
Min Suid-Afrikaners kan op 60, of selfs op 65, gerieflik aftree. En soos wat jy ouer word, raak dit toenemend moeiliker om in te haal en jou aftreedoelwitte te bereik. In hierdie gids tot aftreebeplanning, gesels finweek met kenners oor die strategieë wat jou kan help om jou aftreebesparing 'n hupstoot te gee.
As voldoende besparing beskou word as dit wat 'n inkomste gelykstaande met omtrent 75% van jou laaste salaris kan bied, maak Suid-Afrikaners nie voldoende finansiële voorsiening vir hul aftrede nie.
Só meen al die aftreespesialiste met wie finweek vroeër vandeesmaand gepraat het. Om vir aftrede te spaar, kan vir baie Suid-Afrikaners 'n ingewikkelde saak wees, maar met die regte finansiële adviseur hoef dit nie te wees nie, sê hulle.
Die goeie nuus: Dis nooit te laat om te begin nie. Maar hoe gouer jy begin, hoe makliker sal dit wees om gerieflik af te tree.
"Hoe ouer jy is wanneer jy begin, hoe groter is die gevaar dat jy probleme sal ondervind," sê Barrie van Zyl, senior bestuurder by Alexander Forbes. "Ons hoor gedurig by kliënte: ‘Ek moes meer gespaar het.' "
Iemand wat vroeg begin, laat deur saamgestelde rente die mark meer tot hul aftrede bydra, terwyl iemand wat laat begin, meer van die geld self sal moet kry en minder uit saamgestelde rente, verduidelik een kenner.
Die besparingsvlak wat die bedryf voorstel, is om 15% van jou bruto inkomste (voor belasting en ander aftrekkings) oor 40 jaar - tussen 25 tot 65 - te spaar, maar min Suid-Afrikaners bereik dié teiken.
Hoeveel moet jy spaar?

"Suid-Afrikaners spaar nie genoeg nie," sê Wouter Fourie van Ascor Independent Wealth Managers, 'n bekroonde geser- tifiseerde finansiële beplanner. "Suid-Afrikaners haal net dié 15% waar werkgewers maandelikse aftrekkings doen."
Terwyl die gemiddelde persoon daarna moet streef om oor 'n loopbaan van 40 jaar R15 van elke voorbelaste R100 vir aftrede te spaar, vereis 'n laat begin of vroeë aftrede 'n veel hoër spaarkoers. Iemand wat lank voor 65 wil aftree of ná 25 begin spaar, sal die spaarkoers tot nader aan R33 uit elke voorbelaste R100 moet verhoog, sê Warren Ingram, uitvoerende direkteur van Galileo Capital.
Van Zyl sê nog 'n algemene reël is om 15% van jou bruto inkomste te spaar as jy op 25 begin; as jy op 30 begin, moet jy daarna mik om 20% te spaar; en as jy op 40 begin, word dit 42% van jou bruto inkomste.
"Aftreebesparing is nie 'n presiese wetenskap nie. Hoe meer jy spaar, hoe groter sal jou keuse by aftrede wees," sê Wanita Isaacs, hoof vir beleggersopvoeding van Allan Gray. "Pleks van om 'n presiese syfer te soek, moet die spektrum vir elke ouderdom as 'n teiken gebruik word."
Nog 'n algemene reël is om 15% van jou bruto inkomste te spaar as jy op 25 begin; as jy op 30 begin, moet jy daarna mik om 20% te spaar; en as jy op 40 begin, word dit 42% van jou bruto inkomste.
Benut belastingvoordele
Baie Suid-Afrikaners benut ook nie ten volle die saamgestelde uitwerking van die belastingvoordele van aftreebesparing deur instrumente soos pensioenfondse en uittree-annuïteite nie, volgens die aftreekenners met wie finweek gepraat het.
