale bring nou sy kant. Die land moes reeds vroeg vanjaar die vrugte van dié ekstra opwekkingseenhede gepluk het, maar Eskom het toe instandhouding tot ongekende hoë vlakke verhoog om agterstande in te haal.
Die eenhede wat daarvoor uit diens gestel is, het die gaping tussen vraag en aanbod vergroot en die gevolg was beurtkrag.
Met die komende winter het Eskom soos gewoonlik instandhoudingswerk begin inkort en daarmee is beurtkrag vir eers verby. Tog hang daar 'n vraagteken oor die prestasie van die vloot. Die drie Kusile-eenhede wat verlede jaar afwesig was, lewer saam tot 2 400 MW se elektrisiteit of sowat 5% van die totale opwekkingsvermoë. Die verwagting sou wees dat die kragaanwysers dienooreenkomstig sou verbeter met die beskikbaarheid van die eenhede, maar dit is nie die geval nie. Sowat 30% van die vloot bly deurgaans buite werking. Dit het verbeter van gemiddeld 33,5% gedurende 2023, maar die volle voordeel van die Kusile-herstelwerk is nie sigbaar nie. Dít laat die vraag ontstaan of die ander kragstasies swakker vaar en die gemiddelde prestasie demp.
Die toekoms lyk beter. Eskom verwag om Medupi 4 en Koeberg-eenheid 2 voor einde vanjaar in bedryf te stel - 1 700 MW se opwekkingsvermoë. Die laaste Kusile-eenheid sal na verwagting in Oktober gekoppel word.





















