Die hoop op 'n 15%-bonus vir vanjaar vir Transnet se verarmende pensioenarisse begin taan, want geen bevestiging kon nog gekry word of die Transnet-direksie die versoek vir dié bonus goedgekeur het nie.

Transnet het met die publikasie hiervan nog nie op navrae oor die aangeleentheid reageer nie.
Naas Rossouw, komiteelid van die Transnet Pensioenaris-aksiegroep, het by navraag laat weet hy het self regstreeks navraag gedoen by die Transnet-pensioenfonds, maar kon ook nie 'n antwoord daaroor kry nie.
Dit blyk die nuwe direksie van Transnet, wat op Woensdag 5 September 'n spesiale vergadering gehou het nadat die geskeduleerde direksievergadering van 31 Augustus uitgestel is, het meer gefokus op ander dringende sake wat hulle tans besig hou.
Dit sluit in die skorsing van topamptenare weens hul beweerde betrokkenheid by die omstrede lokomotiefkontrak van meer as R50 miljard wat in 2014 met China South Rail aangegaan is.
Na verneem word het die direksie wel ook die moontlike skikking met pensioenarisse in die groepsgeding teen Transnet en sy pensioenfondse bespreek.
Transnet se pensioenfondse verhoog sedert die vroeë 2000's pensioenarisse se pensioenuitbetalings met net 2% per jaar weens 'n geldtekort. Omdat die fondse sedertdien in 'n mate finansieel herstel het, kon Transnet sedert 2009 van tyd tot tyd ad hoc bonusse aan die pensioenarisse uitbetaal.
Dié bonusse het die afgelope paar jaar gewoonlik 10% bedra en is gewoonlik in November betaal. Vanjaar het die pensioenfondstrustees gevra vir 'n bonus van 15%.