Individue kan tot 27,5% (tot 'n maksimum van R350 000 per jaar) van hul bruto vergoeding of belasbare inkomste tot pensioen-, voorsorg- of uittree-annuïteitsfondse bydra, sê Magnus de Wet, direkteur van Vista Wealth Management. "Met dié spaarinstrumente kan jy voor belasting spaar en kry daarom die voordeel van saamgestelde groei op 'n groter bedrag," sê hy.
Isaacs noem die besluit om die belastingvoordele van aftreeprodukte te gebruik "iets vanselfsprekends, veral as jy sien wat dit in randwaarde beteken. Dit beteken meer geld wat jy kan gebruik en minder geld wat aan die belastinggaarder gegee word."
Ingram sê die ander groot voordeel is dat alle groei in 'n uittree-annuïteit heeltemal belastingvry is.
Beleggers moet ook belastingvrye spaarrekeninge benut wat dit moontlik maak om R33 000 per jaar belastingvry te spaar, met 'n leeftydlimiet van R500 000, sê De Wet. Terwyl dié besparing met nabelaste verdienste gedoen word, is die opbrengs wat daarop verdien word belastingvry.

Uiteindelik is die doel om jou lewensgehalte in jou laaste paar werksjare vol te hou en vir 'n gerieflike aftrede te voorsien. "Baie min mense kan dit deesdae bekostig om op 60 of 65 af te tree," sê Sonia du Plessis, finansiële beplanner by Brenthurst Wealth. "Mense leef langer en moet daarom langer werk. Dit is hoekom dit belangrik is om vroeg te begin en 'n spaargewoonte aan te kweek."
Een uitgawe ná aftrede wat mense onderskat, is die koste van mediese sorg. Ingram sê die moontlikheid van die versorging van verswaktes is ook iets wat verbruikers in ag moet neem.
"Sê nou jy het daaglikse sorg nodig; sê nou jy moet in 'n aftree-oord met versorging van verswaktes wees," sê hy. "Dit is byna onmoontlik om op die nippertjie in te kom; daar moet vir dié goed beplan word."
Van Zyl sê die gemiddelde Suid-Afrikaner bestee R28 000 per jaar aan hul mediesefondskoste; volgens hom kos die versorging van verswaktes R190 000 per jaar. "Mense dink nie eens daaraan nie," sê hy, en dat as hulle nie finansieel onafhanklik genoeg is om dit te bekostig nie, die volgende generasie van die familie die koste dra.
"Jy moet 'n uittree- annuïteit kies wat geen verpligting van maandelikse bydraes en geen boetes het nie, soos wanneer jy van maatskappy A na maatskappy B wil skuif."
Kies 'n uittree-annuïteit
Die belangrikste aftreespaarprodukte wat vir Suid-Afrikaners beskikbaar is, is pensioen- en voorsorgfondse, wat deur werkgewers verskaf word, en uittree-annuïteite, waarin individue deur finansiëledienste-verskaffers kan belê.
By uittree-annuïteite is dit belangrik om die koste in ag te neem, waarsku Du Plessis. "Lewensgekoppelde uittree-annuïteite is duur en die keuse is nie fantasties nie."
Ingram van Galileo sê: "Jy moet 'n uittree-annuïteit kies wat geen verpligting van maandelikse bydraes en geen boetes het nie, soos wanneer jy van maatskappy A na maatskappy B wil skuif. Die bestes word op 'n lopende betaalgrondslag sonder voorafgelde bedryf."
Isaacs sê die meer aanpasbare aftreeprodukte is gewoonlik op effektetrusts gegrond, wat dit vir jou moontlik maak om te besluit wanneer en hoeveel jy wil bydra.
"Wees ook bedag op tariewe wat op verskillende vlakke gehef word," sê sy. "Betaal net vir finansiële advies wat jy in werklikheid kies om te kry en ontvang, en vind uit watter gelde alles van jou belegging afgetrek sal word. Maak seker dat jy weet waarvoor dit is en dat jy waarde vir geld kry."
