Aftrede

Openbare sitting kom oor wet oor OBK

Wetlike ingryping om die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se korporatiewe bestuur en deursigtigheid te verbeter, kom nader aan die werklikheid.

Die nasionale vergadering het Dinsdagaand laat die voorstel van die staande komitee oor finansies goedgekeur om 'n wetswysiging in te dien op die Wet op die Openbare Beleggingskorporasie, die staatsbeheerde batebestuurder wat duisende staatsamptenare se aftreegeld namens die staatspensioenfonds (GEPF) bestuur.

Die OBK se belegging in Ayo Technologies, 'n firma van dr. Iqbal Survé, het die wenkbroue laat lig. Foto: Lerato Maduna
Die OBK se belegging in Ayo Technologies, 'n firma van dr. Iqbal Survé, het die wenkbroue laat lig. Foto: Lerato Maduna

Die doel is om die samestelling van die OBK se direksie te verander sodat belanghebbers soos vakbonde ook verteenwoordiging kry.

Dit sal verder groter deursigtigheid in die OBK se bedrywighede probeer afdwing deur die meer gereelde publikasie van sy beleggingsverslae voor te skryf.

Dit volg op groeiende kritiek oor omstrede beleggingsbesluite van die OBK.

Die staande komitee oor finansies begin Donderdag met openbare sittings oor hul voorgestelde wysigingswetsontwerp.

David Maynier, DA-woordvoerder oor finansies en lid van die staande komitee, het reeds in Oktober verlede jaar 'n privateledewetsontwerp in die Staatskoerant vir kommentaar laat publiseer.

Dit blyk die komitee gaan heelwat van Maynier se voorstelle in die komitee-wetsontwerp insluit.

Maynier het onder meer voorgestel die voorsitter van die OBK moet deur die minister van finansies aangestel word op aanbeveling van die nasionale vergadering, en die persoon moet oor die nodige kundigheid, kwalifikasies en goeie karakter hê wat deur die Wet op die Finansiële Advies- en Tussengangerdienste voorgeskryf word. Tans is die gebruik dat die adjunkminister van finansies bykans outomaties die voorsitter van die OBK word.

Intussen blyk dit die OBK gaan sy belegging in die onlangs genoteerde inligtingstegnologiemaatskappy Ayo ondersoek en dalk hersien. Ayo is deel van die sakeryk van dr. Iqbal Survé van Sekunjalo.

Die OBK se beleggingskomitee het die belegging in Desember verlede jaar goedgekeur, en R4,3 miljard is in Ayo belê voordat dit in Desember op die JSE genoteer is.

City Press het vroeër berig daar is kommer dat Sekunjalo die geld wat hy deur die Ayo-notering ingesamel het, gaan gebruik om 'n lening van meer as R1 miljard aan die OBK terug te betaal. Hy het die lening in 2013 gekry om die mediagroep Independent te koop. Dié bewerings is vroeër deur sowel die OBK en Ayo ontken.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM