Die staatspensioenfonds (GEPF) het 'n heelwat laer verhoging vir 2020 aan sy lede toegestaan, maar sê dit is steeds in pas met inflasie.

GEPF-lede kan slegs 'n verhoging van 3,6% in hul maandelikse toelae in 2020 verwag.
Die GEPF sê Maandag in 'n verklaring hierdie koers is egter steeds meer as die 75% van die inflasiekoers wat hy verplig word om as minimum verhoging toe te ken.
Maar dis ook net gedeeltelik waar.
Inflasie in 2019 het op 4,1% vir die jaar te staan gekom, maar die GEPF bereken inflasie slegs vir die boekjaar tot einde November, en nie tot einde Desember soos Statistieke Suid-Afrika (SSA) nie.
November se inflasiekoers was die laagste vir die hele 2019 en het 3,6% beloop ná vier opeenvolgende maande van dalings, wat eers in Desember 'n keerpunt bereik het.
Die GEPF het in 2019 'n verhoging van 5,2% toegestaan aan sy lede, al was inflasie tóé net 4,6%.
Dit volg nadat daar in Mei verlede jaar reeds kommer oor die volhoubaarheid van die fonds ontstaan het en dit begin blyk het asof die aktuariële waardasie van die GEPF 'n afwaartse neiging toon, wat wys op die moontlikheid dat pensioentrekkers nie noodwendig meer hul inflasie-gekoppelde verhogings sou kon kry nie.
Die betreklike nuwe Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM) ag die GEPF se verhoging as 'n "klap in die gesig".
Hulle het gehoop vir 'n verhoging van 10%.
"Ons mense sukkel om kop bo water te hou te midde van die ondraaglike Suid-Afrikaanse ekonomie met sy steeds stygende pryse," sê David Jantjies, adjunkvoorsitter van die CSPRM, Dinsdag in 'n verklaring.
Dié organisasie eis nou dat die GEPF voortaan met hom oor die verhogings moet onderhandel.



