Dit is belangrik om te kyk wat die onderliggende effektetrust- of beleggingsopsies is en te besluit of daar 'n opsie is wat jou pas en oor 'n tydperk goeie opbrengs opgelewer het, sê Isaacs. "Lees die beleggingsdoelwit en kyk na die langtermyn-opbrengsgeskiedenis om te sien of hy sy beloftes gestand doen."
Bou 'n gediversifiseerde aftreeportefeulje op
Hoe 'n gediversifiseerde aftreeportefeulje sal lyk, sal van die individu en sy of haar bates afhang, en van wat met portefeulje bedoel word, sê Isaacs.
"Vir party mense kan 'n gediversifiseerde portefeulje hul beleggings, hul huis, hul sakeonderneming insluit," sê sy. "Maar spesifiek vir aftreebeleggings is 'n gebalanseerde effektetrust, soos dié wat die meeste beleggingsbestuurders bied, gewoonlik 'n goeie opsie vir 'n langtermyn-belegging."
'n Gebalanseerde effektetrust bied volgens Isaacs 'n goeie spaaropsie vir aftrede en ook ná aftrede. "Dertig jaar is 'n lang tyd vir 'n belegging [ná aftrede] en afgetredenes moet genoeg groei op hul belegging kry om te sorg dat hul inkomste volhoubaar is. 'n Gebalanseerde effektetrust sluit voldoende aandeelblootstelling vir langtermyn-groei in, asook bestendiger bateklasse sodat die beleggingsrisiko bestuur word."
Die belastingvoordele wat die regering vir aftreefondse bied (soos hierbo beskryf), maak hulle 'n vanselfsprekende keuse om beter opbrengs oor 'n tydperk te behaal en die inkomstebelasting op 'n individu se huidige inkomste te verminder, sê Isaacs.
Aftreeprodukte het egter beperkings. Terwyl baie mense dit as 'n voordeel beskou - jou geld is byvoorbeeld nie maklik toeganklik nie en word daarom vir aftrede bewaar - wil party mense groter aanpasbaarheid hê, sê Isaacs.
Hulle wil dalk toegang tot hul geld hê of wil groter blootstelling aan aandele of buitelandse bates hê. " 'n Belastingvrye belegging is die naasbeste en is 'n goeie bykomende belegging omdat dit belastingvoordele bied sonder die beperkings van 'n uittree-annuïteit," sê sy.
"Dit het egter ook beperkings, spesifiek die maksimum bydraes," sê Isaacs.
"Diversifisering is uiters belangrik," sê Ingram, en beveel 'n verdeling van 75% plaaslike blootstelling en 25% oorsese beleggings aan. Hy stel 'n portefeulje voor met 65% in aandele, 10% in hoëgroei-bates en 25% in effekte en kontant.
Nog 'n opsie is om in private, ongenoteerde maatskappye te belê, terwyl sommige jonger Suid-Afrikaners Bitcoin en ander kriptogeldeenhede as deel van hul beleggingsmengsel beskou, sê Ingram.
Van Zyl sê Alexander Forbes se groepsiening is om nie buitelandse blootstelling van meer as 30% tot 35% te hê nie, al kies sommige kliënte wel meer.

Craig Gradidge, medestigter en uitvoerende direkteur van Gradidge-Mahura Investments, sê beleggers sal verder as aftreeprodukte moet kyk as hulle groter buitelandse blootstelling wil hê, maar dit vereis diskresionêre kapitaal. Hy beveel buitelandse blootstelling van minstens 30% tot 35% aan. (Aftreeprodukte se buitelandse blootstelling word tot 25% van die bates onder bestuur beperk.)
Dit is baie belangrik dat jou portefeulje die risiko's verteenwoordig wat met jou ouderdom en risikoprofiel ooreenstem, sê Du Plessis. Sy meen dat dit ook belangrik is dat 'n aftreeplan by jou ander finansiële doelwitte aansluit. Genoteerde eiendomsmaatskappye word byvoorbeeld dikwels beskou as 'n goeie langtermyn-belegging wat oor 'n tydperk opbrengs sal bied wat inflasie klop, sê sy.
