Aftrede

Versekeraars: Hoe eties is boetes, koste?

Daar is iets wat my al van 2004 af pla en dit is sogenaamde beëindigings­gelde op kontraktuele spaarplanne.

Andró Griessel
Andró Griessel

Draai die horlosie 17 jaar verder en soos die kat met nege lewens of daardie robot in Terminator, sterf dié na my mening onetiese praktyk eenvoudig net nie uit nie.

Net hier sal my regsgeleerde vriend my op die vingers wil tik en waarsku teen 'n "naamskending"-saak van een of almal van hierdie maatskappye. En dit sal dan ook hier wees dat ek vir hom sê dit sal welkom wees, want dalk kry die onderwerp uiteindelik die aandag in die media wat dit verdien.

Die afgelope 17 jaar het ons al telkemale met die langtermynversekeraars (meestal Sanlam en Old Mutual) oor beëindigingswaardes in gesprek getree. As jy die sake van die ombud vir langtermynversekering gaan lees, sal jy honderde van dié soort klagtes sien.

Ek weet nie van een saak wat die kliënt gewen het nie en daarom gaan die praktyk voort. Ter illustrasie van wat ek as "onetiese" gedrag (hoewel binne die wet) beskou, beskryf ek kortliks die mees onlangse geval waarmee ons met Old Mutual aan die stoei is.

Old Mutual se volledige kommentaar word onderaan die rubriek geplaas.

In Oktober 1993 het die kliënt 'n annuïteitspolis by Old Mutual met 'n premie van R500 per maand wat jaarliks met 20% toeneem. Die kontraktuele uittreedatum vir die polis is 01 Oktober 2027.

Teen 2012 het sy premie weens die groot jaarlikse eskalasie reeds R15 974,24 per maand beloop en hy het besluit om die eskalasie daarvan te staak. Hy het egter aangehou om die premies te betaal.

Ons het voorgestel, weens ons ervaring met dié soort produkte, dat die kliënt sy geld via 'n art. 14-oordrag skuif na 'n suiwer nie-kontraktuele effektetrust-gegronde annuïteit.

Sien hierby 'n uittreksel uit Old Mutual se brief in Mei aan die kliënt oor die gewraakte beëindigingskoste.

Sien ook die uittreksel uit die oorspronklike poliskontrak.

Uit 'n dokument wat deur Old Mutual self aan ons verskaf is, beloop al die koste op die polis tans R363,71 per maand.

Selfs al sou Old Mutual dit dus op een slag wou verhaal vir die gelde wat hy nog sou verdien oor die oorblywende 75 maande van die kontrak, kan hy (na my mening) "eties gesproke" slegs nog R27 278 verhaal. Omdat hy die geld onmiddellik ontvang in plaas van drupsgewys oor 75 maande, sou die redelike mens natuurlik 'n verdiskonteringskoers van minstens inflasie daarop toepas. As ons inflasie as 4% aanvaar, beteken dit 'n bedrag van R24 100.

Dis standaard-praktyk dat beleggers in uitkeerpolisse 'n groot boete moet betaal om uit die kontrak te kom.
Dis standaard-praktyk dat beleggers in uitkeerpolisse 'n groot boete moet betaal om uit die kontrak te kom. (unsplash)

Tog wil Old Mutual 'n betaling van R419 821 ontvang van ons kliënt om uit sy kontrak met hom te kom. Ek vind dit bisar.

Toe ons vir die hoeveelste keer vra hoe dit moontlik is, het ons vir die hoeveelste keer dieselfde antwoord gekry wat ons reeds vantevore by hulle en ook ander versekeraars gekry het. Ek vertaal regstreeks:

"As 'n Flexi-polis uitgereik word, is daar sekere koste wat aangegaan word. Dié koste sluit in die opstel van rekenaarrekords, die druk en stuur van die polisdokument, kommissie en algemene koste wat insluit die koste van salarisse, huur, personeelopleiding en so meer.

"Die Flexi-reeks polisse is só opgestel dat die aanvanklike koste om die polis op te stel, nie onmiddellik verhaal word nie, maar versprei word oor die volle termyn van die polis. Op dié manier kan die polis onmiddellik begin deel in groei eerder as om die aanvanklike premies te gebruik om koste te dek. Soos hierbo verduidelik, is die vlak van koste is so opgestel dat Old Mutual sy koste sal verhaal as die kliënt sy polis behou vir die volle termyn en die voorwaardes van die kontrak gestand doen.

"Ons word gelei deur die verklaring van die voorneme-ooreenkoms deur die minister van finansies en die langtermynversekeringsbedryf wat ingetree het kort voor die einde van 2005."

Ons het al alle kante toe hieroor probeer redeneer en antwoorde probeer kry. Ons kom ongelukkig elke keer by dieselfde antwoord uit en dit is dat die boetes nie moreel en eties verdedigbaar is nie.

