Aftrede

SAL-oues ook deur sakeredding geraak

Een van SAL se werknemers stofsuig die binnekant van een van sy vliegtuie. Foto: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images
Een van SAL se werknemers stofsuig die binnekant van een van sy vliegtuie. Foto: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images (Waldo Swiegers)

Selfs Transnet-pensioenarisse word geraak deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingsproses.

Die prokureursfirma Geyser en Coetzee het Vrydag laat weet die eerste uitbetaling van R10 000 ingevolge die pensioenarisse se skikking met Transnet en sy pensioenfondse sal vertraag word vir oud-SAL-werknemers wat deel van dié skikking is.

Die SAL was aanvanklik 'n filiaal van Transnet en is in 'n uitgerekte proses van 2004 tot 2006 van Transnet ontbondel.

Die prokureurs werk steeds daaraan dat die eerste uitbetaling aan die res van die pensioenarisse wel voor die einde van Desember gedoen kan word.

Die amptelike hofverskyning waar die skikking formeel deur 'n regter bekragtig sal word, kan egter nou eers na verwagting in die week van 14 tot 17 April volgende jaar plaasvind, het Geyser en Coetzee aangedui.

'n Tussentydse bevel word egter wel teen 18 Februarie verwag.

Die skikking is die uiteinde van 'n jarelange regstryd deur pensioenarisse met 'n groepseis teen Transnet en sy pensioenfondse vir beter voordele. Hulle het sedert die vroeë 2000's jaarlikse verhogings van net 2% gekry. Sodoende het hulle algaande verarm weens inflasie en mediesefondsbydraes wat nog vinniger as inflasie toeneem.

" 'n Vergadering het vandag voor die regter plaasgevind waar die regsverteenwoordigers van alle partye in die litigasie die pad vorentoe in hierdie saak bespreek het met die regter wat aangestel is om die saak te bestuur," het 'n verklaring van Geyser Coetzee gelui wat Vrydag op sy webblad gepubliseer is.

"Daar is ooreengekom dat die saak bespoedig word en dat die uitstaande handtekeninge op die skikkingsooreenkoms teen 20 Desember 2019 verkry moet word. Op 18 Februarie 2020 word die aansoek aangehoor vir die regter om die skikkingsbevel te oorweeg en 'n tussentydse bevel te maak."

"Die kommersiële bepalings van die ooreenkoms sal dan in verskillende landstale in nasionale koerante gepubliseer word. Pensioenarisse sal die geleentheid kry om feitelike of wetlike besware teen die skikkingsooreenkoms te opper.

Die saak sal dan gedurende die week van 14 tot 17 April 2020 aangehoor word om die skikkingsooreenkoms 'n hofbevel te maak, waarna die saak afgehandel is.

Pensioenarisse sal die geleentheid kry om feitelike of wetlike besware teen die skikkingsooreenkoms te opper.

"Ons poog steeds om die eerste uitbetaling voor jaareinde te laat geskied aan alle pensioenarisse, behalwe dié van SAL wie se betaling vertraag sal word weens die SAL-sakereddingsproses," lui Geyser Coetzee se verklaring.

Adv. Anton Alberts, voormalige VF Plus parlementslid wat hom beywer om die Transnet-pensioenarisse se belange te bevorder, het vroeër gesê hy het wel bevestiging van Popo Molefe, voorsitter van Transnet, ontvang dat die eerste van drie betalings van R10 000 in Desember betaal sal word, maar die datum is nog nie vasgestel nie.

Volgens Alberts het die trusteerade van die twee pensioenfondse die skikkingsooreenkoms op 24 Oktober goedgekeur en die Transnet-direksie het dit op 30 Oktober goedgekeur.

Tom Dunn, 'n pensioenaris-trustee, het vroeër ook via Facebook laat weet dat Transnet-pensioenarisse se maandelikse betaaldag vir Desember na 20 Desember vervroeg is.

Dunn het verduidelik die drie enkelbedrae van R10 000 is gewaarborgde betalings ingevolge die skikking en staan los van enige ander bonusse wat in die toekoms onderhewig aan bekostigbaarheid betaal mag word.

Dunn verduidelik die bonusse wat in die verlede aan Transnet-pensioenarisse betaal is, was nie gewaarborg of volhoubaar nie, en was 'n tussentydse maatreël om verligting te bied totdat 'n skikking bereik kon word. Volgens hom sal geen verdere sulke bonusse oor die volgende drie jaar betaal word nie. Vanaf die vierde jaar sal die trustees die beste moontlike verhogings en een bonus in November van elke jaar betaal word onderhewig aan bekostigbaarheid. Die bonusse sal nooit ten koste van goeie verhogings betaal word nie, het Dunn verduidelik.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM