Lewensversekeraars in Suid-Afrika sal nuwe kliënte moet vind wie se "onvervulde behoeftes aangespreek kan word" om hul winsgewendheid vol te hou.
Renasha Govender, vennoot van PwC oor aktuariële en versekeringsake, sê in die verlede kon versekeraars met hul sake waarde skep, maar die koste en beperkinge van wetgewing maak dat hulle ander maniere sal moet kry om hul winsgewendheid vol te hou. Innovering met produkte en geïntegreerde dienste en vennootskappe is van die maniere om dit te bereik.
PwC het vandeesweek sy verslag oor die stand van die lewensversekeringsbedryf se geldsake uitgereik.
Die groot lewensversekeraars se winsgewendheid het reeds voor die pandemie gedempte groei getoon. Hoewel hul winsgewendheid verlede jaar herstel het vergeleke met 2020, is dit steeds baie swakker as in die jare voor die pandemie.
Die huidige waarde van alle toekomstige wins uit nuwe sake van die vyf groot versekeraars wat ontleed is, het die afgelope jaar tot R6,9 miljard gestyg - beduidend meer as die R4,7 miljard van 2020, maar steeds minder as 2018 sowel as 2019.
PwC sê in 2020 was daar 'n fokus op die groot daling in nuwe sake weens die streng inperkings in die tweede kwartaal, maar nou moet daar probeer verstaan word waarom daar 'n daling in winsmarges is en watter dele van die bedryf gesukkel het om winsgewende groei te toon.
Die groot versekeraars wat in die ontleding ingesluit word, is Discovery, Liberty, MMH, Old Mutual en Sanlam.
Volgens PwC is daar 'n groot aantal redes vir die dalende winsgewendheid, insluitende hoe groot die mark is en watter produkte verkoop word omdat dit beïnvloed word deur die verbruikers in 'n spesifieke teikenmark.
"Beduidende makro-ekonomiese stormwinde van voor word vir die bedryf verwag wat groei op kort en mediumtermyn gaan beperk, want dit gaan die bekostigbaarheid van polisse vir verbruikers negatief raak," lui die verslag.
"Die versadiging van die mark is 'n langtermyn- sistemiese faktor wat die natuurlike groei in sommige meer gegoede markte beperk, terwyl die makro-ekonomiese faktore ook die groei vanaf dié ryker verbruikers ondermyn."
PwC sê die bedryf het gehoop as die verkoopsproses meer naatloos en digitaal raak, dit verkope sal verhoog.
"Maar 'n potensiële gevolg is groter mededinging, veral as verbruikers meer ingelig is en talle alternatiewe opsies maklik tot hul beskikking het. Meer mededinging kan druk op pryse plaas of veroorsaak dat meer goedkoop produkte verkoop moet word, bykomend tot die kwessie van bekostigbaarheid."
PwC sê hoewel die ekonomie en mededinging faktore buite beheer van die individuele lewensversekeraars is, is daar strategieë om winsgewendheid te verhoog, soos:
- Innovering - omdat daar nog ruimte is vir nuwe produkte wat verbruikers se behoeftes aan versekering en spaar op meer dinamiese en doeltreffende wyses vervul.
- Vennootskappe wat toegang tot nuwe kliënte kan gee.
- Voortgesette kostevermindering terwyl die verskuiwing digitaal voortgesit word en die versekeraars verouderde stelsels agterlaat.
PwC sê die styging in pryse van kos, brandstof en elektrisiteit gaan alle huishoudings vanjaar negatief raak.
"Middel- tot hoërinkomstegroepe herbedink hul diskresionêre bestedingspatrone deur goedkoper opsies te verkies of verminder hul versekering en spaarprodukte," sê Alsue du Preez, hoof van versekering by PwC.
Terselfdertyd gaan huishoudings in die laerinkomstegroepe sukkel om hul maandelikse mandjie van goedere te kan bekostig.
"Gegewe die stygende koste van noodsaaklikhede gaan huishoudings die bekostigbaarheid van ander diskresionêre uitgawes, soos versekering, versigtig oorweeg."
Sy sê die finansiële herstel teenoor 2020 is aangenaam, maar vergeleke met die situasie voor die pandemie tesame met die moeilike makro-ekonomiese omgewing op mediumtermyn, "is die behoefte vir versekeraars om voort te gaan om te innoveer en op verskeie fronte te belê".





















