
Digitale transformasie kan werkskepping in Suid-Afrika 'n groot hupstoot gee.
Tanja Lategan, uitvoerende hoof van Enlight Strategic, sê syfers wat onlangs deur die ManpowerGroup oor die Suid-Afrikaanse arbeidsmark uitgereik is, dui daarop dat digitale transformasie werk kan skep.
Die syfers toon dat die sektor vir versekerings-, eiendoms-, finansiële en sakedienste die grootste groei in indiensneming verwag. 'n Netto 9% van maatskappye verwag dat hulle mense gaan aanstel.
"Dit is almal bedrywe wat die afgelope dekade groot ontwrigting weens digitale ontwikkeling in die gesig gestaar het," sê Lategan.
"Dit toon aan dat tegnologie, in plaas van om nywerhede te vernietig, algehele groei kan ondersteun wat weer tot meer werkgeleenthede sal lei."
Lategan sê dié gevolgtrekking word ondersteun deur die bevindings in 'n studie wat deur die navorsingsagentskap Gartner gedoen is.
LEES OOK: Só lyk kans vir werk kry in 2020
In dié studie is bevind dat kunsmatige intelligensie (KI) teen 2020 meer poste sal skep as wat dit sal vernietig. Die verwagting is dat 1,8 miljoen poste wêreldwyd weens KI vernietig sal word, maar dat 2,3 miljoen poste weer vanweë dié tegnologie in hul plek geskep sal word.
"Deur digitale transformasie te aanvaar, kan organisasies hul algehele doeltreffendheid verbeter, en sodoende koste verlaag en 'n buffer teen van die ergste eksterne ekonomiese faktore skep," sê sy.
"Wat ook al die uitdagings is wat deur 'n spesifieke bedryf in die gesig gestaar word, ondernemings wat aanpas by die veranderende wêreld en die geleenthede wat tegnologie bied om hul werknemers beter te benut en te ondersteun, sal die veerkragtigste wees," voorspel sy.




















