Beleggers in inkomste- en groeifondse het dikwels onrealistiese verwagtinge van die opbrengste wat hulle op hul beleggings sal verdien. Wat moet beleggers in dié fondse in gedagte hou om 'n gerieflike aftrede te verseker?

Beleggers in inkomste- en groeifondse mag dalk ontevrede wees met hul onlangse opbrengste weens die sameval van 'n aantal faktore.
Eerstens, tot onlangs het die markte doodstil gestaan. Ekwiteite, effekte en kontant het inflasie nouliks oor die drie jaar tot einde September geklop.
Daarbenewens, met die drie bateklasse wat soortgelyke opbrengste oor dié tydperk gelewer het, is beleggers nie vergoed vir bykomende risiko wat hulle geloop het nie.
Dit het gelei tot 'n getemperde prestasie die afgelope jare, wat as besonder pynlik ervaar kon gewees het weens 'n bykomende faktor: onrealistiese verwagtinge. Ondanks vooraf waarskuwings deur ons en ander beleggingsbestuurders, het talle beleggers nie die erge traagheid in die mark oor die afgelope drie jaar verwag nie. Inderdaad, 'n onlangse opname onder kliënte het getoon dat die opbrengsverwagtinge steeds hoog was.
Die opname het gevind dat die verwagte gemiddelde jaarlikse opbrengs vir inkomste- en groeifondse van 11,6% bykans soortgelyk is aan die 12,4% wat vir langtermyngroeifondse verwag is, 'n onrealistiese verwagting gegewe dat die inkomste- en groeifondse heelwat minder risiko loop.
Na ons mening, is 'n realistieser verwagte opbrengs vir 'n hoërekwiteitsinkomste- en groeifonds (soos ons Coronation Capital Plus-fonds) VPI plus 4%, en VPI plus 3% vir 'n laerekwiteitsinkomste- en groeifonds (soos ons Balanced Defensive-fonds). Ongelukkig, in die afgelope tyd was dit 'n bykans onmoontlike teiken om te behaal, gegee die middelmatige opbrengste wat die onderliggende boublokke gelewer het.
Konserwatiewe beleggers het blootstelling aan groeibates nodig om hul besteding gedurende hul aftrede te handhaaf.
In reaksie het talle gefrustreerde beleggers in die bedryf hul spaargeld onttrek aan inkomste- en groeifondse, wat blootstelling aan aandele het. 'n Geraamde R20 miljard is oor die afgelope jaar onttrek en baie geld het in konserwatiewer opsies geland, insluitend bestuurde inkomstefondse en kontantdeposito's.
Stellig, hoekom meer risiko aangaan deur in aandele te belê as jy dieselfde opbrengste in laerrisiko-opsies kan verdien? Onlangse prestasie bied deel van die antwoord: markte herstel wanneer jy dit die minste verwag. Met die skryf hiervan, het ekwiteite se gemiddelde opbrengs van 7% oor drie jaar wat vroeër genoem is, tot 10,4% per jaar gestyg, terwyl kontant en effekte steeds 7% per jaar is.
Konserwatiewe beleggers het blootstelling aan groeibates nodig om hul besteding gedurende hul aftrede te handhaaf. Uiteindelik glo ons vas dat die belangrikste risiko wat konserwatiewer beleggers - teenintuïtief - moet vermy, is om nie genoeg risiko te loop nie. (Sien onder.)
Ons voorsien ook beter vooruitsigte vir aandele. Ons is positiewer oor plaaslike ekwiteite as wat ons drie jaar gelede was toe die mark duur was. Daar is talle Suid-Afrikaanse ondernemings waarvan die verwagte opbrengste beter lyk as wat dit in 'n lang tyd was. Dit gaan daaroor dat die basis so laag is.
Indien ons makro-ekonomiese vooruitsig effens verbeter en maatskappye hul bruto inkomste effens verhoog, kan 'n goeie verbetering in verdienste op hande wees.
Daarbenewens, moet beleggers vermy om in die strik van die najaag van opbrengste te trap, soos uit die grafiek regs blyk. Beleggers verbind gewoonlik kapitaal wanneer opbrengste goed is en onttrek nadat hulle 'n moeiliker tyd ervaar het. Ons glo nie dis 'n goeie beleggingstrategie vir langtermynbeleggers nie. Uiteindelik het jy geduld nodig om verder as die korttermynpyn te kyk en om te vermy om enige verliese te ly deur laag te verkoop en hoog te koop.
Belangrike oorwegings vir inkomste- en groeibeleggers
As jy in inkomste- en groeifondse belê het, is daar belangrike kwessies wat jy in gedagte moet hou terwyl jy aftrede nader.
