Beleggings

Wêreldmarkte: Wat jy nou moet weet

Internasionale aandeelmarkte het Augustus goed begin, maar het later teruggesak namate beleggers minder risiko's begin waag het.

Dawid Botha
Dawid Botha

Dit word weerspieël deur 'n sterker Amerikaanse dollar en kommoditeitspryse wat verswak het, soos in die meegaande grafiek aangedui.

Delta-variant skep hernude onsekerheid

Covid-19-terugslae, veral in Suidoos-Asië, het vrae laat ontstaan oor die pas van ekonomiese herstel. Soos in Suid-Afrika stel verskeie wêrelddele weer strenger inperkingsmaatreëls in om die verspreiding van die virus te beperk.

Fed-notule pla markte

Die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) se beleidsbesluite word om goeie rede met valkoë deur markdeelnemers dopgehou.

Verruimingsmaatreëls en rentekoerse het die belangrikste korttermyn-impak op markte en wisselkoerse.

Amerikaanse federale rentekoerse is steeds naby nul, maar markte het negatief gereageer op aanduidings in die notule van die Fed se Julie-vergadering dat die Fed dit oorweeg om die verruimingstempo af te skaal.

Die Fed leen tans maandeliks $120 miljard aan die Amerikaanse regering en ander leners, met die doel om die Amerikaanse ekonomie te steun terwyl dit herstel van die ekonomiese nagevolge van Covid-19. Dié lenings verskyn as bates op die Fed se balansstaat, met die omvang daarvan wat in die meegaande grafiek aangedui word.

Die Fed se bates het sedert die aanvang van die pandemie verdubbel.

Die jaarlikse ekonomiese simposium van sentrale bankiers in Jackson Hole in Wyoming, Amerika, het ook die afgelope week plaasgevind.

Wat Jerome Powell, voorsitter van die Fed, daar gesê het, was ten tyde van die skrywe hiervan nog nie bekend nie; die gevolge daarvan sal in die volgende maand se rubriek aangeraak word.

Swakker ekonomiese data uit China

Die voortgesette owerheidsmaatreëls in China se tegnologiesektor skep steeds onsekerheid.

Onlangse Chinese syfers oor verbruikersbesteding en vervaardiging was ook nie so sterk soos verwag nie, deels te wyte aan die hernude Covid-19-inperkings wat aan die einde van Julie ingestel is.

China se nul-toleransiebeleid wat Covid-19 betref, kan dalk heelwat korttermyn-pyn veroorsaak, maar die jongste syfers dui daarop dat nuwe Covid-19-gevalle in China feitlik weer nul is.

Die groot vraag is in watter mate die ekonomiese herstel in China spoed verloor. Die krag van die Chinese ekonomie is veral belangrik vir kommoditeitspryse, aangesien China verreweg die wêreld se grootste verbruiker van kommoditeite is.

Hervorming van die Duitse DAX 30

Op plaaslike bodem was daar groot veranderinge in Naspers en Prosus se gewig in die JSE se indeks van alle aandele.

Boonop gaan die bekendste Duitse beursindeks, die DAX 30, op 20 September ná 33 jaar sy eerste groot hervorming ondergaan en dit sal voortaan uit 40 maatskappye bestaan.

Herhaalde vlae Covid-19-infeksies knou wêreldgroei, wat dit ook vir beleggers moeilik maak om besluite te neem. Foto: iStock
Herhaalde vlae Covid-19-infeksies knou wêreldgroei, wat dit ook vir beleggers moeilik maak om besluite te neem. Foto: iStock

Maatskappyresultate

Facebook en Amazon het aan die einde van Julie hul resultate vir die tweede kwartaal aangekondig.

Facebook, wat ook die Instagram- en WhatsApp-platform besit, het verwagtinge oortref. Die verdubbeling in verdienste vir die tweede kwartaal van 2021 is veral indrukwekkend as in ag geneem word dat dit die vorige jaar ook verdubbel het.

Facebook se platforms het tans 2,76 miljard daaglikse gebruikers en die aandeelprys is 33% hoër vir die jaar.

Amazon het ook goeie resultate bekend gemaak. Sy verdienste was heelwat hoër as ontleders se verwagtinge. Laer as verwagte omsetsyfers en aanduidings van laer groeisyfers in die derde kwartaal het markte egter onkant betrap.

Al verwag Amazon steeds meer as $100 miljard in omset vir die derde kwartaal, is die aandeelprys ongeveer 9% laer sedert hy sy resultate uitgereik het.

Ons internasionale kliënte het wesenlike blootstelling aan albei maatskappye gegewe die sterkte van hul bedrywighede, groot kliëntebasisse en hul deurlopende belegging in groeigebiede.

  • Dawid Botha is 'n portefeuljebestuurder by PSG Wealth Winelands. Suur 'n e-pos aan dawid.botha@psg.co.za. Dié rubriek, wat maandeliks gepubliseer word, is 'n algemene oorsig oor veral wêreldaandele en nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie.
Dawid Botha

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM