
Die vakverbond Cosatu gebruik die Covid-19-pandemie as nuwe verskoning om die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en die staatspensioenfonds (GEPF) te stroop, waarsku die waghondgroep AMAGP, wat die GEPF monitor.
Cosatu het onlangs geëis die regering moet bydraes van die OBK, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa), die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) en private pensioenfondse gebruik om finansiële verligting te bring aan werkers wat weens die impak van die koronapandemie huis toe gestuur word.
Adamus Stemmet, woordvoerder van die AMAGP, sê Cosatu het onlangs nog voorgestel dat die regering R254 miljard van staatsamptenare se aftreegeld asook van ander fondse wat die OBK bestuur, moet gebruik om die helfte van Eskom se skuld oor te neem. Die eintlike rede is om die opgeblase arbeidsmag by Eskom te beskerm, waarvan die meeste Cosatu-lede is.
Stemmet wys daarop dat die meer as R1 800 miljard se bates van die GEPF wat die OBK bestuur wel baie indrukwekkend is, maar dié bedrag kwyn tans vinnig. Volgens hom het die AMAGP al voorheen gewys die OBK kan nie bekostig om R254 miljard van dié pensioenfondsgeld in Eskom te pomp nie, en Cosatu se nuwe voorstel kan die fonds laat sink, met 'n gevolglike groot las op die belastingbetaler.
Stemmet wys daarop dat die GEPF toesig hou oor sy lede se aftreegeld. Die OBK is die staatsbeheerde entiteit wat bloot as beleggingsagent vir die GEPF optree. Die OBK, die regering en Cosatu besit nie die geld in die GEPF nie. Die eienaars van die GEPF is die pensioenarisse en huidige lede wat maandeliks bydraes betaal.
Die OBK het 'n direksie wat deur die regering aangestel word en waarop vakbonde ook verteenwoordiging het. Die helfte van die raad van trustees van die GEPF word deur die regering aangestel, en die res bestaan ook grootliks uit vakbondverteenwoordigers.
GEPF nie deur arbeidswette gereguleer
Met Cosatu wat op albei rade verteenwoordiging het en omdat Cosatu boonop 'n alliansievennoot van die ANC-regering is, neem Cosatu nou aan dat hy daarop geregtig is om geld te eis van die GEPF om ondernemings soos Edcon of staatsondernemings soos Eskom te red, sê Stemmet.
Die vals aanname is dus dat Cosatu die meerderheidstem het oor wat met die GEPF se geld gedoen kan word.
Stemmet wys daarop dat die GEPF deur sy eie wet gereguleer word en nie deur die arbeidswette wat vakbonde reguleer nie. Lidmaatskap van die GEPF word ook nie deur vakbondlidmaatskap bepaal nie. Sowat 430 000 pensioenarislede van die GEPF word boonop nie deur arbeidswette gereguleer nie en word ook nie meer deur vakbonde verteenwoordig nie. Die OBK moet steeds sy beleggingsmandaat van die GEPF se trustees kry en besit nie die pensioenarisse se geld nie.
Volgens Stemmet het Cosatu uiteraard nie sy lede geraadpleeg oor die gebruik van hul aftreespaargeld vir ander doelwitte as om hulle tydens aftrede van lewensonderhoud te voorsien nie.
Cosatu het ook nog nie sy eie reserwes aangebied as finansiële verligting vir sy lede of vir enige ander reddingsboei nie.
Groot bedrae geld van die GEPF is reeds in sukkelende staatsondernemings belê, soos die sowat R90 miljard se Eskom-effekte waarvan 67% deur 'n staatswaarborg gedek word, en nog R94 miljard in ander staatsondernemings.
Dié beleggings vorm volgens AMAGP sowat 10% van die GEPF se bates en dit is onseker of dit onder die huidige omstandighede 'n opbrengs sal lewer.
Die OBK sal deur sy aansienlike beleggings in Obsa en die NOK in elk geval pensioenfondsgeld onregstreeks bydra tot die regering se plan vir finansiële verligting, sê Stemmet.




















