Beroepe

6 tendense waarop werkgewers moet let

Tafelsokker by die werk, enigiemand?

Die tempo waarteen werkplekke verander, neem toe namate ondernemings meeding om noodsaaklike vaardighede te lok en te behou en werknemers se behoeftes meer divers raak.

Dit kan werkgewers dus duur te staan kom as hulle nie die volgende werkplekneigings in ag neem nie.

Die ontspanningsarea vir werknemers van 'n beginneronderneming in Singapoer. Die koste daaraan verbonde om sulke ruimtes in te rig, is minder as die koste van die verlies aan produktiwiteit omdat werknemers ongelukkig is by die werk, het navorsing bevind. Foto: Getty Images
Die ontspanningsarea vir werknemers van 'n beginneronderneming in Singapoer. Die koste daaraan verbonde om sulke ruimtes in te rig, is minder as die koste van die verlies aan produktiwiteit omdat werknemers ongelukkig is by die werk, het navorsing bevind. Foto: Getty Images

1. Toenemende mededinging om talent te lok

Maatskappye se behoefte aan vaardige werkers neem toe, maar hulle sukkel wêreldwyd om bevoegde werknemers te lok en te behou.

Dit sluit in ondernemings in lande soos Suid-Afrika, Italië, China, Japan en Amerika.

Linda Trim, direkteur van Giant Leap, 'n maatskappy wat spesialiseer in werkplekontwerp, sê maatskappye sal moeite moet doen om te voldoen aan werknemers se behoeftes en verwagtinge van die werkplek.

"Opwindende kantore is een taktiek om talent te werf en te behou. Aanpasbare werkure en keuses oor waar, wanneer en hoe werk gedoen word, is noodsaaklik om die beste mense te lok."

2. Meer mense werk van die huis af

Werknemers wat regstreeks met data of inligting werk, werk toenemend van buite die kantoor af.

Giant Leap sê 'n derde van dié werknemers werk reeds elke dag van die huis of van 'n ander plek as die kantoor af. Dit geld sowel die private as die openbare sektor.

Mense doen hul werk in vliegtuie, hotelle, by klante en tuis. Hulle moet ondersteun word met tegnologie en sakeprosesse wat hulle in staat stel om doeltreffend te werk waar hulle ook al is.

Onder diegene wat meer op kantoor is, benut net 40% die aangewese werkruimte. Hulle beweeg veel eerder in die kantoor rond om hul take af te handel.

"Mobiliteit is noodsaaklik vir die hedendaagse arbeidsmag. Mense doen hul werk in vliegtuie, hotelle, by klante en tuis.

"Hulle moet ondersteun word met tegnologie en sakeprosesse wat hulle in staat stel om doeltreffend te werk waar hulle ook al is," sê Trim.

3. Werkruimtes moet vir verskillende soorte bedrywighede voorsiening maak

Die dae dat werknemers net een soort taak verrig, is lankal verby. Die werklading van hedendaagse werknemers is so dinamies soos hul spesifieke stel vaardighede en benodig dus kantore wat hierdie behoeftes weerspieël.

Trim sê maatskappye sal baat vind by doelgerigte gebiede in kantore waartussen werknemers kan beweeg.

"Afgebakende ruimtes kan informele en formele vergaderplekke, projekvertrekke, individuele werkruimtes of ruimte vir blaaskanse insluit. Dit sal die tekortkominge van uitsluitlik sellulêre of oopplan-omgewings die hoof bied. Een oplossing pas almal nie," sê Trim.

4. Geboue kan produktiwiteit help of belemmer

Geboue kan die algehele produktiwiteit en prestasie van spanne met tot 12,5% verbeter of met tot 17% verminder, luidens 'n Carnegie Mellon-studie oor kantoorgeboue.

'n Verskil van tot 30% in werknemerprestasie is dus van toepassing wanneer die swaks ontwerpte geboue met die bestes vergelyk word.

"Interessant genoeg, dieselfde faktore wat produktiwiteit aanhelp, kan dit inhibeer. Sommige soort agtergrondgeraas kan byvoorbeeld produktiwiteit vir roetine- of administratiewe take verhoog. Tog kan dieselfde klank uiters steurend wees wanneer werknemers navorsing doen of skryf," sê Trim.

Die algemeenste gebouverwante struikelblokke vir produktiwiteit sluit in temperatuur, luggehalte, gebrek aan natuurlike lig, geraas, ruimtes wat oorvol voel en swak ergonomie.

5. Aanpasbare werkure lei tot gelukkiger en doeltreffender werkers

Aanpasbaarheid oor hoe, waar en wanneer mense hul take aanpak, is nie net gewild onder werknemers nie, maar verseker ook dat meer van hulle betrokke by hul werk voel.

Amerikaanse navorsing - "Workplace Flexibility: Research to Action"- het gekyk na watter persentasie werknemers betrokke by hul werk voel. Dit was onderskeidelik 30% van werknemers met 'n hoë vlak van aanpasbaarheid, 19% van werknemers met 'n middelmatige vlak, en net 10% van werknemers met 'n lae vlak van aanpasbaarheid.

6. Mense is die belangrikste hulpbron

Die koste om 'n werkplek hierby aan te pas kan hoog wees, maar dit kan 'n maatskappy duurder te staan kom wat betref verlies aan produktiwiteit en 'n hoë omset van werknemers as hy dit nie doen nie.

Volgens Giant Leap verloor ondernemings baie meer weens ontevrede en onproduktiewe werknemers as met opgraderings.

Trim verwys na navorsing van 2012 wat bevind het die koste van afwesigheid - insluitend sogenaamde "presenteeism", waar mense wel by die werk is, maar hul produktiwiteit onder hul gesondheid en gesindheid ly - kan tot 4% van die bedryfskoste beloop.

"Hoewel die ontwerp en bou van werkplekke van goeie gehalte duur is, kan dit nie vergelyk word met die koste van werknemers wat nie betrokke voel, nie gesond is en dus nie optimaal presteer nie," sê Trim.

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM