Beleggings

Caroline da Silva bedank by FSCA

Caroline da Silva, hoof van beleid van die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (FSCA), het bedank.

Caroline da Silva
Caroline da Silva

Haar bedanking is deur die FSCA aangekondig en is van 31 Oktober af van krag.

"Op die oomblik het Caroline geen planne oor die volgende hoofstuk van haar beroepslewe nie," lui die verklaring.

Netwerk24 het in Julie 2018 berig Abel Sithole, wat toe as die kommissaris van die FSCA gedien het, het haar en drie ander op tweejaarkontrakte as die hoofde van vier van die bedryfsafdelings van die owerheid aangestel.

Haar kontrak het dus waarskynlik nou tot 'n einde gekom.

Sy het sewe jaar lank by die FSCA en sy voorganger, die Raad op Finansiële Dienste (RFD), gewerk.

Adv. Dube Tshidi, wat sowat twee weke gelede as kommissaris van die FSCA aangestel is, het haar bedank vir haar werk as 'n "onskatbare lid van die uitvoerende bestuurspan" en die belangrike rol wat sy gespeel het in die oorgang van die RFD na die FSCA.

Da Silva is beter bekend in haar rol as adjunk-registrateur verantwoordelik vir nakoming aan die Wet op Finansiële Adviseurs en Tussengangers (Fais).

Sy het ook al in die pos van adjunk-registrateur van versekering van die RFD gedien.

Van haar verantwoordelikhede in die beleidsafdeling was toesig oor wetgewing, navorsing en skakeling asook verbruikersopvoeding en finansiële tegnologie.

Tshidi sê voorbereiding word gedoen om die pos te vul.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM