Die wêreld van kriptogeldeenhede het in 2021 - ondersteun deur 'n aantal hoëprofiel-instellings wat op veel groter skaal as voorheen in kripto belê het - groot hoogtes bereik.
Die beleggings was soveel dat kriptogeld 'n bateklas geword het wat nou duisende miljard dollar werd is.
Bitcoin en ethereum bly die twee grootste kriptogeldeenhede volgens markkapitalisasie, met bitcoin wat volgens die webwerf Time sy waarde in 2021 verdubbel het.
Marius Reitz, hoofbestuurder van Luno Afrika, 'n plaaslike kriptoplatform, gee 'n oorsig van die belangrike mylpale gedurende die jaar.

Hoogtepunte
"Die bitcoin-prys het op 5 November sy hoogtepunt van $68 000 bereik. Dit is 'n massiewe toename teenoor die $28 000 waarin dit in Desember verlede jaar verhandel het," het Reitz gesê. Dis 'n styging van nagenoeg 143%.
Hy voeg by dat die kriptomark ook 'n paar moeilik dae beleef het.
"Kriptogeldeenhede is steeds 'n nuwe alternatiewe bateklas en wisselvalligheid sal dit na verwagting nog 'n rukkie kenmerk."
Daar was in Julie 'n skerp daling tot onder $30 000 voordat bitcoin weer opgeskiet het.

Instansies begin inkoop
In die VSA het gerekende finansiëledienstefirmas soos Fidelity, Goldman Sachs en JP Morgan die kriptomark betree.
Daar was 'n rekordinvloei na die beursverhandelde fonds (ETF) Proshare Bitcoin, wat deur Fortune "as 'n klein begin" beskryf word.
Microstrategy, 'n Nasdaq-genoteerde sake-intelligensiemaatskappy, het gedurende die jaar voortgegaan om bykomende bitcoin te koop en besit nou sowat $6 miljard. "Dit is beskou as 'n groen lig vir ander maatskappye in die VSA om kripto te aanvaar."
Betalingsdiensteverskaffers het blokketting- en kripto-oplossings begin aanneem, met groottes soos PayPal, Venmo, Mastercard, en selfs Twitter, wat kliënte in staat stel om transaksies in bitcoin te doen.
"In Suid-Afrika het Capitec en Discovery Bank vennootskappe gevorm om kripto as 'n nuwe produkaanbieding te lys."
Kripto se waarde vir groeiende ekonomieë
El Salvador het die eerste land geword het wat kripto as wettige betaalmiddel aanvaar het. Dit beteken dat kleinhandelaars wetlik verplig is om bitcoin as betaling te aanvaar.
"Die stap is met hewige steun én kritiek ontvang, maar dit bevestig wel die waarde van kriptogeldeenhede as 'n manier vir ontwikkelende ekonomieë om wêreldwye finansiële stelsel te omseil."

Volwassenheid
Digitale bates en kripto-ondernemings het massiewe groei getoon, ook in hul aandeelpyrs, wat vir Reitz op volwassenheid in die sektor dui.
Coinbase het op die Nasdaq genoteer met 'n markwaarde van $62 miljard aan die einde van sy eerste dag van verhandeling.
"Dit was positief vir die bedryf, wat vertroue en deursigtigheid verhoog het. Om 'n openbare maatskappy van dié grootte te hê wys dat kripto-verwante ondernemings, en die kripto-bateklas, ernstig opgeneem moet word."
Kripto as 'n bate
Luno het vanjaar 'n rekordgroei van sy kliëntebasis gehad.
Die Suid-Afrikaans gebore platform het nou meer as 9 miljoen gebruikers in 40 lande.
Die aantal maandelikse aktiewe kliënte wat kripto koop of verkoop, het sedert 2020 verdubbel.
"Ons sien kliënte hou hul kripto gemiddeld tien maande, vergeleke met 'n gemiddeld van net drie maande in 2017."

Regulering
Wêreldwyd is bewegings gesien om kripto te reguleer.
'n Aantal sentrale banke het selfs digitale geldeenhede uitgereik. Nigerië het die e-Naira in 2021 bekendgestel en Suid-Afrika ondersoek 'n digitale geldeenheid.
Noorweë se sentrale bank het egter kripto verwerp omdat dit so onstabiel is. Die land het boonop onlangs voorgestel dat 'n verbod op bitcoin-myn in Europa ingestel word omdat dit soveel elektrisiteit verg om bitcoin te myn, het Euronews berig.
In Suid-Afrika werk reguleerders daaraan om vroeg volgende jaar 'n raamwerk bekend te stel wat kriptogeldeenhede reguleer.
"Luno is ten gunste van regulering van die sektor en glo dat die aanvaarding van regulasies positiewe newe-effekte vir die kripto-bedryf tot gevolg sal hê," sê Reitz.




















