Al hoe meer Suid-Afrikaners bedank tydelik uit hul poste om toegang te kry tot hul aftreegeld net om 'n paar maande later weer by dieselfde werkplek in diens geneem te word.
Nashalin Portrag, hoof van FundsAtWork, 'n sambreelfonds by Momentum Corporate, sê hulle sien die tendens in hul lidmaatskap-data.
"Iemand bedank, die (pensioen-)geld word uitbetaal en 'n paar maande later is dieselfde persoon weer 'n lid van die fonds," sê Portrag.
Hy glo dieselfde gebeur by ander fondse en sê dié toename in sulke "skynbedankings" is onrusbarend. Werkgewers wat dit toelaat, oortree die Inkomstebelastingwet.
'n Sambreelfonds soos FundsAtWork is 'n oorkoepelende pensioenfonds waaraan verskillende maatskappye se werkers gesamentlik behoort.
Natasha Huggett-Henchie, 'n aktuaris en lid van die Aktuariële Vereniging se komitee gemoeid met aftrede, het aan Rapport gesê die vereniging het 'n beduidende toename bespeur in eise vir die uitbetaling van pensioengeld en dekking vir inkomstebeskerming soos wanneer mense hul werk verloor het. Sy sê ook daar is maatskappye wat hul werkers toelaat om kastig te bedank.
Covid-19 en die gepaardgaande finansiële teenspoed in baie huishoudings het veroorsaak dat mense 'n ingesteldheid het van oorlewing ten koste van langtermynbeplanning vir hul aftrede, sê Portrag.
"Ons begryp werkgewers wil hul werkers wat finansieel sukkel, help - veral maatskappye wat werkers se salarisse moes besnoei of nie verhogings kon gee nie. Maar hierdie ‘skynbedankings' hou groot risiko's in vir die werkgewer, werker én die aftreefonds."
Hierdie ‘skynbedankings' hou groot risiko's in vir die werkgewer, werker én die aftreefonds.
— Natasha Huggett-Henchie van die Aktuariële Vereniging
As die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uitvind 'n werker het valslik "bedank" om sy pensioengeld te kry, kan die werker gedwing word om dit terug te betaal.
"Nog erger: Die aftreefonds kan sy status verbeur as 'n entiteit wat vrygestel word van belasting. Aftreefondse geniet spesiale belastingstatus deurdat lede se maandelikse bydraes belastingaftrekbaar is. Die aanwas van beleggings in lede se aftreefondse is ook vrygestel van belasting."
Die pandemie se nadraai het nie alle ekonomiese sektore ewe swaar getref nie en die sambreelfondse Allan Gray en Old Mutual het sover nie die tendens van "skynbedankings" gesien nie.
"Ons sien geen bewyse daarvan nie, maar dit sal my nie verras as dit wel by sekere fondse voorkom nie," sê Saleem Sonday, groephoof van spaar en beleggings by Allan Gray.
Die maatskappye wie se werkers aan die Allan Gray-sambreelfonds behoort, was tot sover betreklik beskut teen die finansiële impak van Covid-19 en daar was min afleggings.
Dieselfde geld vir Old Mutual se SuperFund-sambreelfonds.
Malusi Ndlovu, direkteur by Old Mutual se afdeling vir groot firmas, sê selfs toe "betaalvakansies" toegelaat is vir maandelikse premies, het die SuperFund redelik lig daarvan afgekom.
"Baie finansiëledienstegroepe het verlede jaar gedurende die strengste vlakke van inperkings hul pensioenfondslede toegelaat om tydelik premies te staak. Die nasionale gemiddelde vir diegene wat betaalvakansies geneem het, was 48,5%. Die SuperFund se gemiddelde was 25% - dit wys ons lede was finansieel meer bestand," sê Ndlovu.
Pleidooi vir onttrekkings
Intussen sê die Aktuariële Vereniging se Huggett-Henchie die berekeninge wat die vereniging gedoen het, wys dit sal raadsaam wees om Suid-Afrikaanse werkers toe te laat om 'n klein gedeelte van hul aftreegeld voor aftrede te laat uitbetaal.
Die nasionale tesourie voer die afgelope maande gesprekke met belanghebbendes, insluitend vakbonde, daaroor en Enoch Godongwana, minister van finansies, sal na verwagting in die mediumtermynbegrotingsraamwerk 'n aankondiging daaroor doen.
Huggett-Henchie was deel van 'n taakgroep wat die nasionale tesourie oor vroeë toegang tot aftrede raad gegee het.
Ons modelle wys as mense byvoorbeeld toegang tot 'n derde van die geld kan kry, kan hul aftreeposisie uiteindelik drie keer beter wees as wat hulle sou bedank het en al die beskikbare geld laat uitbetaal het.
— Natasha Huggett-Henchie van die Aktuariële Vereniging
"Ons modelle wys as mense byvoorbeeld toegang tot 'n derde van die geld kan kry, kan hul aftreeposisie uiteindelik drie keer beter wees as wat hulle sou bedank het en al die beskikbare geld laat uitbetaal het.
"Baie min mense spaar vir aftrede en wanneer hulle van werk verwissel, vat hulle al hul aftreegeld. Gestel die regering laat mense toe om 'n derde van hul aftreegeld voor die tyd te vat, dan sal die kompromis wees dat jy voortaan die oorblywende tweederdes in 'n aftreefonds móét hou, selfs al verander jy van werk," sê sy.
Jan Taks wen
Suid-Afrikaners wat ál hul aftreegeld laat uitbetaal voor hulle met pensioen gaan, dok derduisende rande op aan belasting. Slegs die eerste R25 000 is belastingvry. Daarna word belasting op 'n glyskaal gehef na gelang van die bedrag wat beskikbaar is.
Nashalin Portrag, hoof van FundsAtWork by Momentum Corporate, gee dié voorbeeld van hoeveel belasting betaal word as 'n werker sy aftreegeld voortydig laat uitbetaal. Mnr. X het R150 000 in sy aftreefonds. Die eerste R25 000 is nie belasbaar nie. Sy belasbare bedrag word dus bereken: R150 000 - R25 000 = R125 000.
Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se jongste belastingkoers op aftreegeld sal mnr. X 18% belasting betaal op die R125 000, dit wil sê R22 500. Sy uiteindelike uitbetaling sal dus R127 500 wees.
"Onthou: Elke keer wat jy jou aftreegeld laat uitbetaal, begin jy weer van vooraf. Jy verbeur elke keer die geld wat jy in belasting betaal, maar ook die persentasie groei op jou belegging."


















