
Uit al die onderwerpe oor finansiële beplanning waaroor lesers aan my skryf, is daar 'n handvol wat uitstaan.
Aftrede is een. Dis 'n bekommernis vir baie.
Met reg ook, want glo my, min mense kan werklik bekostig om af te tree en hoop om hul lewenstyl soos voor aftrede vol te hou. Spaar meer geld terwyl jy 'n inkomste verdien, is die maklike antwoord. Dit gaan egter oor meer as dit.
Dis net genoeg as jy vroeg begin, en aanhou
In die Sanlam Benchmark 2021 se Insights-publikasie lees ek die afgelope week dat mense wat lid is van 'n werkgewer-aftreefonds tussen 16,57% en 17,7% van hul inkomste tot aftredevoorsiening bydra. Op die oog af sou 'n mens kon sê dit is redelike voorsiening. Maar dan wil ek bysê, dit is net redelik as jy van jou eerste salaris hierdie bydrae kan volhou tot by aftrede.
En selfs dan, nie aftrede op 55 jaar oud nie, aftrede op 65 jaar oud. Met sogenaamde vroeë aftrede skiet jy jouself lelik in die voet. En sommer jou wederhelf en dalk jou groter familie ook. Ek persoonlik dink dis sommer dom (ek het dit ook al gesê).
Dis ook risikodekking
Die ander probleem is, 'n deel van hierdie bydrae tot jou aftreefonds is nie beskikbaar vir groei vir aftredevoorsiening nie. Daai deel dek jou finansiële risiko's tot by aftrede. Aan die een kant 'n goeie ding, want mense het dekking nodig. Nie almal leef tot aftreedag toe nie en wie gaan na jou naasbestaandes omsien as jy wegval? Of as jy ongeskik raak en nie meer kan werk nie, waarvan gaan jy en jou gesin leef?
Die versekeringsdeel van jou aftreefonds is dus van die uiterste belang. Ek lees ook in dieselfde publikasie waar Sanlam sê dat in die onderste 20% van die inkomstegroepe altesame 90% van werknemers geen ander dekking het as hul aftreefonds-risikodekking nie. Net 10% van hierdie werkers neem addisionele versekering uit.
Die situasie lyk heel anders as jy kyk na die boonste 20% van die inkomstegroepe. Net 46% van hulle maak staat op net aftreefonds-risikodekking. Die ander 54% maak seker met addisionele versekering.
Daar's die onverantwoordelikes
Oor die bydraekoerse kan 'n mens seker heeldag redeneer. Bekostigbaarheid deur die meer vermoëndes sou een argument wees.
Maar, aan die ander kant is daar heelwat mense wat buite hul vermoë volgens inkomste leef en te hoog wil vlieg in gewaande rykdom. Hulle kan sekerlik tog persentasiegewys behoorlike voorsiening maak vir finansiële risiko's. Dink maar self hieroor, ek laat dit daar.
Die koste van risikodekking is nie die enigste manier waarom so baie sukkel om ná aftrede die pot aan die kook te hou nie. Daar is die ou storie van bedank en gaan blaas dan die pensioengeld, tree af en neem jou volle tweederdes in kontant en gee dit vir die kinders, of hou vakansie. En so meer, daar is baie aftree-foute wat ek kan uitlig.
My raad vandag aan mense wat hul eie aftredebeplanning wil doen.
Hier is enkele gedagtes, oorweeg waar dit pas en beplan dan om dit.
- Aanvaar dat jou aftreefonds alleen nie genoeg gaan wees om 'n inkomste gelyk aan jou salaris te kan voorsien tot die dag dat jy sterf nie. Jy gaan moet addisioneel spaar. Nuwe motors en braaikamers is nie belangrik die dag as jou geld op is en jy nie meer kan werk nie. Wie gaan dan voorsien? Die kinders?
- Werk solank jy kan. Ek kan byvoorbeeld geen rede sien waarom 'n prokureur, dokter, ouditeur, finansiële beplanner, joernalis, noem maar op, hoef af te tree nie. Inkort, ja, maar aftree, nee.
Liewe mens, jy kry eers wysheid op 60, hoekom dit nou, saam met jare lange ervaring, sommer weggooi? Gebruik dit en maak geld.
- En in dieselfde trant, ek sien te veel mense met 'n ambag wat vroeg aftree.
Ek had nog altyd die siening dat iemand met 'n ambag wat sy of haar storie ken, nooit hoef honger te ly nie. Daar is geen belegging ter wêreld wat kan kers vashou by jou eie verdienvermoë nie.
- Van verdienvermoë gepraat, en dit hang saam met wat ek hierbo sê van versekering, maak seker jy het genoeg lewensdekking en gevreesdesiektedekking (waaroor ek verlede week hier geskryf het), selfs vir ná aftrede. As jy 'n ná-aftrede-beroep volg en jy val weg, val jou inkomste ook weg. Kan jou man of vrou sonder daardie inkomste leef tot sy of haar oudag?
- En as die polisse bietjie duur raak?
Moenie lewensdekking kanselleer nie.
Laat jou kinders dit oorneem. Dit is gewaarborgde kapitaal. Dood gaan jy dood.
Jy gaan nie "eendag iets oorkom nie", jy gaan dood.
Hoekom geld wat jy jare lank bygedra het sommer weggooi as iemand daaruit voordeel kan trek?
Opsommend, aftredevoorsiening gaan oor genoeg geld vir inkomste ná aftrede, maar versekering sorg vir daardie dele in die aftreeplan waarvoor jyself nie kon voorsien nie.
- Nico van Gijsen, 'n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en 'n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.




















