
Die omstrede oorbruggingsfinansiering van R5 miljard uit die staatsdiens se pensioenfonds (GEPF) wat vir 'n maand aan die sukkelende Eskom geleen is sodat hy sy werk kan doen, sal glo teen Vrydag (16 Februarie) terugbetaal word.
Ivan Fredericks, hoofbestuurder van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), sê die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het vandeesweek dié datum vir die terugbetaling gegee in gesprekke met die VSA.
"Hulle het ook onderneem om die VSA op die hoogte te hou. Ons is nie seker oor die fyner besonderhede soos die rentekoers waarteen die geld aan Eskom geleen is nie, maar daar moet dividende vir die GEPF wees op die R5 miljard."
Volgens die VSA en die Vereniging vir die monitering en voorspraak van staatspensioene (AMAGP) is dit die eerste keer dat so 'n oorbruggingsgerief verskaf word.
Albei sê die GEPF het nie 'n mandaat om geld uit te leen nie, maar moet langtermynbeleggings doen wat die beste opbrengs vir lede van die pensioenfonds lewer.
Sedert die GEPF en OBK Dinsdag in 'n gesamentlike verklaring aangekondig het die geld is as oorbrugging aan Eskom verskaf met 'n volle regeringswaarborg, is heelwat vrae gevra.
Adamus Stemmet, woordvoerder van die AMAGP, beweer sowat R20 miljard van die GEPF se blootstelling aan Eskom-effekte word nie deur die regering gewaarborg nie. Dit kon nie by die OBK geverifieer word nie.
Die GEPF se blootstelling aan Eskom-wissels en -effekte beloop ná die lening sowat R85 miljard.
Die VSA wil ook weet waar die R5 miljard afgeknyp is.
Nie die GEPF of die OBK het Rapport se vrae hieroor of oor die besonderhede van die ooreenkoms beantwoord nie. Hulle het ook nie antwoorde gegee oor presies wanneer Eskom vir die geld gevra het of oor presies hoeveel gevra is nie.
'n Woordvoerder van die GEPF het aan City Press gesê die R5 miljard val binne die mandaat vir geldmark-instrumente en het dus nie direksiegoedkeuring nodig nie.
Fredericks sê hulle is geskok en teleurgesteld dat die OBK en GEPF besluit het om Eskom te help sonder om vakbonde te raadpleeg. Hy sê hy het ook betroubaar verneem die GEPF-bestuur het nie enigsins met die raad van trustees oor die lening gepraat nie.
Die VSA win regsadvies in en kry selfs internasionale steun om soortgelyke optrede in die toekoms te voorkom, sê Fredericks.
Die AMAGP sal dié week op sy jaarvergadering besluit oor verdere optrede, wat die versoek om 'n kommissie van ondersoek of 'n hofinterdik kan insluit, sê Stemmet.
Volgens Fredericks is hulle bekommerd omdat hulle nog geen reaksie van die minister van finansies gekry het op 'n brief verlede jaar dat die eienaars van die GEPF deur werknemerverteenwoordigers in die OBK-direksie wil dien nie.
"Minister (Malusi) Gigaba sou ons in Januarie daaroor ontmoet het, maar het nie. Ons gee die minister nou tot môre (12 Februarie) om te reageer."
Alf Lees, die DA se adjunk-woordvoerder oor finansies, sê met die oorbruggingsgerief oortree die OBK sy mandaat, wat hom verhoed om te belê in instansies wat rommelstatus het.
"Al die kredietgraderingsagentskappe gee Eskom rommelstatus. Eskom is net in Januarie nog afgradeer," sê hy in 'n verklaring waarin hy 'n verduideliking van die OBK hieroor eis.
Sowel die AMAGP as VSA wil weet waarom die geld aan Eskom geleen is in weerwil van 'n ooreenkoms in Oktober verlede jaar by die parlement se staande komitee oor finansies dat GEPF-geld nie in staatsbeheerde ondernemings (SBO's) belê kan word nie.
Die voorsitter, Yunus Carrim, het met vakbonde saamgestem dat sukkelende SBO's swak bestuur word, gebrekkige korporatiewe beheer het en nie goeie opbrengste vir die GEPF sal lewer nie.
Onlangs is berig Eskom het R20 miljard nodig om die ligte tot einde vandeesmaand aan te hou.
Luidens die OBK/GEFP-verklaring Dinsdag het Eskom die OBK genader oor ernstige likiditeitsprobleme.
"Ná die versoek het die OBK sy eie noulettendheidsondersoek gedoen en toestemming verkry in ooreenstemming met sy mandaat en vereistes vir goeie korporatiewe beheer."















