Suid-Afrika se kroonjuweel-eiendom, die V&A Waterfront, het ’n elektrisiteitskontrak gesluit wat vir ’n dekade lank aan 70% van die Waterfront se kragvraag sal voldoen.
Dit sal boonop hernubare energie wees wat by wind- en sonkragaanlegte opgewek word.
Die kontrak is gesluit met Etana, ’n gelisensieerde kraghandelaar.
Die kragkoopooreenkoms begin vroeg in 2026 en behels die lewering van 43 GWh se groenkrag per jaar.
Dit sal kom van onafhanklike kragprodusente se aanlegte.
Volgens André Theys, bedryfsbestuurder by die Waterfront, kom 90% van die Waterfront se kweekhuisgasvrystellings van sy kragverbruik. Die ooreenkoms met Etana gaan dus ’n groot bydrae lewer om die gebied se koolstofvoetspoor te verklein.
Dit sal ook die breë gemeenskap bevoordeel, meen Theys. “Ons wil graag die waarde wat ons bied aan die hele Kaapstad en selfs Suid-Afrika bied. Deur pro-aktief innoverend te wees, kan ons wys wat moontlik is en bewyse voorsien wat dit vir ander makliker kan maak om in ons voetspore te volg.”
Volgens Theys is die Waterfront se volhoubaarheidstrategie gegrond op ’n gedeeldewaarde-ekostelsel waar almal in die Waterfront – van huurders tot inwoners, personeel en besoekers – saamwerk om die eiendomskompleks die beste te maak wat dit kan wees.
Tesame met die Waterfront se eie dakgemonteerde sonkraginstallasies, sal die ooreenkoms met Etana beteken dat byna 80% van die sakebuurt se elektrisiteit voortaan uit hernubare bronne kom.
Die Waterfront word gesamentlik besit deur die Openbare Beleggingskorporasie namens staatsdiensamptenare wie se aftreegeld hy bestuur, en die JSE-genoteerde eiendomsgroep Growthpoint.
Die Waterfront kry 24 miljoen besoekers per jaar, en het reeds sy koolstofvrystellings met 47% verlaag, en sy watergebruik met 61%. Deurdat alle organiese en herwinbare afval verwerk word, verhoed dit reeds dat 62% van al sy afval na stortingsterreine hoef te gaan, en enkelgebruikplastiek sal teen volgende jaar uitgefaseer word.
Die Waterfront beplan ’n afval-tot-energie-aanleg waar gas vir kragopwekking geproduseer sal word, om sy eie sonkrag aan te vul. Hy het ’n watersuiweringsaanleg waar die gesuiwerde water hergebruik word om toilette te spoel, en bouwerk vorder aan ’n ontsoutingsaanleg.
Growthpoint het reeds ’n bestaande ooreenkoms met Etana vir die lewering van 195 GWh se jaarlikse groenkrag, wat 32% van die totale jaarlikse kragverbruik by Growthpoint se portefeulje van geboue verteenwoordig.















