Beleggings

Regulering van kripto ‘skei goeies en slegtes’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) gaan nie met die toekomstige regulering van kripto-geldeenhede inmeng met beleggers se keuses nie, want mense is vry om te kies in watter bates hulle wil belê. Maar mense moet gewaarsku word hulle kan hul geld verloor, want om in kripto-geld te belê is nie dieselfde as 'n bankdeposito nie.

Kuben Naidoo, 'n adjunkpresident van die SARB, het vandeesweek gesê nuwe regulasies oor kripto-geldeenhede kan binne die volgende 12 tot 18 maande in Suid-Afrika geïmplementeer word om die veiligheid van platforms vir kripto-bates te verseker, misdade soos geldwassery te identifiseer en beleggers te help beskerm.

Thomas Lobban, 'n kenner op die gebied van kripto-belasting by Tax Consulting SA, sê Suid-Afrikaners kan verlig wees dat die SARB nie 'n verbod plaas op oorgrens-kripto-verhandeling en -belegging nie, maar kripto-beleggers moet weet hulle moet steeds sulke transaksies aanmeld soos vereis, en seker maak hulle kom hul volle belastingplig na.

Mirror Trading International (MIT), waarin derduisende mense oor die wêreld heen miljarde rande verloor het wat in kripto-bates belê is, is een van die onlangse slenters waar verbruikers sleg ingeloop is.

Die Amerikaanse Commodity Futures Trading Commission (CFTC) het MIT onlangs vir bedrog van ongeveer $1,7 miljard aangekla oor die "wanaanwending" van die bitcoin wat beleggers gekoop het, berig coindesk.com.

Naidoo het gesê die eerste stap is om kripto-bates tot 'n finansiële produk te verklaar om beter toesig te kan hou oor moontlike geldwassery, belastingontduiking en die finansiering van terroriste-bedrywighede. Volgens hom het baie rolspelers aangedui strenger kripto-regulering sal help om die gebruik van die tegnologie wettig te maak. Die regulering is bedoel om die "goeies en die slegtes te skei".

Hy het gesê die gebruik van kripto vir geldwassery en ander onwettige bedrywighede wek kommer. "Sowat 90% van transaksies in Amerika waar met kripto betaal word, is vir dwelms of dobbel waar mense anonimiteit wil hê. Kubermisdadigers gebruik ongelukkig ook kripto om afkoopgeld te eis, en om oorgrens-ontvoerings en internasionale misdade te finansier."

Lobban en Ruan Stander, 'n spesialis oor belasting op kripto-bates, sê as die regulasies geïmplementeer word, sal enigeen wat advies of tussengangerdienste bied oor kripto-bates, kragtens die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (FAIS) as finansiële diensverskaffer erken moet word. "Dit sluit Suid-Afrikaanse platforms vir kripto-bates, makelaars en adviseurs in."

Volgens Lobban sal dit amptelik die einde wees van die "kripto-Wilde Weste" in Suid-Afrika.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM