
'n Inisiatief gemik op vaardigheidsontwikkeling wat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in 2017 op die been gebring het, het vanjaar in Davos bekend gemaak hy het reeds ondernemings gekry van rolspelers vir die opleiding van meer as 17 miljoen mense wêreldwyd.

Die inisiatief, wat in samewerking met Tata Consultancy Services begin is, het volgens die WEF-webblad die steun van openbare en private vennootskappe om vaardighede wat in die toekoms vereis sal word, te bevorder in onder meer Suid-Afrika, Argentinië, Indië en Oman.
Luidens 'n studie waarvan die resultate in Davos bekend gemaak is, sal regerings na verwagting moet pa staan vir 86% van die $34 miljard wat die heropleiding sal kos van werkers wat in die volgende tien jaar deur tegnologie uit hul poste gedwing sal word.
Pres. Cyril Ramaphosa het gesê Afrika moet die vierde nywerheidsomwenteling benut en jong mense oplei vir die werkgeleenthede wat tegnologiese vooruitgang sal bring.
Ramaphosa en sy Rwandese eweknie, Paul Kagame, het 'n kultuur van lewenslange opleiding bepleit. Kagame sê 'n kind se onderrig begin "in die baarmoeder as sy ma die regte voeding kry".
Sjinzo Abe, Japan se premier, gaan sy land se G20-voorsitterskap gebruik vir die daarstel van 'n agenda oor databestuur.




















