Die hooggeregshof in Johannesburg het Transnet 15 dae gegee om dokumente te lewer wat Sasol versoek in 'n uitgerekte hofstryd oor Transnet se brandstofpypleiding.
Die geskil gaan oor die tariewe wat Sasol Oil, wat die Natref-raffinadery by Sasolburg bedryf, aan Transnet moet betaal vir die vervoer van ruolie van die kus na die raffinadery.
Sasol eis kontrakskade van R1,9 miljard van Transnet omdat hy meen die tariewe is sedert 2008 te skerp verhoog, en daar word nie onderskei tussen 'n tarief vir ruolie en vir voltooide brandstofprodukte nie.
Transnet eis op sy beurt R1,3 miljard van Sasol en TotalEnergies (mede-eienaar van Natref) omdat hy meen hulle het nagelaat om die volle tarief te betaal wat hy ingevolge die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se tariewe mag hef.
Sasol het in Julie verlede jaar aansoek gedoen vir toegang tot dokumente wat kan wys of Transnet 'n berekende besluit oor die tariewe geneem het. Sasol versoek ook dokumente oor die waarde, bedryfskoste, doeltreffendheid en produktiwiteit van Transnet se pypleidings.
Die hof het verlede Donderdag beslis Sasol is geregtig daarop om die dokumente aan te vra, en Transnet is beveel om dit vertroulik aan Sasol se regsverteenwoordigers te verskaf.
Transnet het in Junie verlede jaar aangevoer hy hoef geen dokumente meer te lewer om die geskil te besleg nie, afgesien van die lisensie wat hy het om 'n brandstofpypleiding te bedryf, en die rekeninge van onderbetaling deur Sasol en TotalEnergies in die tydperk van Desember 2020 tot Mei verlede jaar.
Transnet glo die maksimum Nersa-tariewe wat hy in die tariefjare 2020-'21 tot 2022-'23 gehef het, is billik en regverdig. Dit bedra R467,71 per m³ in die eerste jaar, R478,91 per m³ in die tweede jaar en R517,30 per m³ in die derde jaar. Dit kom neer op 'n styging van sowat 2,3% in die tweede jaar, maar soveel as 8% in die derde jaar.
Sasol voer aan Transnet het bloot blindelings die Nersa-tariewe gehef sonder om 'n onafhanklike besluit te neem en bykomende faktore in ag te neem.
Die hof het beslis Sasol is daarop geregtig om die faktore te identifiseer wat in ag geneem behoort te word om te bepaal of die tariewe wat Transnet gehef het, wel billik en regverdig is. Die dokumente wat Sasol versoek, is dus relevant.
Dit sal bepaal of Sasol reg is met sy aanspraak dat dit veel goedkoper is om ruolie deur Transnet se pypleidingstelsel te vervoer as voltooide brandstofprodukte soos petrol, diesel of vliegtuigbrandstof.
Transnet se beswaar was dat Sasol se versoek te breed is, en dat hy in sommige gevalle dokumente aanvra wat nie bestaan nie. Oor sekere van die dokumente wat Sasol versoek het, het Transnet hom na sy webblad verwys, maar Sasol het aangevoer dit is 'n ontoepaslike reaksie, en die hof het met Sasol saamgestem.
Die geskil het 'n geskiedenis wat terugstrek tot 1967, toe Sasol nog 'n staatsonderneming was. Toe die Natref-raffinadery destyds gebou is, het die regering 'n ooreenkoms met die Franse oliemaatskappy Total (nou TotalEnergies) beklink dat die koste om ruolie na Sasolburg te vervoer hom nie kommersieel sou benadeel vergeleke met die raffinaderye aan die kus nie. Die koste moes bereken word asof Natref ook aan die kus is.
Transnet het later die bedryf van die pypleiding oorgeneem maar die beginsel van neutrale koste is min of meer gehandhaaf. Transnet het in 2008 en weer in 2011 die tariewe skerp verhoog. Teen daardie tyd het Nersa die tariewe vasgestel.





















