Beroepe

Arbeidsentrum in Kaapstad toe weens koronavirus

'n Werknemer van die departement van indiensneming en arbeid in Kaapstad, het positief getoets vir die koronavirus. Foto: Reuters
'n Werknemer van die departement van indiensneming en arbeid in Kaapstad, het positief getoets vir die koronavirus. Foto: Reuters (Reuters)

Die departement van indiensneming en arbeid se arbeidsentrum in Kaapstad sal Maandag gesluit wees.

Dit volg nadat 'n werknemer by dié sentrum positief getoets is vir die koronavirus.

Die departement sê Sondag in 'n verklaring dat hy die sentrum gaan sluit sodat dit ontsmet kan word. Alle kollegas van die betrokke werknemer word ook opgespoor sodat hulle vir die virus getoets kan word. Die departement sê hulle is in kontak met 30 ander werknemers.

Hulle sal almal nou selfisoleer.

Die departement sê dit is juis omdat alle werknemers elke dag deur 'n siftingsproses gaan, dat daar besluit is om die betrokke individu vir die virus te laat toets.

Hoewel die arbeidsentrum reeds sedert einde Maart vir die publiek gesluit was toe die staat van inperking in werking gestel is, het werknemers steeds werk toe gegaan. Die werknemer wat nou positief getoets is vir die virus, het luidens die departement geen kontak gehad met die publiek nie.

Dit is die tweede arbeidsentrum in die Wes-Kaap wat gesluit moes word weens 'n werknemer wat positief vir die virus getoets is. Die departement beplan om die sentrum weer op Dinsdag, 9 Junie oop te maak. Die sentrum sal op 10 Junie oop wees vir die publiek.

Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM