
Dit blyk vordering word stadig maar seker gemaak in die taai onderhandelings tussen die regspanne van Transnet en sy pensioentrekkers in laasgenoemde se jare lange stryd vir beter aftreevoordele.
'n Teenaanbod van Transnet is ontvang in reaksie op die pensioentrekkers se eis, maar die pensioentrekkers se regspan het die aanbod verwerp, het die regsfirma Geyser en Coetzee Woensdag die Transnet Pensioentrekker-aksiegroep (TPAG) laat weet.
Die partye in die geding het verdere onderhandelings gevoer en 'n reaksie word binne tien werksdae verwag, het Robin Rowe van die TPAG Woensdagaand in 'n verklaring gesê.
Geyser en Coetzee verteenwoordig die Transnet-pensioentrekkers in die groepseis wat hulle aanhangig gemaak het teen Transnet en twee van sy pensioenfondse.
Die pensioentrekkers eis in die groepseis meer as R80 miljard van Transnet, die Transnet-tweedevastevoordeelfonds en die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds. Dit is vir inflasieverwante verhogings in pensioenvoordele, asook vergoeding vir verlore inkomste wat hulle glo hulle toekom maar wat weens wanbestuur en swak beleggings verloor is.
Die lede van dié pensioenfondse kry sedert die vroeë 2000's verhogings van net 2% per jaar in hul pensioenuitbetalings, hoewel Transnet in die laat 2000's begin het om ad hoc-bonusbetalings uit die pensioenfondse te doen wanneer daar genoeg geld is.