Sorg dat die onttrekkingskoers toepaslik is
Studies het getoon dat as jy die eerste tien jaar van jou aftrede kan deurmaak met jou reële kapitaal onaangeraak, is die kanse goed dat jy jou lewenstandaard in die tweede helfte van aftrede gaan handhaaf. Die tabel regs toon hipotetiese opbrengsverwagtinge teenoor onttrekkingskoerse. Die uitgeligte syfers in die middelste ry toon die aantal jare alvorens jou inkomste verminder soos wat jy die 17.5% maksimum onttrekkingskoers uit jou lewensannuïteit bereik (met inflasionêre toename in inkomste van 6% per jaar).
Soos ons vroeër uitgelig het, verwag baie afgetredenes opbrengste van ongeveer 12,4% en onttrekkings van 5% tot 7,5% omdat hulle glo dat hul kapitaal gerieflik vir hul volle aftreetydperk gaan hou. Hulle is moontlik nie bewus van hoe sensitief hul inkomstesekuriteit vir verandering is nie en dat 'n verwagte opbrengs van so min as 2,5% die volhoubaarheid van hul aftree-inkomste dramaties gaan verminder nie.
Die omsigtige aanbeveling is steeds dat die onttrekkingskoers in ooreenstemming moet wees met die koerse wat vir VPI-gekoppelde onderskrewe annuïteite gestel word, wat op die oomblik in die omgewing van 4% tot 5% moet wees vir diegene wat inkomste in hul vroeë sestigerjare begin onttrek.
Jy het genoeg blootstelling aan risikobates nodig
Beleggers wat 'n inkomste oor 'n lang tydhorison nodig het, moet voldoende risikobate-blootstelling hê om met verloop van tyd redelike reële groei te behaal, maar nie soveel dat 'n regstelling op 'n nabye-termynmark jou kapitaalbasis kortwiek nie. Coronation Capital Plus (met 'n 70%-groeibateperk) en Coronation Balanced Defensive-fonds (met 'n 50%-groeibateperk) word só bestuur dat dit aan dié vereiste voldoen.
Pasop vir jou beleggingshorison
Jou beleggingstydhorison is belangrik, veral gegewe die korttermyn-gefokusde wêreld waarin ons ons bevind. Selfs ná aftrede is die meeste afgetredenes se lewensverwagtinge langer wat beteken die meeste van hulle moet beplan vir die moontlikheid dat hulle drie dekades of selfs langer na aftrede gaan lewe. Jou belangrikste doelwit moet wees om jou lewenspeil oor jou aftreetydperk te handhaaf. Die toepaslikste beleggingsoplossing in die meeste gevalle sal lang termyn van aard wees.
Die volgende oorwegings kan nuttig wees wanneer jy die moeilike toegewings wat jy in aftrede moet doen, moet oorweeg:
1. Jou opbrengsverwagtinge moet redelik en weloorwoë wees: Teiken 'n reële opbrengs wat ooreenstem met 'n toepaslike risiko-begroting en moenie uiters gunstige historiese opbrengste vasanker nie.
2. Bestuur inflasierisiko: Hoewel inflasie op die oomblik betreklik laag is, is dit steeds 'n werklike risiko gegewe die onsekerhede inherent aan 'n klein, oop en brose ekonomie aan die suidpunt van Afrika. Jy moet sorg dat jy gesonde toewysings aan groei- en internasionale bates het om jou op lang termyn die beste kans te gee om inflasiekloppende opbrengste te behaal. Daarbenewens, deur 'n bestuurder te gebruik wat jou alfa op lang termyn gee, kan jy 'n versoeter bo en behalwe die markopbrengs verdien.
3. Bestuur die sekwensie-van-opbrengste-risiko: 'n Groot markonttrekking kan 'n wesenlike uitwerking op jou portefeulje en jou lewenspeil na jou aftrede hê. Die bestuur van sekwensie-van- opbrengste-risiko is dus belangrik. Moenie oorgerus wees weens die lae onbestendigheid in die jare ná krisisse ervaar en sodoende die belangrikheid van afwaartse beskerming onderskat nie.
4. Bestuur risiko teen 'n lang lewe: Die waarskynlikheid dat jy langer lewe moet in rekening gebring word wanneer jy vir aftrede beplan. Om teen langlewendheidsrisiko te verseker, deur aanvanklike onttrekkingskoerse te beperk of om effens langer te werk, is almal goeie stappe om dié risiko te beperk eerder as om onrealistiese opbrengste van jou beleggingsportefeulje te verwag.



*Stuur 'n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za.
- Pieter Koekemoer is hoof van persoonlike beleggings by Coronation Fund Managers.














