Energie

Transnet onder druk om gas gouer in te voer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sibongiseni Khathi, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, Woensdag op die Africa Oil Week in Kaapstad.  Foto: Francois Williams
Sibongiseni Khathi, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, Woensdag op die Africa Oil Week in Kaapstad. Foto: Francois Williams

Onder druk van die bedryf om aardgas gouer in te voer, mik Transnet Pipelines daarna om teen 2027 reeds die gasinvoerpunt by Richardsbaai in bedryf te hê.

Hoewel daar gemik word om teen die eerste kwartaal van 2028 die eerste gas via Richardsbaai in te voer, gaan Transnet probeer om dit al teen die eerste helfte van 2027 reg te kry, het Sibongiseni Khathi, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, Woensdag op die Africa Oil Week in Kaapstad gesê.

In die eerste fase word daar gemik om 2 miljoen ton gas in te voer, en dit dan te verhoog tot 5 miljoen ton teen 2030.

Transnet Pipelines mik om later vandeesmaand 'n konsessie-ooreenkoms van 25 jaar met die private maatskappy Vopak te sluit om die gasinvoerpunt te bedryf.

Transnet Pipelines sal die Lilly-pypleiding se rigting verander en gas vanaf Richardsbaai daarmee na die binneland vervoer as die gasinvoerpunt in Richardsbaai eers gebou is.

Dit is volgens Khathi veral belangrik in die lig van die verwagte "gasafgrond" weens Sasol se besluit om van 2028 af nie meer aardgas aan sy nywerheidskliënte te lewer nie.

Die verwagte toename in die gebruik van alternatiewe aandrywing vir voertuie, soos elektriese en brandstofselvoertuie, is 'n bedreiging vir die brandstofbedryf, het Khathi gewaarsku.

Maar tot tyd en wyl is daar steeds 'n verwagte groei in dieselverbruik oor die komende dekade of wat. Die gebruik van petrol en vliegtuigbrandstof sal egter na verwagting stabiel bly oor die tydperk, sê Khathi.

Vereistes vir skoner brandstof tree teen Julie 2027 in werking, en van dan af is daar ook die mikpunt om meer biobrandstof in die brandstofmengsel by te voeg.

Met die sluiting van groot olieraffinaderye in Suid-Afrika raak dit volgens Khathi uitdagend om al hoe meer brandstof in te voer. Brandstof word ingevoer soos wat dit nodig word, op die sogenaamde "just-in-time"-beginsel. Dit hou risiko's in vir brandstofsekerheid weens die probleme met tydsberekening as daar logistieke probleme opduik.

Ná 'n erge toename in voorvalle van diefstal en vandalisme aan pypleidinginfrastruktuur die laaste paar jaar, is Khathi vol vertroue dat Transnet Pipelines danksy tegnologie en samewerking met wetstoepassers nou beter beheer oor die probleem het. Voorvalle van brandstofdiefstal en vandalisme aan sy infrastruktuur het van die vorige boekjaar tot nou byna gehalveer, en dit sal nog verder daal oor die komende jaar.

Volgens Khathi is daar ook nog kapasiteit in die brandstofpypleiding van Durban na Gauteng, en hy meen brandstofmaatskappye is welkom om Transnet te nader om eerder hul brandstof per pypleiding eerder as met tenkwaens per pad na die binneland te vervoer.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM