Aftrede

Bloedneus vir Capitec in saak oor Transnet-pensioen

Capitec het opdrag van die hooggeregshof in Gauteng gekry om sy toestemming te gee vir 'n skikking tussen 'n Transnet-pensioenfonds en die Gupta-verwante maatskappy Regiments Capital.

Meer as R600 miljoen kan nou terugvloei na die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) wat weens staatskaping verlore geraak het. Foto: Reuters
Meer as R600 miljoen kan nou terugvloei na die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) wat weens staatskaping verlore geraak het. Foto: Reuters (� Karoly Arvai / Reuters)

Dit maak die pad oop vir meer as R600 miljoen wat kan terugvloei na die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) wat weens staatskaping verlore geraak het.

Die saak spruit uit 'n ingewikkelde reeks transaksies en ooreenkomste waarin Capitec nie wou toestemming gee dat Capitec-aandele wat Coral Lagoon, 'n verwante maatskappy van Regiments, besit het, verkoop kon word sodat Regiments 'n skikkingsbedrag aan die TTVVF kon terugbetaal nie.

Volgens die pensioenfonds was Capitec se toestemming die enigste oorblywende stap wat nodig was om sy skikking met Regiments af te handel.

Die aandele wat Coral Lagoon besit, verteenwoordig net sowat 0,7% van Capitec se bemagtigingsgradering, het regter Bashier Vally in sy uitspraak gesê. Capitec het aanvanklik geweldig stof opgeskop oor die verkoop van die aandele, want hy het aangevoer dit sal sy bemagtigingstatus verwater.

Vally het beslis Capitec moet die regskoste van die TTVVF betaal. Hy het beveel Capitec moet nou toestemming gee vir die verkoop van 810 230 Capitec-aandele aan die TTVVF binne twee werkdae vanaf die hofbeslissing.

Hy het verklaar dat Capitec se weiering om toestemming te gee vir die verkoop van die betrokke aandele, sowel kontrakbreuk as 'n oortreding van goeie trou teenoor Coral Lagoon is.

Dit blyk Capitec het later aangebied om wel die verkoop van 415 000 aandele goed te keur, maar Vally het beslis met die string streng voorwaardes wat Capitec daaraan geheg het, kan dit nie kwalifiseer as in goeder trou teenoor die TTVVF of Coral Lagoon nie.

Vally sê in sy uitspraak deur te weier om die verkoop van die aandele toe te laat, beteken dit Capitec is heel gewillig om Regiments as aandeelhouer te behou, al erken hy dat Regiments meer as R1 miljard van die arm pensioenarisse van die TTVVF gesteel het. "Die logiese gevolgtrekking uit sy standpunt is die verlies van 0,7% van sy bemagtigingstatus is so belangrik dat hy eerder sy bande met 'n aandeelhouer wil behou wat deur oneerlikheid aangetas is as om die bemagtigingsgradering te verminder."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM