Aftrede

Vrae oor ‘kaping’ van Transnet-oues se pensioen

Regiments Capital, 'n maatskappy verwant aan die omstrede Gupta-familie wat by staatskaping betrek is, was in 'n stadium as beleggingsadviseur by die Transnet-tweedevastevoordeelfonds aangestel.

Transnet-pensioentrekkers stap na die Uniegebou in Pretoria om te pleit dat pres. Jacob Zuma hul pensioene verhoog. Foto: Herman Verwey
Transnet-pensioentrekkers stap na die Uniegebou in Pretoria om te pleit dat pres. Jacob Zuma hul pensioene verhoog. Foto: Herman Verwey

In dié hoedanigheid het Regiments transaksiegelde van R228 miljoen betaal aan Trillian Capital Partners - ook 'n Gupta-verwante maatskappy. Dit blyk uit skriftelike antwoorde van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, op parlementêre vrae van die VF Plus-parlementslid adv. Anton Alberts.

Alberts het gevra waarom die trustees van die fonds 'n oop mandaat aan Regiments as beleggingsadviseur gegee het om beleggings na gelang van sy beste oordeel namens die fonds te doen, sonder om die trustees te raadpleeg.

Volgens Gordhan, wie se antwoorde tegnies gegrond is op inligting wat van Transnet ontvang is, het Regiments die betalings aan Trillian gedoen vir dienste gelewer tydens die strukturering van 'n beleggingstransaksie. Maar die fonds het later gevind geen sulke gelde was betaalbaar afsonderlik van die kostestruktuur waarop oorspronklik in sy ooreenkoms met Regiments oor sy beleggingsbestuursmandaat ooreengekom is nie.

Volgens Gordhan het Transnet ontken dat die fonds 'n oop mandaat aan Regiments gegee het.

Die fonds is dieselfde fonds waaraan sowat 50 000 afgetrede Transnet-werkers behoort wat tans onder erge geldelike druk is weens jaarlikse pensioengeldverhogings van net 2%. Die pensioentrekkers is in 'n groepseis teen die fonds en Transnet gewikkel om meer as R80 miljard van hulle te eis.

Volgens Gordhan was die trustees se besluit om Regiments aan te stel as beleggingsadviseur geneem ingevolge die reëls van die fonds.

Die trustees wat die besluit geneem het, was H. Gazendam, Y. Forbes, E. Tshabalala, R. Louw, V. Naidoo, C. Fichardt. J. Benwell, M. Myburgh en J. Grobler. Alberts wou weet of enige van hulle voorheen of tans in die Transnet-direksie gedien het. Gordhan het bevestig dat Gazendam, Forbes en Tshabalala wel voorheen in die Transnet-direksie gedien het.

Op 'n vraag van Alberts het Gordhan gesê Transnet se direksie het nie enige rol gespeel in die aanstel van Regiments Capital as beleggingsadviseur van die fonds nie.

Die verdagte en problematiese rol wat Regiments Capital, Trillian Capital Partners en ander maatskappye in staatskaping gespeel het, sal verder ondersoek word deur die direksies van staatsondernemings, asook na verwagting deur die Zondo-kommissie, het Gordhan gesê.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM