Beroepe

Beurtkrag, emigrasie knou huiswerkers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Huiswerkers betoog op 16 Junie in Pretoria teen swak werksomstandighede, seksuele teistering en swak lone. Foto: Gallo Images
Huiswerkers betoog op 16 Junie in Pretoria teen swak werksomstandighede, seksuele teistering en swak lone. Foto: Gallo Images

Beurtkrag, inflasie, stygende rentekoerse en lewenskoste en die breinkwyn knou ook die lewe van huiswerkers, wys SweepSouth se jongste jaarlikse verslag.

Die deursneehuiswerker bestee R694 meer as wat sy verdien per maand en is daarom nie in staat om te spaar nie, behoort nie aan enige mediese fonds nie en skuld R3 599 aan onder meer winkels, vriende en mikroleners, wys SweepSouth se verslag oor die verdienste en werkstoestande van huiswerkers.

Tot 75% van huiswerkers verdien nie genoeg geld om te kan spaar nie, net 9% van hulle het wel die een of ander vorm van spaargeld en 35% van hulle het skuld, wys die verslag.

Met stygende lewenskoste, soos kospryse wat oor die jaar met 12% gestyg het, beteken dit dat soveel as 42% van huiswerkers ook ander bronne van inkomste moet vind.

Daar was die afgelope jaar ook heelwat werksverliese onder huiswerkers. Dit is veral weens werkgewers wat verhuis, en 59% van dié werkgewers verhuis oorsee. Altesaam 15% meer huiswerkers het hul werk verloor weens die breinkwyn (vaardige mense wat emigreer) van hul werkgewers as 'n jaar gelede, wys die verslag.

Van die huiswerkers wat hul werk verlede jaar verloor het, was 68% boonop nie by die Werkloosheidsversekeringsfonds geregistreer nie, en slegs 52% van dié wat wel geregistreer was, kon suksesvolle eise vir werkloosheidsvoordele by dié staatsbeheerde fonds indien.

SweepSouth se jaarlikse peiling is vanjaar na 27 000 huiswerkers uitgestuur en 8 331 het gereageer.

Die peiling het vanjaar vir die eerste keer ook gekyk na die impak van beurtkrag. Baie huiswerkers wat hul werk die afgelope jaar verloor het, voel beurtkrag het daartoe bygedra. Kragonderbrekings het hul veiligheid geraak wanneer hulle na en van die werk reis, en baie van hulle se reistyd is aansienlik langer weens beurtkrag.

Luke Kannemeyer, besturende direkteur van SweepSouth, wys wel daarop dat huiswerkers wat die SweepSouth-platform gebruik om werk te kry, meer geld verdien as die vorige jaar. SweepSouth is 'n aanlyn platform en slimfoon-app waardeur huishoudings 'n huiswerker kan bespreek vir ad hoc- of herhalende huiswerkerdienste.

Demografie

Die peiling wys die meeste huiswerkers in Suid-Afrika is Zimbabwiërs. Tot 56% van alle huiswerkers in Gauteng en 64% van huiswerkers in die Wes-Kaap is van Zimbabwe, op grond van die deelname aan die peiling. Suid-Afrikaners verteenwoordig onderskeidelik 40% en 31% van die huiswerkers in Gauteng en die Wes-Kaap.

Werksrolle

Skoonmaakwerk verteenwoordig 96% van die primêre rol wat huiswerkers in hul dagtaak vervul, wys die peiling, gevolg deur kindersorg (26%), kosmaak (16%), versorging van bejaardes (13%), spesiale sorg (10%) en tuinwerk (8%).

Tot 40% van die huiswerkers wat hul werk die afgelope jaar verloor het, het aangedui dit was omdat hul werkgewer verhuis het, wat aansienlik hoër is as die 25% in 2022.

Sowat 40% van die respondente glo hulle is die afgelope jaar vir geen goeie rede nie afgelê. Volgens SweepSouth is dit wel minder as in die vorige jaar se peiling, maar is dit steeds sorgwekkend en behoort verder ondersoek te word. Net minder as een uit elke vyf respondente wat hul werk verloor het, glo beurtkrag het 'n rol gespeel.

Inkomste

Huiswerkers op SweepSouth se platform kon hul verdienste van 2019 tot vanjaar van gemiddeld R3 600 per maand tot R4 999 per maand verhoog, wys die peiling.

Huiswerkers wat nie op die platform is nie, se verdienste het oor dieselfde tyd van R2 400 tot R2 992 geklim.

Hierteenoor is die minimum loon vir huiswerkers tans op R4 067 per maand, gegrond op R25,42 per uur vir 'n werktyd van 160 uur per maand.

SweepSouth meen die verhogings in minimum lone vir huiswerkers het die laaste paar jaar wel opwaartse druk geplaas op wat huiswerkers verdien. Maar die onlangse golf van werkverliese weens die swak ekonomie en migrasie van werkgewers beklemtoon die behoefte aan die beter afdwinging van regulasies en steun vir sowel huiswerkers as hul werkgewers, volgens SweepSouth.

Skuld

Tot 35% van huiswerkers dui aan hulle het skuld en 35% van dié met skuld sê hulle weet nie hoe lank dit hulle gaan neem om die skuld af te betaal nie.

Die helfte sê hulle skuld geld aan winkels, met 26% wat geld aan vriende skuld, 19% aan mikroleners, 17% aan familie en 15% aan hul bank.

Net 16% glo hulle kan hul skuld binne twee maande terugbetaal.

Wat veral kommer wek, is dat 18% van dié met skuld meer as R10 000 se skuld het. In totaal is daar 44% wat meer as R4 000 se skuld het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM