Miljoene Suid-Afrikaners het óf nie genoeg aftreegeld óf geen aftreeplan nie. Maar twee navorsers redeneer dit is tyd om anders te dink oor spaar vir aftrede. Liesl Peyper stel vas wat hulle plan behels.

Hoe ver is eendag? Dié vierletterwoord pootjie menige werkende mens wat meen daar is nog oorgenoeg tyd om geld weg te sit vir "eendag as ek aftree".
Dit is juis daardie ingesteldheid wat daartoe lei dat so min Suid-Afrikaners kan bekostig om die tuig neer te lê.
Die 10X Aftreerealiteitsverslag vir 2019 is maar een van die talle studies wat die benarde toestand van Suid-Afrikaners se aftreebeplanning illustreer.
Dié peiling, wat in September verlede jaar uitgereik is, toon 67% van deelnemers het óf geen aftreeplan nie óf net 'n vae een.
Eendag is nou
Een van die grootste redes waarom aftreebeplanning op die langebaan geskuif word, is kortsigtigheid, of wat gedragswetenskaplikes noem "hede-vooroordeel" (present bias).

Dit beteken dat individue geneig is om aandag te gee aan hul onmiddellike behoeftes eerder as om te dink aan dit wat hulle in die toekoms gaan nodig hê.
"Die hede het 'n baie sterker ‘stem' wat jou aandag trek," sê Elze-Mari Roux, 'n navorser aan die Universiteit Stellenbosch.
"Die versoeking om dus korttermynbehoeftes te bevredig is die heeltyd daar, terwyl ‘die stem' van langtermynbehoeftes (soos spaar vir aftrede) baie sagter is."
Roux en haar kollega Johann de Villiers, albei verbonde aan die US se departement van ondernemingsbestuur, se navorsing het aftreebeplanning op sy kop gekeer deur die "eendag"-scenario van aftrede in "vandag" se terme uit te druk.
Die navorsingstudie het in 'n internasionale joernaal verskyn waarin die nuwe benadering tot aftreebeplanning uiteengesit word.
Dit sluit ook in 'n wiskundige formule sodat finansiële beplanners hul kliënte kan help om te bepaal watter gedeelte van hul inkomste hulle nou kan bestee terwyl die oorblywende deel vir aftrede gespaar kan word.
"Konvensionele aftreebeplanning kyk na die bedrag wat jy eendag gaan nodig hê by aftrede," sê Roux aan Rapport.
"Dit behels gewoonlik 'n enkelbedrag wat jy met aftrede gaan nodig hê en wat jy moet doen om eendag daardie bedrag te verwesenlik."
Roux en De Villiers se benadering verskil deurdat 'n individu gaan kyk na die vlak van besteding en leefstyl wat hy nou kan bekostig - ook genoem die volhoubare leefstylvlak.
As 'n persoon hiervolgens leef, sal hy of sy steeds genoeg kan spaar om dié leefstyl by aftrede te kan volhou.
Die fokus verskuif dus van "Wat gaan ek in die toekoms nodig hê?" na "Wat kan ek nou bekostig?" sê Roux.
Die nuwe benadering verskaf 'n eenvoudige antwoord.
Mense behoort hul besteding aan te pas tot op die leefstylvlak wat hulle nou kan bekostig.
Doen hulle dit nie, loop hulle die risiko om hul lewenstandaard in te boet wanneer hulle eers afgetree is.
"Ons het almal die idee dat ‘dinge oukei gaan wees'. Maar die geheim is om nou al gewoond te raak aan 'n volhoubare lewenstyl - nie later in die toekoms nie," sê Roux.
Die formule
Die wiskundige formule wat Roux en De Villiers ontwikkel het, bepaal wat 'n persoon nou kan bestee terwyl die oorblywende gedeelte vir aftrede gespaar word.
Die volgende dien as voorbeeld: 'n 45-jarige vrou beplan om tot 65 te werk.
Indien sy drie keer haar jaarlikse salaris as spaargeld bymekaar gemaak het, behoort sy 24% van haar huidige inkomste te spaar tot en met aftrede.
Dit beteken sy kan 76% van haar inkomste bestee terwyl sy genoeg geld sal spaar om teen dieselfde koers geld uit te gee wanneer sy aftree.
Die formule neem die volgende in ag:
- Ouderdom;
- Die ouderdom waarop sy beplan om af te tree;
- Die salaris wat sy sal verdien; en
- Die gedeelte wat sy vir aftrede opsysit.
Die oorblywende gedeelte nadat bogenoemde in ag geneem is, is vir haar algemene lewenskoste.
Daar word ook aangeneem dat haar salaris dieselfde sal bly vir die duur van indiensneming tot haar aftrede terwyl sy sal aanhou om 'n gedeelte van die salaris vir aftrede te spaar.
Hoe later, hoe kwater
Uiteraard sal mense wat nog min of geen geld vir aftrede gespaar het nie, baie meer moet spaar om in te haal.
As 'n mens veronderstel dieselfde 45-jarige het nog niks geld weggesit nie, sal sy 38% van haar huidige inkomste moet spaar en net 62% kan bestee.
"Dit kan miskien na baie geld klink om 38% van jou salaris te moet spaar," sê Roux.
"Maar dit wys dat jou aftrede nog nie 'n verlore saak is nie en dat jy vir jou gebrek aan spaar kan vergoed deur jou huidige besteding te verminder."
Met hul navorsing wil Roux en De Villiers finansiële beplanners help om op 'n verstaanbare manier die uitdaging van spaar aan hul kliënte oor te dra.
"Ek hoef nie te weet wat jy verdien nie. Al wat ek moet weet, is hoe lank is dit voordat jy gaan aftree en hoeveel van jou jaarlikse salaris het jy al gespaar vir aftrede."
Met die benadering hoop Roux en De Villiers dit sal finansiële beplanners in staat stel om vir hul kliënte 'n omgewing te skep waarin hulle teenswoordig die bes moontlike besluite kan neem vir 'n scenario in die toekoms.



















