Stellings soos " 'n bedryf vol ou, wit mans" en raadgewende ingenieursfirmas "wat net belang stel om geld te maak", wys die geloofwaardigheid van dié sektor word bevraagteken, sê Lynne Pretorius, president van die vereniging van raadgewende ingenieurs (Cesa).

Geloofwaardigheid is nodig sodat ingenieurs, en veral raadgewende ingenieurs, 'n kritiek belangrike rol in die land se infrastruktuurontwikkeling kan speel, het Pretorius op 'n mediasessie in Johannesburg gesê. Daarom fokus Cesa vanjaar op transformasie in die sektor. Dit is die regte ding om te doen, glo sy.
Dit gaan vir Cesa nie net daaroor om transformasiedoelwitte te bereik nie, maar ook oor die algehele, volhoubare ontwikkeling van alle ingenieurspersoneellede tot die vlak van professionele registrasie.
Uit 'n tweejaarlikse opname onder Cesa-lede blyk dit daar was die afgelope vier jaar geen noemenswaardige toename in lede se swart personeel nie.
Teen Junie verlede jaar was 53% van die personeel van Cesa se lidfirmas wit.
Onder professionele ingenieurs is dié syfer 84%. Die laaste paar jaar was daar wel 'n toename in die getal swart professionele ingenieurs wat tot uitvoerende vlak bevorder is.
Die opname wys ook swart mense werk laer in die professionele hiërargie, as tegnici, tegniese assistente en laboratorium- of opnemerassistente.
Vroue maak net sowat 6% van alle raadgewende ingenieurs by Cesa-lede uit.
Pretorius sê wanneer Cesa met die openbare sektor praat oor sake, wil laasgenoemde weet wie Cesa eintlik verteenwoordig. Feit is, meer as 75% van raadgewende ingenieurs in Suid-Afrika is steeds wit mans.
Van Cesa se 533 lidfirmas was net 23% in Desember in swart besit van meer as 51%.
Vroue maak net sowat 6% van alle raadgewende ingenieurs by Cesa-lede uit.
"Swart eienaarskap onder ons lede is baie laag in alle firmas, ongeag hul grootte. Ons moet swart ingenieurs se deelname aan die beroep op verskeie vlakke onder ál ons lede bevorder. Deur Cesa se lidmaatskap te transformeer, sal ons uiteindelik die raadgewende ingenieursberoep transformeer."
Pretorius sê ook die vereniging sal bykomende inligting oor transformasie van sy lede vra omdat die huidige telkaarte vir breë swart ekonomiese bemagtiging nie noodwendig 'n aanduiding van transformasie is nie.
Volgens data van die Ingenieursraad van Suid-Afrika (Ecsa) is die gemiddelde ouderdom van ingenieurs in die land 38 jaar - 27% is onder 30, 44% tussen 30 en 50 en 29% ouer.
Die getal senior ingenieurs neem af en die relatief lae gemiddelde ouderdom kan dui op beperkte ondervinding, maar wys wel afgestudeerde ingenieurs kom deur die stelsel, sê Pretorius.
Sy haal navorsing deur dr. Allyson Lawless aan wat bevind het swart ingenieurspersoneel in munisipaliteite het aansienlik toegeneem tussen 2000 en 2015.
Lawless het benadruk jong ingenieurs ontwikkel deur 'n proses wanneer hulle probleme en oplossings ondersoek, beperkinge en risiko's in ag neem, oplossings implementeer, asook hulpbronne, personeel en begrotings bestuur en só verantwoordelikheid aanvaar vir hul besluite. Dié mentorskap verg 'n gekoördineerde poging deur 'n span praktiserende raadgewende ingenieurs.
Lawless sê as in ag geneem word die aantal senior ingenieurs in munisipaliteite neem af, is die vraag wie die jong ingenieurs mentor.
Pretorius sê senior ingenieurs op plaaslike regeringsvlak word minder weens aftrede en die implementering van breë swart ekonomiese bemagtiging wat 'n uitwerking gehad het op die getal wit senior ingenieurs. "Ons moet eerlik wees daaroor: die mense verlaat munisipaliteite omdat hulle nie professionele vooruitgang sien nie."
Cesa wil 'n stelsel help skep vir mense om as professionele ingenieurs te registreer deur betrokkenheid by programme om wiskunde- en wetenskapkennis onder hoërskoolleerlinge te bevorder, studente in die ingenieurswese te ondersteun, en deur mentorskapprogramme in die werkplek.















