Aftrede

‘Maar ek het mos ’n pensioenfonds’

Die meeste mense in 'n formele werkomgewing is lid van 'n pensioenfonds, 'n voorsorgfonds of korporatiewe annuïteit, hierna eenvoudigheidshalwe gesamentlik na verwys as 'n "pensioenfonds".

Andró Griessel
Andró Griessel

My ervaring is dat dit vir sodanige werknemers (en werkgewers) 'n groot mate van gerustheid verskaf dat hulle, mits hulle vroeg genoeg begin bydra het, kan verwag om eendag 'n waardige aftrede te geniet uit die opbrengs van die fondse.

My onlangse kontak met twee sulke fondse het my ongelukkig net weer herinner dat hierdie gevoel van gerusstelling in baie gevalle nie geregverdig is nie.

Laat ek begin deur te sê ek dink die probleme waarna ek kortliks gaan verwys, hoofsaaklik by die kleiner skemas (in klein en middelslag-ondernemings) 'n probleem blyk te wees, maar nie uitsluitlik so nie.

Groepskema 1 by Versekeraar A (34 lede)

My ervaring met dié versekeraar is dat dít wat op die spreekwoordelike etiket staan, dikwels nie ooreenstem met wat in die blikkie aangaan nie.

In dié kliënt se geval is sowel die groepversekering (waarmee ek nie 'n probleem het nie) as die aftreevoorsiening (waarmee ek wel 'n probleem het) by die betrokke versekeraar.

'n Maklike manier om te toets of die beloftes wat gemaak word oor opbrengste en gelde wel die waarheid is, is om 'n interne-opbrengskoers-berekening aan te vra.

Hierdie berekening is baie soos om kaal en sonder grimering voor die wêreld te staan. Dit is baie moeilik om jou "foute" weggesteek te kry agter die normale maniere wat ons gebruik om dit te verdoesel.

Die interne-opbrengskoers-berekening, met ander woorde wat die werknemers wat lid van die fonds is, se werklike opbrengste was, het die volgende gewys:

  • Die hooflid en sowat 40% van die lede dra reeds van middel 2011 af by tot die fonds. Al hierdie mense se opbrengskoers was oor die afgelope bykans tien jaar laer as inflasie.
  • Nie 'n enkele lid wat sedert 2014 hierin belê het, kon 'n positiewe opbrengs oor die sewejaartydperk behaal nie. Met ander woorde, ná sewe jaar se by­draes het hulle mínder as wat hulle ingesit het.
  • Ek het my eie bydrae tot ons werk se "pensioenfonds", in die vorm van 'n korporatiewe an­nuïteit wat regsteeks by 'n bekende beleggingshuis gedoen is, met die opbrengs­te gaan vergelyk wat die lede van die fonds verdien het. Dit was gemiddeld 6,75% per jaar beter as hierdie lede s'n.

'n Projeksie met die aanname dat hierdie onderprestasie sal voortduur, dui aan dat van die nuwe lede tot die fonds wat nog baie jare moet bydra, met tot 70% tot 80% minder gaan opeindig as waarmee hulle behoort op te eindig.

Groepskema 2 by Versekeraar B (500 lede)

Die probleem by dié skema is nie soseer die vertoning van die fondse nie. Die probleem is dat 20% van die premie bestee word aan risikodekking en koste en dat slegs 80% van die lid se premie uiteindelik vir aftrede belê word.

Moenie net aanvaar jou pensioenfonds is voldoende nie. Foto: iStock
Moenie net aanvaar jou pensioenfonds is voldoende nie. Foto: iStock

Die waarskynlikheid dat die kliënt wel aftree-ouderdom bereik, is beter as enige van die ander nare goed wat oor jou pad kan kom. Maar uiteindelik, wanneer jy jou aftrede moet invaar met net jou pensioenfondsgedeelte, besef jy baie gou jy het eenvoudig nie genoeg wind in jou seile om jou bestemming te haal nie.

