
Dr. Dan Matjila gaan op die oomblik nêrens nie.
Matjila het Donderdag aan joernaliste gesê hy weet nie waar die gerugte vandaan kom dat hy geskors gaan word nie.
Dit spruit uit 'n berig deur die nuusdiens Bloomberg wat anonieme bronne aanhaal wat beweer Matjila, uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie, sal straks binnekort geskors word hangende 'n ondersoek na sy rol in omstrede beleggingsbesluite by die OBK, wat R1 900 miljard se bates bestuur namens die staatspensioenfonds en die Werkloosheidsdversekeringsfonds.
Matjila het Donderdag die parlement se staande komitee oor finansies se openbare sitting bygewoon waar twee wysigingswetsontwerpe bespreek is wat ten doel het om korporatiewe bestuur en deursigtigheid by die OBK te verbeter.
Op 'n vraag ná die sitting of hy meen die OBK se onlangse belegging in Ayo Technologies was verstandig, het Matjila gesê dis 'n goeie belegging, en die tyd sal leer hoe dit vaar, soos enige ander belegging.
Ayo Technologies, 'n inligtingstegnologiemaatskappy wat ontbondel is uit Africa Empowerment Equity Investments wat voorheen as Sekunjalo Investments bekend gestaan het, het in Desember teen R43 op die JSE genoteer. Die aandeelprys verhandel erg wisselvallig. Dit was vir die eerste paar maande rondom R40, maar het op 26 Februarie skielik van R41 tot R25 getuimel, maar net die dag daarna teruggeskiet tot R35.
In Maart en April het die aandeelprys weer relatief onveranderd, en met lae verhandelingsvolumes, teen R43 verhandel, maar van 18 April tot 30 April weer bykans ineengestort tot R24. Vandeesweek (op 29 Mei) het Ayo weer skielik tot R41 opgeskiet, maar Woensdag en Donderdag skerp geval tot die huidige R30.
Volgens Matjila is hy tevrede met die manier waarop die OBK bedryf word want sy kliënte is tevrede.
Volgens Matjila is hy tevrede met die manier waarop die OBK bedryf word want sy kliënte is tevrede. Hy sê hy is al 13 jaar by die OBK.
Hy is in Desember 2014 as uitvoerende hoof aangestel en dien sedert 2005 as direkteur. Hy het 'n doktorsgraad in wiskunde aan Wits. Voor sy aanstelling as uitvoerende hoof was hy beleggingshoof by die OBK onder Elias Masilela, die vorige hoof.
Deon Botha, hoof van korporatiewe sake by die OBK wat Matjila na die parlement vergesel het Donderdag, het aan 'n joernalis gesê die gerugte oor Matjila se moontlike skorsing is "nonsens".
Matjila moes al in 2017 vir sy oorlewing by die OBK veg ná wat geblyk het soos 'n smeerveldtog teen hom vanuit die OBK se geledere.
In 2015 was daar weer berigte oor Matjila se luukse Maserati-sportmotor van R2 miljoen waaroor OBK-werknemers glo gegis het oor hoe hy dit kan bekostig. Matjila het destyds aan Business Times gesê hy kan dit bekostig want hy het voorheen vir private maatskappye soos Stanlib en Anglo American gewerk. Hy het toe gesê hy het 'n banklening uitgeneem om die motor vir sy 53ste verjaarsdag te koop.

















