
Wanneer jong Amerikaners skool voltooi, voel hulle geen druk om in Europa te gaan studeer nie. Hoekom sal hulle? Hulle het wêreldklas-universiteite en onbeperkte geleenthede by die huis.
In Suid-Afrika kom 'n mens egter gereeld jong mense teë wat beplan om die land te verlaat - vir 'n lang ruk of permanent.
Dit is nie omdat ons universiteite nie goed genoeg is nie, maar omdat toegang tot universiteite beperk is en omdat politiek ons hoër onderrig oorheers. Politiek plaas ook 'n demper op geleenthede - daar is minder beskikbare werksgeleenthede, min innovering en 'n politieke klas wat toenemend vyandig raak.
Ons hoor dikwels die jeug is ons toekoms, en dit is waar. Vir ons almal se onthalwe moet studente toegerus word met kennis. 'n Omgewing moet geskep word waar hulle sukses kan behaal eerder as 'n omgewing van beheer, moedswilligheid en wrokkigheid.
Suid-Afrika se ontwikkeling word eeue lank al aan bande gelê deur staatsbeheer. Ons werkloosheidsyfer mik na 10 miljoen en die werkloses is meestal jong mense. Maar ingewikkelde en onnodige arbeidsregulasies verhoed en ontmoedig maatskappye om jonger mense in diens te neem. 'n Jong mens sou dalk bereid gewees het om vir minder as die minimum loon te werk, maar weens die vasgestelde minimum loon, mag hulle nie onderhandel oor hul eie vergoeding nie.

Waarom sal 'n onderneming iemand in diens neem wat pas matriek geskryf het as 'n gegradueerde bereid sou wees om dieselfde werk vir net R3 500 per maand te doen? In 'n ekonomie van lae vaardigheid en lae groei soos ons s'n, is dit noodsaaklik dat mense toegelaat word om met mekaar mee te ding op grond van die koste van hul arbeid.
Al wat ons met die minimum loon bereik, is om mense met min of geen vaardighede nie uit die mark uit te prys.
Baie van hulle is jong mense vir wie werkservaring waardevoller sou gewees het as 'n groter salaris.
Die slegte ekonomiese omstandighede het ongelukkig 'n ingesteldheid van toe-eiening veroorsaak. Daar is 'n geneigdheid na gratis goed, eerder as vryheid. Die FeesMustFall-opstande was 'n voorbeeld hiervan, waar die idee dat elkeen geregtig is op gespesialiseerde universiteitsonderrig deur die wêreld se voorste kenners - sonder om 'n sent daarvoor te betaal.
As aktiviste werklik bevryde onderrig wil hê, sou dit beter wees om te eis dat die regering sy wurggreep op die tersiêre onderwyssektor verslap deur die mark vir naskoolse onderrig te dereguleer. Maatskappye kan dan teen mekaar meeding om die beste studente te lok en dit sal in hul belang wees om die meerderheid van Suid-Afrikaners te bedien.
Gratis onderrig in sy huidige vorm is allermins gratis. Oorbelaste belastingbetalers betaal vir elke sent daarvan.
Dit sal ook die koste van onderrig afdwing.
(Gratis onderrig in sy huidige vorm is allermins gratis. Oorbelaste belastingbetalers betaal vir elke sent daarvan.)
Nuwe universiteite sal opskiet wat beteken daar sal meer plek wees vir studente. En die deelnemers in die mark sal nie 'n keuse hê as om om prys mee te ding nie.
Die geld wat die staat op die oomblik aan onderrig van lae gehalte vir almal bestee, kan gebruik word om die onderrig aan werklik behoeftiges te verbeter.
Sedert 1994 het ons pleks van meer vryheid vir almal toenemende inmenging van die staat in ons lewens gekry. Die staat probeer ons dwing om vir alles van hom afhanklik te wees. Dit skep nie 'n kultuur van verantwoordelikheid en innovering onder ons jeug nie.
Ons doen ons sukkelende, werklose jong mense 'n onguns aan as ons beleid ondersteun wat hul geleenthede beperk. Met hoë belasting en grandiose regeringsprogramme soos nasionale gesondheidsversekering en onteiening sonder vergoeding groei die staat ten koste van persoonlike vryheid en verantwoordelikheid.
En meer en meer jong mense verlaat die land as gevolg daarvan. Hulle weet as hulle sukses behaal in Suid-Afrika sal hulle gewurg word deur hoë belasting en eise dat die staat die staatsbeheerde ondernemings met reddingsboeie uithelp.
Jong mense word geleer hulle moet hulle toewy aan die staat, die politieke klas en sy verarmde filosofie.
Miskien het dit tyd geword dat ons jeug kennis neem van die Amerikaanse grondlegger Patrick Henry, wat in 1775 gesê het: "Gee my vryheid, of gee my die dood."
- Hattingh en Van Staden is navorsers by die Vryemarkstigting.