—  Andró Griessel

Teen die einde van Mei was die kliënt se fondswaarde (voor boetes) gelyk aan R5 403 583, wat 'n interne opbrengs van 8,4% per jaar oor die hele tydperk verteenwoordig. Die onderliggende fonds waarin die kliënt belê was oor die hele termyn was die Performance Profits Balanced Portfolio.

Met die skrywe hiervan kon ons nog nie 'n feiteblad of meer inligting oor die spesifieke fonds uit Old Mutual kry nie, maar die naam suggereer dat dit vergelykbaar behoort te wees met 'n normale gebalanseerde fonds.

Ek het gaan kyk hoe dié fondse se gemiddelde prestasie (sedert 2000) vergelyk met Old Mutual se eie gebalanseerde effektetrustfonds en 'n ander baie bekende gebalanseerde effektetrustfonds (fonds 3).

Die prestasie was onderskeidelik 8,5%, 10,65% en 12,23% per jaar.

Wat dit in praktyk beteken, is dat indien die kliënt aan die begin van 2000 sy geld kon skuif (toe die saldo nog 'n skamele R86 000 was) na Old Mutual se eie gebalanseerde fonds, sou sy waarde vandag ongeveer R6,7 miljoen gewees het of R7,9 miljoen by Fonds 3.

Is dit moontlik dat die verskil tussen wat Old Mutual se interne gebalanseerde mandaat opgelewer het en wat aan die kliënt "verklaar" is, die antwoord hou oor waarom hulle so vasklou aan die geld?

Of is die antwoord so eenvoudig dat die ooreenkoms met die minister van finansies hom bloot wetlik toelaat om 17 keer meer te vra as wat eties verdedigbaar is?

Of lê die antwoord in die batebestuursgelde van meer as R80 000 per jaar wat hy tans op die bestuur van die geld verdien?

Ons het al alle kante toe hieroor probeer redeneer en antwoorde probeer kry. Ons kom ongelukkig elke keer by dieselfde antwoord uit en dit is dat die boetes nie moreel en eties verdedigbaar is nie.

Dit slaan my dronk hoe dit verby die nuwe wetgewing wat handel oor die billike behandeling van kliënte kom.

In Old Mutual se jongste voorlegging oor sy finansiële resultate verwys Iain Williamson, uitvoerende hoof, na Old Mutual se "doelwit" om " 'n baanbreker te wees in 'n gemeenskaplike positiewe toekoms".

Ek is nie seker of hy hier net verwys na die aandeelhouers en bestuur nie, maar hopelik sluit dit sy kliënte in wat hul swaarverdiende geld aan hom toevertrou.

As ek egter my skrywe op sy tafel kon kry, sou ek by hom pleit om sy woorde in ooreenstemming te probeer bring met wat op die grond in sy maatskappy aan die gang is en om 'n daadwerklike baanbreker te wees en weg te doen met dié onetiese boetes.

  • Andró Griessel is 'n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Old Mutual: Kontraktuele spaarplanne het baie voordele

Die besonderhede van die kliënt wat Andró Griessel as voorbeeld gebruik, tesame met algemene vrae oor art. 14-oordrag is aan Old Mutual vir kommentaar voorgelê.

Old Mutual het bevestig dat die betrokke kliënt 'n Flexi Performance Profits Balanced Portfolio-uittree-annuïteitspolis het wat op 1 Oktober 1993 begin het en teen 1 Oktober 2027 ten einde moet loop.

Om 'n kontraktuele verpligting te hê motiveer sommige kliënte om aan te hou om hul premies vir die duur van die tydperk te betaal, wat verseker dat hulle 'n spesifieke doelwit haal.

—  Old Mutual

Die maandelikse belegging het op R500 per maand begin en sou elke jaar met 20% styg.

Die kliënt kon teen 2012 nie meer die stygings bekostig nie en het die stygings gestaak toe die premie R15 974,24 per maand beloop het.

Op 1 Junie was die fondswaarde R5 403 582,92 (dus reeds hoër as met die kommunikasie tussen Griessel en Old Mutual vroeër vanjaar).

Die jaarlikse opbrengskoers op die polis beloop volgens Old Mutual gemiddeld 8,7% per jaar, teenoor inflasie van gemiddeld 5,2% per jaar oor dieselfde tydperk.

Old Mutual sê voordat mense spaarpolisse uitneem, word hulle van alle gelde, tariewe en koste, sowel tydens die adviesproses as op skrif deur middel van 'n kwotasie en die poliskontrak bewus gemaak.

Gelde word ook op hul jaarlikse state en op Old Mutual se aanlyn portaal aangedui.

Vir die spesifieke polis geld 'n effektiewe jaarlikse koste van 2,86%. Effektiewe jaarlikse koste is die bedryf se manier om alle koste weer te gee, en dit verteenwoordig volgens Old Mutual hoeveel laer die opbrengskoers as sonder enige koste is.

