
Die konstitusionele hof het Donderdag uitspraak voorbehou oor die spesiale verlof tot appèl van Transnet-pensioentrekkers om een van hul eise as deel van hul groepseis teen Transnet en sy pensioenfondse toe te laat.
Dit beteken die hof gaan nou eers dink oor die saak voordat hy mettertyd sy uitspraak sal gee.
Die pensioentrekkers is die afgelope meer as vier jaar al betrokke in 'n regspoging om 'n groepseis van meer as R80 miljard teen Transnet en sy pensioenfondse in te stel weens die karige 2%-per-jaar verhoging waarmee die net meer as 50 000 pensioentrekkers en begunstigdes moet oorleef.
Weens inflasie van meer as 5% verarm die pensioentrekkers toenemend sedert die vroeë 2000's toe die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds en die Transnet Vervoerpensioenfonds hul jaarlikse verhogings tot 2% beperk het weens 'n geldknyp wat uit swak beleggingsbesluite gespruit het.
Die spesifieke eis waaroor die konstitusionele hof Donderdag vertoë aangehoor het, gaan oor beloftes wat aan pensioentrekkers in die laat 1990's gemaak is dat hul pensioene vir altyd met minstens 75% van die inflasiekoers verhoog sal word.
Transnet het vroeër in die hooggeregshof beswaar gemaak teen die insluiting van dié eis en die hooggeregshof het Transnet gelyk gegee. Die pensioentrekkers het daarna tot by die konstitusionele hof appèl aangeteken.
Transnet dui in sy jaarverslag aan hy is vol vertroue dat die groepseis nie sal slaag nie, maar pensioentrekkers is vasbeslote om hul dag in die hof te kry.















