Die vakbond Solidariteit gaan Woensdag regstappe aankondig om staatspensioenfondse teen Eskom se planne te beskerm om dit as reddingsboei te gebruik.

Solidariteit het Dinsdag in 'n verklaring gesê om enigsins pensioenfondse te gebruik om sukkelende staatsondernemings te help is 'n "kaping" van staatsdienswerkers se spaargeld.
Die vakbond gaan hoofsaaklik op die gebruik van pensioengeld fokus om Eskom se enorme skuldlas te verminder, maar sê hy het ook breër planne om te verseker dat g'n staatsonderneming sy kloue in pensioenfondse slaan nie.
Cosatu het twee weke gelede voorgestel dat die regering, die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) 'n finansieringsentiteit met die spesiale doel vorm om Eskom se skuld van meer as R450 miljard met sowat R250 miljard te verminder.
Die plan het vinnig vastrapplek onder regeringsamptenare begin kry, maar die staatsdienspensioenfonds (GEPF), wat die teiken is van die meeste van dié gesogte finansiering, het verlede week in 'n verklaring gesê hy het nog nie enige voorstel in dié verband ontvang nie en is nie deur Cosatu of enigiemand anders oor die vermindering van Eskom se skuld geraadpleeg nie.
Werknemersorganisasies in die staatsdiens, soos die Vereniging van Staatsamptenare, dreig ook met regstappe as hul pensioengeld gebruik sou word om Eskom te red en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het in 'n ope brief aan die GEPF sy stem oor die plan dik gemaak. Solidariteit is egter die eerste om amptelik met regstappe te begin.
"Om werkers se pensioengeld te gebruik om sukkelende staatsondernemings te help is 'n fout wat probeer om 'n fout reg te stel," sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
"Solidariteit [het] 'n veel breër strategie om werkers se pensioen in die algemeen te beskerm. Ons is bekommerd daaroor dat die Eskom-planne nie tot Eskom en ook nie net tot staatsdienspensioene beperk is nie."
Solidariteit sal Woensdag op 'n mediakonferensie in Johannesburg verdere besonderhede oor sy strategie gee.



















