Beroepe

Daar ís werk vir dié met regte opleiding

(Hanlie Stadler)

Suid-Afrika het dié week nóg 'n bedenklike rekord aangeteken: die land se hoogste werkloosheidsyfer nog. Volgens die jongste arbeidsmagpeiling wat Dinsdag deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) bekend gemaak is, het 27,1% van die bevolking tans geen werk of inkomste nie.

Onderwys en risikobestuur - werk waarna die aanvraag hoog kan bly.

Maar daar is steeds werk as jy die regte kwalifikasies het.

Daar is tans veral geleenthede vir mense met grade in ingenieurswese, aptekerswese, risikobestuur en bedryfswiskunde, sê Pieter Steyn van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Onderwys is ook steeds 'n goeie keuse, sê hy.

Head Hunters International, 'n personeelagentskap, sê hulle ondervind op die oomblik 'n groot aanvraag na gekwalifiseerde ingenieurs en poste in die finansiële sektor.

Maar die feit dat ingenieurswese nou 'n gesogte kwalifikasie is, beteken nie dat dit altyd so sal bly nie, waarsku 'n woordvoerder van Head Hunters International. Nuwe tegnologie kan sekere soorte ingenieurs in die toekoms oorbodig maak.

Omdat baie hoogs gekwalifiseerde mense oorsee gelok word, bly die vraag na personeel hoog in dié sektore waar ons kwalifikasies internasionaal aanvaar word.

Wat die toekoms betref, reken Head Hunters International dat inligtingstegnologie, onderwys, finansies en digitale media dié bedrywe is waar poste geskep eerder as verminder gaan word.

Steyn stem saam dat onderwys 'n goeie keuse is. Hy plaas risikobestuur (bedryfswiskunde) daarmee saam aan die bopunt van die behoefteskaal vir die toekoms.

SSA se arbeidsmagpeiling vir die derde kwartaal toon 'n duidelike afname in spesifieke sektore soos landbou en mynbou. Die grootste verlies aan werkgeleenthede op 'n jaargrondslag was in die sektore van vervaardiging, wat 'n afname van 4% getoon het, en ambagte wat 'n afname van 3,7% getoon het.

Die sektore wat die meeste groei op 'n jaargrondslag getoon het, is finansies (wat met 3,6% gegroei het) en konstruksie, wat met 1,1% gegroei het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM