Aftrede

Huiskoop met aftreegeld? Slegte plan, sê tesourie

Dit is glad nie 'n goeie idee dat pensioenfondslede hul aftreegeld kan gebruik as sekuriteit vir huislenings nie.

'n Privateledewetsontwerp diens tans in die parlement wat voorstel dat mense hul pensioenfondsgeld kan gebruik as sekuriteit om 'n huislening te kry. Foto: iStock
'n Privateledewetsontwerp diens tans in die parlement wat voorstel dat mense hul pensioenfondsgeld kan gebruik as sekuriteit om 'n huislening te kry. Foto: iStock

Só meen die nasionale tesourie oor die privateledewetsontwerp van dr. Dion George van die DA wat wil hê mense moet in tye van krisis soos Covid-19 toegang kry tot hul aftreegeld as sekuriteit om huislenings te kan aangaan.

Mense kan hul hele pensioen só verloor, het Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal van die tesourie, egter Woensdag gewaarsku in 'n openbare sitting van die parlement se staande komitee oor finansies oor dié wetsontwerp.

Suid-Afrikaners spaar reeds veels te min vir hul aftrede, met 10X Investments se onlangse peiling wat wys 49% van Suid-Afrikaners het nie eens 'n aftreeplan nie, en net 30% van Suid-Afrikaners voel tevrede met hul huidige aftreeplan.

Momoniat waarsku die wetsontwerp sal mense se skuldlas vergroot, en die voorgestelde wetgewing verduidelik ook nie hoe presies die proses moet werk en hoe dit met die Nasionale Kredietwet skakel nie.

Dit sal mense verwar oor waarom hulle toegelaat word om skuld aan te gaan vir behuising, maar nie vir iets anders nie.

Momoniat meen ook die potensiaal bestaan dat die skuiwergat om pensioenfondsgeld as sekuriteit vir huislenings te gebruik, vir misbruik oop is. Dit kan die koste vir pensioenfondse en ander lede verhoog.

Die wetsontwerp ignoreer volgens hom die belastingimplikasies, en vroeë onttrekkings van aftreegeld kan die belastingaansporingstelsel vir misbruik oopstel.

Hy het gevra die wetsontwerp moet verwerp word want die tesourie werk reeds aan omvattende wetgewing waaroor daar nog by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) beraadslaag word.

George se pensioenfondswysigingswetsontwerp stel voor dat mense tot soveel as 75% van die waarde van hul geregistreerde pensioenfonds moet kan gebruik as sekuriteit vir 'n huislening in tye van ernstige finansiële druk, soos met die Covid-19-pandemie.

Dr. Sharon Smulders, projekdirekteur vir belasting by Saica.
Dr. Sharon Smulders, projekdirekteur vir belasting by Saica.

Maar Momoniat het aangevoer die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) het juis verlede jaar toegelaat dat mense tydelik hul bydraes tot pensioenfondse kan staak as 'n manier om finansiële verligting te bied. Volgens hom het George geen sosio-ekonomiese of finansiële impakstudie voorsien om sy wetsontwerp te ondersteun en te motiveer nie. Hy meen die wetsontwerp is te riskant.

Cosatu

Die vakverbond Cosatu het egter dié keer met die DA saamgestem en die wetsontwerp verwelkom. Dit is 'n stap in die regte rigting, het Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, gesê. Baie werkers het lone en werksgeleenthede verloor weens die pandemie en baie het hul huise verloor. Tog het baie van hulle spaargeld beskikbaar in hul pensioenfondse. Cosatu het dus self al in Mei verlede jaar die tesourie gevra om wetgewing te wysig "sodat werkers beperkte bedrae in hul pensioenfondse kan gebruik om te oorleef in dié ongekende ekonomiese krisis".

Parks meen wel die voorgestelde 75% is te hoog en kan werkers met baie min aftreegeld laat teen die tyd dat hulle wil aftree. Onttrekkings of lenings uit pensioenfondse deur werkers wat inkomste verloor of wat geldelik swaarkry, behoort boonop nie belas te word nie, het hy gesê.

Volgens hom "maak dit nie saak of dit 'n privateledewetsontwerp of wetgewing van die tesourie is nie, solank die saak vinnig afgehandel word sodat desperate werkers hulp kan kry in hul uur van grootste nood".

Saica

Dr. Sharon Smulders, projekdirekteur vir belasting by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica), het gewaarsku oor die onduidelikhede in die wetsontwerp, hoe leningterugbetalings gaan werk, of hoe dit belas gaan word. Sy het ook gewaarsku oor die land se lae spaarkoers, en dat minder as 10% van Suid-Afrikaners genoeg spaar vir aftrede.

Asisa

Die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) het daarop gewys net 2% van die lede van pensioenfondse wat wel huisleningwaarborge aan hul lede bied, maak daarvan gebruik, en 80% van sulke huisleningaansoeke by banke word afgekeur weens kredietreëls. Asisa glo dus nie dis 'n goeie idee nie.

As die wetsontwerp wel realiseer en dit word grootskaals benut, kan dit aftreefondse dwing om meer likiede bates as tans te hou.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM