
Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het niks verander aan sy beleggingsbeleid sedert die nuwe minister van finansies aangestel is nie en dinge gaan voort soos gewoonlik.
Só het Sfiso Buthelezi, adjunkminister van finansies en voorsitter van die OBK, Dinsdag in die parlement gesê in reaksie op gerugte dat die politieke veranderings druk geplaas het op die OBK om sy beleggingsbeleid te verander.
Die OBK bestuur die beleggings van die staatspensioenfonds, die pensioenfonds van duisende staatsdienswerkers, onderwysers, polisiebeamptes en verpleegsters in die land.
Oor eise dat vakbonde ook in die direksie van die OBK verteenwoordig word, sê Buthelezi dat Malusi Gigaba, minister van finansies, geen besware het teen vakbondverteenwoordiging in die OBK-direksie nie.
Oor die forensiese oudit in die OBK se beleggingsbesluite van die afgelope drie jaar sê Buthelezi die OBK-direksie wil met Gigaba vergader hieroor om uit te vind presies wat sy doel is daarmee.
Buthelezi het by 'n vergadering van die parlement se staande komitee oor finansies bevestig die OBK word gerig deur die mandaat van die staatspensioenfonds.
Dit kom na die volgehoue kritiek en bewerings dat die staat die OBK wil dwing om sy bates te gebruik om staatsondernemings soos die SAL uit geldknyp te red.
Buthelezi sê die OBK-direksie het hom verseker die regering het hulle nog nooit gedwing om sekere besluite te neem nie.
Hy verdedig wel die OBK se beleggings in onder meer die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, die Landbank en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en sê die OBK kan nie net in JSE-genoteerde maatskappye belê nie, maar moet volledig betrokke wees om die ekonomie te help ontwikkel en transformeer.
Die DA en die vakverbond Cosatu het wysigings voorgestel aan wetgewing om beter werkerverteenwoordiging in die OBK se direksie te kry en om deursigtiger meganismes te vestig vir die samestelling van die OBK-direksie. Die staande komitee oor finansies werk self ook aan 'n wysigingswetsontwerp hieroor.
Buthelezi het beklemtoon die voorsitter van die OBK het nie spesiale magte bo die van ander direkteure nie. Vakbonde is gekant teen die gebruik dat die adjunkminister van finansies outomaties die voorsitter van die OBK-direksie is.
David Maynier, DA-woordvoerder van finansies en lid van die staande komitee oor finansies, het Buthelezi gevra waarom die verwysingsraamwerk vir die forensiese oudit by die OBK nog nie aan Gigaba voorsien is nie. Buthelezi sê die direksie kon bloot nog nie weer met Gigaba vergader sedert Oktober nie.
Yunus Carrim, voorsitter van die komitee, sê dit was verkeerd dat mense valse bewerings gemaak het oor dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, en hom 'n Gupta-lakei genoem het, terwyl daar geen bewyse daarvoor was nie.
Oor die OBK se beleggings in ongenoteerde maatskappye wat verliese ly, sê Buthelezi daar is twee sye van die saak, want van die OBK se genoteerde beleggings is ook nie winsgewend nie. Dit is deel van die risiko van beleggings.