Kontroleer jou portefeulje
Hoe gereeld moet jy jou aftreeportefeulje kontroleer nadat jy 'n strategie gekies en 'n portefeulje gevestig het?
"Minstens een keer per jaar," sê Sonia du Plessis van Brenthurst Wealth. "Jou finansiële adviseur moet net alles deurgaan en seker maak dat alles nog reg is. Ons is geneig om dinge wat met geld te doen het net te los. Dit is egter belangrik om te kyk of jy genoeg spaar en om, indien nie, aanpassings te doen."
Wouter Fourie van Ascor stem saam en sê dit moet in dieselfde tyd as jou belastingbeplanning gedoen word. "Jy moet jou belasting en aftreeportefeulje in Januarie bekyk en seker maak dat jy elke jaar die belastingvoordele ten volle benut."

Isaacs sê wanneer jy jou jaarlikse verhoging of bonus kry, moet jy besluit hoeveel vir jou aftrede gespaar sal word en hoeveel jy sal gebruik om jou huidige leefstyl te finansier. "Om dit jaarliks weer na te gaan, beteken dat jy op hoogte bly van sowel jou besparing as jou veranderende leefstylbehoeftes, wat jou spaargeld uiteindelik sal finansier," sê sy.
Dit is belangrik om jou beleggingsopbrengs te kontroleer, maar hou in gedagte dat korttermyn-wisselings en jare van lae of selfs negatiewe opbrengs deel van die werklikheid van langtermyn-belegging is, sê Isaacs. "Kyk of jou belegging se opbrengs op medium- tot lang termyn met die beleggingsdoelwit ooreenstem om te besluit of dit nog reg is."
Ander aftreekenners beveel meer gereelde kontrolerings aan. "Jy moet jou portefeulje ten minste jaarliks nagaan, maar ideaal gesproke is kwartaalliks die beste," sê Warren Ingram van Galileo Capital.
Van Zyl sê die ideaal is twee keer per jaar. "Jy wil nie te veel veranderinge aanbring nie. Die beste is om aan die begin 'n strategie te kies en dit deur te voer," sê hy, maar beklemtoon dat kontrolerings gedoen word omdat die strategie soms aangepas moet word. "Jy moet seker maak dat die strategie nog ooreenstem met wat jy wil bereik."
Hy waarsku egter ook: "Moenie by die emosies van die mark betrokke raak nie."
Fourie stem saam: "As jy jou plan verstaan, sal jy dit vertrou en daarby hou."
Laat geslaap? Hoe om jou aftree-inkomste te vergroot.

Wat moet jy doen as jou aftrede nader kom, maar jy het nie genoeg gespaar nie? Die eerste ding is om nie paniekerig te word en iets onnosels te doen met die bietjie aftreespaargeld wat jy het nie, sê Magnus de Wet, direkteur van Vista Wealth Management.
Takel eerder die probleem deur na jou aftreebesparing te bekyk en te sorg dat jy verstaan wanneer elke belegging uitkeer en wat die potensiële uitbetalings van elke belegging sal wees. Bereken dan die omvang van jou potensiële tekort, sê hy.
Die tweede stap is om 'n plan te kry om dit te hanteer. "Finansiële beplanners is nie net vir die rykes nie en hul dienste kos dikwels min, of werk met 'n glyskaal wat kleiner beleggers bevoordeel. 'n Finansiële beplanner kan jou help om 'n plan te skep om die tekort te bestuur. Weet egter dat finansiële beplanners nie wondere kan verrig nie," sê De Wet.
Barrie van Zyl van Alexander Forbes sê daar is geen "wondermiddel" vir mense wat vyf of tien jaar voor aftrede besef dat hulle nie genoeg gespaar het nie. "Die laat strategie is leefstylveranderinge," sê hy. "Probeer skuld verminder; begroot versigtig."
