Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is glo reeds in Julie verlede jaar deur Paul Magula, sy voormalige risikohoof, daarteen gewaarsku om R9,3 miljard in Steinhoff te belê.

Die belegging het egter voortgegaan, asook 'n belegging van R4,3 miljard in Ayo Technology Solutions, 'n maatskappy van Iqbal Survé waarteen Magula ook glo gewaarsku het.
Magula maak die bewering voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), waar hy sy afdanking betwis.
Rapport het vroeër berig Magula is in Maart geskors en einde April in die pad gesteek, onder meer omdat hy glo dokumente van swak gehalte gelewer en nie die ineenstorting van VBS Mutual Bank voorsien het nie.
Maar Magula sê in sy KVBA-verklarings hy is eintlik uitgeskop omdat hy so skerp verskil het van dr. Daniel Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, oor die Steinhoff- en Ayo-beleggings dat Matjila hom uit sy pos wou verwyder en op 'n laer posvlak aanstel.
Magula het geweier om die posverlaging te aanvaar en is uiteindelik ná 'n tugverhoor afgedank. 'n Versoeningsvergadering is Woensdag gehou, maar het misluk. 'n Arbitrasieverhoor moet nou gehou word om die geskil te bereg.
Magula, wat R3,3 miljoen per jaar verdien het, het die direkteur van die KVBA gevra om 'n senior kommissaris vir die saak aan te wys omdat dit " 'n ingewikkelde verhoor van groot openbare belang is waarin Matjila en ander direkteure van die OBK waarskynlik sal getuig".
Rapport het 'n afskrif van sy aansoek bekom. Magula gaan onder meer aanvoer hy het Matjila se oordeel bevraagteken met die Steinhoff-transaksie, wat in die OBK as Projek Blueback bekend staan.
Steinhoff se aandeelprys was sowat R70 toe Matjila in Julie verlede jaar besluit het om deur te druk met 'n belegging van R9,3 miljard in die maatskappy. Sedert die rekeningkundige skandaal einde verlede jaar in Steinhoff losgebars het, het die aandeelprys getuimel.
Die OBK het meer as 95% van die R9,3 miljard - bates van die staatsdienspensioenfonds - verloor. Die OBK het papierverliese van altesame minstens R12 miljard gely weens sy Steinhoff-blootstelling.
Magula sê hy het op 'n vergadering van die OBK se beleggingskomitee op 13 Julie verlede jaar halt geroep. "Ondanks my protes en kommer het Matjila besluit om deur te druk met die belegging. Hy het my van hardkoppigheid beskuldig en gesê ek neem 'n uitdagende houding teenoor hom aan."
Ayo Technology Solutions, wat laat verlede jaar op die JSE genoteer is, is deur die OBK onderskryf. Daar was 'n opskortende voorwaarde dat die OBK markverwante tariewe vir die onderskrywing moet kry.
Matjila het Magula glo opdrag gegee om die voorwaarde te skrap.
"Uit die telefoongesprek het die duidelik geword dat die werkverhouding tussen my en Matjila dramaties agteruitgegaan het en dat dit beëindig gaan word op enige manier wat nodig is.
"Ek en moontlik ander getuies in die arbitrasieverhoor sal moontlik getuienis aanbied wat uiters inkriminerend is oor Projek Blueback en oor Ayo Technologies en wat van belang vir die publiek sal wees. Dis weens die aansienlike verliese en roekeloosheid van die OBK in hierdie transaksies," sê Magula.
Hy sê al die skuld daarvoor word nou op hom gepak. Hy is op 13 Februarie, toe die Steinhoff-skandaal algemeen bekend was, ingelig dat sy posvlak verlaag word. Toe hy dit nie wou aanvaar nie, is hy geskors en uiteindelik afgedank.
Daar is egter ook bedenkinge daaroor of Magula se hande skoon is. Deon Botha, woordvoerder van die OBK, het by navraag gesê Magula is afgedank weens sy swak vertoning. "Ons lewer nie gewoonlik kommentaar oor personeelsake nie, maar die openbare belang en publisiteit hieroor dwing ons om van die reël af te wyk."
Hy het Rapport ook gewys op die voorlegging van Matjila Woensdag aan die portefeuljekomitee oor finansies waarin hy die OBK se oorhoofse prestasie as bevredigend bestempel het omdat bates met 8,6% of R165 miljard gegroei het tot R2 084 miljard.