Die jaarlikse voordelestaat verwys ook daarna dat koste gehef sal word indien die polis voor die einde van sy looptyd na 'n ander aftreefonds oorgedra word.

"Soos voorheen verduidelik, is Flexi ontwerp om alle aanvangskoste, insluitend kommissie wat op premiestygings betaalbaar is, oor die volle termyn van die polis te herwin, en daarom is daar nog uitstaande uitgawes wat op dié polis verhaal moet word sou die kliënt die polis voor die looptyd daarvan beëindig."

Old Mutual sit nie uiteen waarom die oordragkoste meer as R400 000 oftewel byna 8% van die poliswaarde beloop nie.

Netwerk24 het aan Old Mutual gevra wat die voordele van spaarpolisse is, gegewe dat dit op die oog af nie hoër opbrengskoerse oplewer as nie-kontraktuele annuïteite of effektetrustfondse nie.

"Om 'n kontraktuele verpligting te hê motiveer sommige kliënte om aan te hou om hul premies vir die duur van die tydperk te betaal, wat verseker dat hulle 'n spesifieke doelwit haal.

"Die aard van dié produkte stel finansiëledienstefirmas ook in staat om waardevolle voordele soos premiebeskerming by te voeg."

Premiebeskerming is 'n soort versekering wat verseker dat die premies vir die duur van die kontraktydperk betaal word, selfs indien die kliënt ongeskik raak, sterf of albei (na gelang van watter voordele met die aanvang daarvan gekies word). "Premiebeskerming verskaf dus gemoedsrus vir kliënte."

Die betrokke polis het ook 'n gewaarborgde aftreewaarde. Dis tans R6 426 125 indien geen veranderinge aan die polis gemaak word nie. Daar is ook 'n gewaarborgde minimum annuïteitsopsie, wat 'n minimum annuïteitskoers waarborg as die volle polisbedrag gebruik word om 'n annuïteit te koop. "Dié opsie kan waardevol wees na gelang van die markkoerse wat aan die einde van die looptyd toepaslik is."

Die aard van dié produkte stel finansiëledienstefirmas ook in staat om waardevolle voordele soos premiebeskerming by te voeg.

—  Old Mutual

Deesdae moet finansiële raadgewers 'n gedetailleerde behoefte-ontleding met kliënte doen voordat in enige produk belê word. Dit neem hul inkomste, belasting, risikotoleransie en behoefte aan waarborge en gelykmaking van inkomste, sowel as persoonlike voorkeure, in ag. Wetgewing bepaal dat die gesprek hieroor op skrif gestel moet word.

Dit was nie in 1993, toe die polis uitgeneem is, die geval nie.

Old Mutual sê deesdae het verbruikers oneindig baie keuses oor hoe om te spaar. "Daar is verskeie opsies van 'n enorme aantal finansiëledienstemaatskappye. Die opsies wissel van spaar in 'n bankrekening tot belastingvrye spaarrekeninge, 'n buigsame belegging, effektetrustfondse of kontraktuele spaarplanne."

Gevra of die kommissie wat agente en finansiële adviseurs op kontrakspaarpolisse verdien 'n rol speel in die verkoop daarvan, het Old Mutual as volg geantwoord:

"Vergoeding vir adviseurs is belangrik om te verseker dat kliënte toegang kry tot 'n finansiële oplossing in die konteks van 'n finansiële plan, en dis ook betaalbaar op nie-kontraktuele produkte. Voorafbetaalde kommissie is een metode van vergoeding wat toepaslik is op kontraktuele planne.

"Voorafbetaalde kommissie verseker toegang tot advies in gevalle waar die premies laer is, veral vir nuwe raadgewers wat nog nie bestaande kliënte het nie. Die langverwagte wetgewing oor kleinhandel-verspreidingshersiening (retail distribution review, RDR) maak daarvoor voorsiening met die insluiting van 'n konsep vir die lae-inkomste-dispensasie."

Old Mutual sê daar is nie net een antwoord op die vraag of 'n kliënt beter daaraan toe sal wees om te skuif van 'n kontrakplan na 'n meer buigsame produk nie, "aangesien elke geval verskillende veranderlikes het".

Voordat kliënte 'n art. 14-oordrag doen, moet hulle onder meer die volgende vrae vra:

  • Hoe lank is die polis al van krag?
  • Wat beloop die oordragkoste as persentasie?
  • Hoeveel meer groei sal hulle uit 'n buigsame opsie moet kry, en vir hoe lank, ten einde die oordragkoste terug te wen?
  • Is daar enige voordele wat hulle prysgee? (Dit kan gelykmaking, waarborge, premiebeskerming en lewensdekking insluit, wat sal wegval indien 'n kontraktuele produk opgesê word.)

"Dis daarom kritiek dat kliënte versigtig oorweeg of dit beter is om tot die einde van die kontraktermyn te wag of die koste van oordrag aan te gaan in die hoop om beter opbrengste in 'n buigsame produk te verdien."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM