Youlandé Prinsloo is 'n arbeidspesialis. Vrae oor arbeidsprobleme kan aan haar gerig word by Sake-Rapport, Posbus 333, Auckland Park, Johannesburg 2006 en by faks-tot-e-pos-nommer 0865 347 192. Briewe word nie persoonlik beantwoord nie. Nie alle briewe sal beantwoord word nie.
Doen die regte ding oor dié bonus

Vraag:
Ek is 'n trustee by ons meenthuiskompleks. Van die trustees het nou besluit om nie in Desember bonusse aan ons werknemers te betaal nie.
Ons het vyf werknemers by die kompleks. Hulle het nog elke jaar 'n bonus gekry en werk al baie jare by ons.
Ek wil graag baklei dat hul wel hul bonus kry. Sal ons dit vanjaar net kan terughou?
Antwoord:
Ek is so bly dat jy vir jul goeie werknemers opkom en hulle soos in die verlede vir getroue diens wil vergoed.
Wat sê die dienskontrak? Jy sal moet vasstel of die betaling van 'n bonus 'n gewaarborgde betaling is ingevolge hul dienskontrak. Indien wel, sal die werknemers geregtig wees op die betaling van 'n bonus en sal die werkgewer (trustees) dit nie net kan weier nie.
Indien daar kontraktueel op die betaling van bonusse ooreengekom is en 'n werkgewer skielik net ophou om dit te betaal, sal dit op 'n eensydige verandering van die diensvoorwaardes neerkom.
Dit sal onbillike arbeidspraktyk wees ingevolge art. 186 en 191 van die Wet op Arbeidsverhoudinge (wet 66 van 1995) en ook op kontrakbreuk neerkom. In so 'n geval sal die werknemer stappe kan doen om die werkgewer te dwing om hom die bonus te betaal.
Is dit 'n diensvoorwaarde? Indien die werkgewer wel die afgelope paar jaar bonusse aan werknemers betaal het, ongeag wat die dienskontrak bepaal, het dit ook 'n diensvoorwaarde geword dat die werknemers elke jaar 'n bonus sal ontvang.
Goeie, betroubare werknemers wat hul werk ken, moet opgepas en dien-ooreenkomstig vergoed word.
Sou die werkgewer net die werknemers inlig dat hulle nie soos in die laaste paar jaar bonusse gaan ontvang nie, kan dit vir die werkgewer probleme beteken en sal die werknemers die betaling van daardie bonus kan afdwing, aangesien hul diensvoorwaardes eensydig verander is.
Werknemers moet betyds ingelig word: Dit sal onbillik van die werkgewer wees om die werknemer nie oor die niebetaling van bonusse in te lig nie of hulle eers op die laaste minuut in te lig, soos in jou geval.
Die trustees sal nie 'n maand voordat bonusse betaal moet word die werknemers wat reeds op die bonusse staatmaak en daarvolgens beplan het, kan inlig dat hulle dit nie vanjaar kry nie.
Dink vooruit: Jy noem dat die werknemers al baie jare by die kompleks werk en goeie werknemers is wat hul werk ken.
Om hulle nou skielik 'n bonus te weier, kan ook lei tot ongelukkige werknemers en dit kan ook gevolge hê.
Goeie, betroubare werknemers wat hul werk ken, moet opgepas en dienooreenkomstig vergoed word.
Volg die regte proses: Sou 'n onderneming egter baie swaar kry en die werkgewer kan byvoorbeeld net kleiner of glad nie bonusse betaal nie, moet hy eers met die werknemers konsulteer en dit vroegtydig aan hulle verduidelik.
Die werknemers se standpunt hieroor moet aangehoor word en daar moet met die werknemers gekonsulteer word by die vroegste moontlike geleentheid nadat die bestuur besef het dat die onderneming nie 'n wins gaan maak en daar nie bonusse betaal kan word nie.
Indien die werknemers nie wil aanvaar dat daar nie bonusse betaal gaan word nie, maar die werkgewer het goeie en grondige redes vir die besluit, kan die werkgewer voortgaan met die niebetaling, al het die werknemers nie daartoe ingestem nie.
Dit beteken egter nie dat daar nie 'n klomp verontregte werknemers gaan wees wat nie die aangeleentheid sal verwys met 'n eis vir onbillike arbeidspraktyk nie, maar die kans dat hul met hul eis sal slaag, is dan skraal.
Nuwe minimum loon vir huiswerkers

Die nuwe minimum lone vir huis- en tuinwerkers is pas bekend gemaak. Die nuwe bedrae geld van 1 Desember tot 30 November 2017.
Die minimum loon beteken die kleinste salaris wat 'n werkgewer sy werknemer per uur, per week of per maand in die betrokke sektor mag betaal.
Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (wet 75 van 1997) bepaal dat die minister van arbeid die minimum bepalings en voorwaardes vir die arbeidsmark mag bepaal en dit sluit in die vasstelling van minimum lone vir werknemers.
Die minimum loon is gewoonlik van toepassing op ongeskoolde of semigeskoolde werknemers. Elke sektor se minimum loon sal verskillend wees en ook verskil na gelang van die gebied waar jy woon.
Die minimum loon op die verre platteland verskil van die minimum loon in stede of op dorpe. Die minimum loon word gewoonlik vir 'n jaar vasgestel, waarna die minister van arbeid dit kan hersien en aanpas.
'n Werknemer kan altyd met sy werkgewer onderhandel vir 'n beter loon as die minimum loon en dit sal 'n kontraktuele ooreenkoms tussen hulle wees. Werkgewers mag egter nie met 'n werknemer onderhandel of kontraktueel met hom ooreenkom om hom minder as die vasgestelde minimum loon te betaal nie.
Die minimum loon vir huiswerkers in stedelike gebiede (ook die meeste dorpe) wat meer as 27 gewone uur per week werk:
Uurlikse tarief: R12,42
Weeklikse tarief: R559,09
Maandelikse tarief: R2 422,54
Die minimum loon in plattelandse gebiede vir huiswerkers wat meer as 27 gewone uur per week werk:
Uurlikse tarief: R11,31
Weeklikse tarief: R508,93
Maandelikse tarief: R2 205,17
Minimum loon vir huiswerkers in stedelike gebiede wat 26 gewone uur of minder per week werk:
Uurlikse tarief: R14,54
Weeklikse tarief: R392,58
Maandelikse tarief: R1 701,06
Minimum loon vir huiswerkers in plattelandse gebiede wat 26 gewone uur of minder per week werk:
Uurlikse tarief: R13,53
Weeklikse tarief: R360,54
Maandelikse tarief: R1 562,21
Die munisipaliteite waar die minimum loon vir stedelike gebiede geld: Bergrivier, Breederivier, Buffalo City, Kaap Agulhas, Cederberg, Kaapstad, Johannesburg, Tshwane, Drakenstein, Ekurhuleni, Emalahleni, Emfuleni, Ethekwini, Unicity, Gamagara, George, Hibiskus-kus, Karoo Hoogland, Kgatelopele, Khara Hais, Knysna, Kungwini, Kouga, Langeberg, Lesedi, Makana, Mangaung, Matzikama, Metsimaholo, Middelburg, Midvaal, Mngeni, Mogale, Mosselbaai, Msunduzi, Mtubatu, Nama Khoi, Nelson Mandelabaai, Nokeng tsa Taemane, Oudtshoorn, Overstrand, Plettenbergbaai, Potchefstroom, Randfontein, Richtersveld, Saldanhabaai, Sol Plaatjie, Stellenbosch, Swartland, Swellendam, Theewaterskloof, Umdoni, uMhlathuze en Witzenberg.