Dit kan ook help om aftrede uit te stel, volgens Wanita Isaacs, hoof vir beleggersopvoeding van Allan Gray. Sy sê hul navorsing toon dat om die gebruik van jou spaargeld met vyf jaar uit te stel, jy jou inkomste ná aftrede met 38% kan vergroot.
"Dit is waarskynlik die ding met die grootste uitwerking as jy in 'n laat stadium jou inkomste moet vergroot," sê sy. "Hou in gedagte dat jy nie op enige bepaalde ouderdom onttrekkings uit jou aftreefonds hoef te begin doen nie.
"Terwyl baie maatskappye 'n aftree-ouderdom het, is dit belangrik dat mense naby aftrede aan ander maniere dink om geld te verdien nadat hulle by hul formele werk weg is sodat hulle ontrekkings kan uitstel of minder kan onttrek - ten minste in die eerste paar jaar," sê sy.
"Die ander belangrike ding om te doen, is om jou aftreeleefstyl weer te oordink. Die meeste mense kan 'n manier kry om hul begroting ná aftrede te verminder. 'n Opsie is om byvoorbeeld jou eiendom vir 'n kleiner, meer bekostigbare een te verkoop," sê Isaacs. "Al hoe meer mense verdien nou ook geld ná aftrede, en dit beteken dat hul aftreespaargeld hul inkomste vergroot of vir hul later jare voorsien, pleks van dat dit hul hele aftreetydperk hoef te finansier."
Van Zyl beveel aan dat mens dit oorweeg om goedkoper woonplek te kry of kamers op Airbnb as 'n ekstra inkomstestroom te verhuur, wat ook kan help om 'n inkomste ná aftrede te bied. "As jy twee motors het, verminder dit tot een," sê hy. Beleggers wat hul aftreekapitaal wil vergroot, moet ook sorg dat hulle elke jaar die maksimum toegelate bedrag tot hul uittree- annuïteit en hul belastingvrye spaarrekening bydra, sê Warren Ingram van Galileo Capital.
As jy laat vir aftrede begin spaar
Jong mense stel dikwels nie daarin belang om vir aftrede te spaar of om bates op te bou nie, sê Barrie van Zyl van Alexander Forbes. "Hulle moet versigtiger met hul geld wees. Mense moet meer spaar; hulle moet van jongs af al leer hoe belangrik dit is," sê hy.
Wouter Fourie van Ascor Independent Wealth Managers sê dit is nooit te laat om te begin nie, maar mense moet seker maak dat hulle die maksimum toegelate bedrag spaar en onnodige uitgawes uitskakel.
"Betaal jou skuld so gou moontlik terug en wanneer dit terugbetaal is, begin die geld [wat nou in jou begroting beskikbaar is] gebruik om te belê," sê hy. "Mense moet ook maniere soek om ekstra inkomste te verdien - dalk deur nuwe vaardighede aan te leer."

Warren Ingram van Galileo Capital sê 'n belegger wat laat vir aftrede begin spaar, moet die deel van die voorbelaste inkomste wat belê word, tot 20% of ideaal gesproke 33% probeer vergroot. "Jy sal dit aanvanklik dalk nie kan doen nie," sê hy. "Maar namate jou inkomste toeneem wanneer jy verhogings kry, kan jy meer spaar."
Sonia du Plessis van Brenthurst Wealth sê dit is belangrik om aftreebesparing nie uit te stel nie. "Kry jou begroting reg, soek kostebesparings, en kweek 'n spaargewoonte aan."
Die ander gulde reël is om nie aftreespaargeld te laat uitbetaal wanneer jy van werk verander nie en om dit eerder na 'n voorsorgfonds of 'n nuwe pensioenfonds oor te dra. "Moenie daardie geld trek nie," sê Du Plessis. "Moenie in die versoeking kom om jou motor of jou huisverbandlening af te betaal nie. Stuur dit na 'n nuwe fonds."
*Stuur 'n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za