In dié spesifieke geval is daar oor 'n tydperk van ses jaar reeds R175 159 afgetrek van die lid en oorbetaal aan die skema terwyl sy fondssaldo op slegs R112 619 staan!

As hy byvoorbeeld vandag sou bedank by hierdie werkgewer en aanbeweeg na 'n nuwe een, kry hy eenvoudig die R112 619 om oor te dra na 'n bewaringsfonds of sy nuwe werkgewer se skema terwyl hy van voor af risikodekking elders bekom.

Herhaal die proses 'n paar keer in jou lewe, en jy kan sien waarop dit afstuur.

Daar is verskeie ander haakplekke ten opsigte van werkgewerskemas wat ek graag vervat in 'n paar punte.

Wat staan jou te doen as werkgewer

As jy reeds die belangrike eerste stap gedoen het om vir jou werknemers groepvoordele aan te bied, moet jy 'n stappie verder gaan om seker te maak hulle is in 'n skema wat hulle in staat sal stel om eendag met waardigheid af te tree of dat die voordele gepas is as 'n ongewensde gebeurtenis soos die dood of ongeskiktheid sou toeslaan.

Ons sien gereeld die volgende probleme:

  • Lede se beleggings is dikwels in 'n verstek-opsie, wat gewoonlik die versekeraar se eie produk is. Dié fondse is dikwels duur en vaar relatief swak vergeleke met hul mededingers. Maak seker dat jou werknemers verstaan wat die verskillende beleggingsopsies is. Baie mense is ook hopeloos te konserwatief belê weens die verstek-opsies.
  • Daar is dikwels nie benoemingsvorms nie en wanneer 'n werknemer sterf, breek 'n hewige geveg dalk uit oor wie die voordele moet ontvang. Intestate (omdat die oorledene nie 'n testament het nie) erf-opvolging is 'n groot probleem waar daar kinders by verskeie gades is.
  • Daar word nooit 'n bepaling van die werklike ná-koste-opbrengste gedoen nie, wat veroorsaak dat mense aanhou met bydraes tot 'n skema soos in die eerste voorbeeld.
  • Dink mooi na oor die sogenaamde geteikende-aftree-ouderdom-beleggings. Ek stem glad nie saam dat beleggings outomaties uit die mark gehaal moet word namate jy aftrede nader nie. Dink byvoorbeeld aan 'n geval waar iemand oor die laaste vier jaar van sy of haar werk­lewe stelselmatig uit die mark gehaal is met die laaste gedeelte nou onlangs. Jy sou van 2016 tot 2020 bykans geen groei gekry het nie en toe uit die mark gewees het vir die massiewe herstel wat oor die afgelope 12 maande plaasgevind het. Die impak op die lid se totale aftreegeld sou astronomies negatief gewees het.

Wat staan jou te doen as werknemer

Indien jou aftreevoordeel geprojekteer word in toekomstige waarde, vra die adviseur van die skema om dit vir jou uit te druk in vandag se koopwaarde, asook watter tipe inkomste jy (in vandag se koopwaarde) daaruit sal kan ontvang. Dit sal die omvang van jou tekort baie vinnig duidelik maak.

Belangrik: Vra vir 'n interne- opbrengskoers-berekening op jou pensioenfondsbydraes sedert die aanvang, asook wat inflasie oor die ooreenstemmende tydperk was. Indien jou opbrengs nie inflasie met minstens 4% oorskry nie, maak alarm!

Maak seker jou werkgewer het 'n benoemingsvorm op rekord ingeval jy te sterwe sou kom terwyl jy steeds 'n werknemer is.

In teenstelling met die gewilde opvatting is jou woonhuis nie jou grootste finansiële bate nie, maar wel jou pensioenfonds (of jou voorsiening vir aftrede).

Oor die algemeen ervaar ek 'n baie blasé houding oor wat presies in die fondse aangaan (aan sowel die werkgewer as die werknemer se kant).

Dit sal albei loon om hul houding hieroor te verander.

  • Andró Griessel is 'n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Pro- Vérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM