Beroepe

Gesoek: IT-spesialiste, verpleërs en ambagslui

Kan jy ander tale praat - veral dié wat in die buiteland gepraat word? Is jy 'n programmeerder, dokter of verpleër?

Mense met vaardighede in programmering is in groot aanvraag in Suid-Afrika. Foto: Pixabay
Mense met vaardighede in programmering is in groot aanvraag in Suid-Afrika. Foto: Pixabay

Indien wel, behoort jy nie net maklik in Suid-Afrika nie maar ook in die buiteland werk te kry.

Luidens Xpatweb se jongste verslag oor kritiek noodsaaklike vaardighede is dit op die oomblik juis mense met dié vaardighede wat plaaslik, maar ook internasionaal, in groot aanvraag is.

"Ons resultate toon dat daar 'n baie duidelike verband bestaan tussen die vaardighede wat plaaslik benodig word en die beroepe waarvoor ander lande mense werf," sê Marisa Jacobs, immigrasiekenner by Xpatweb.

"Dit bevestig net weer dat vaardigheidstekorte 'n wêreldwye uitdaging is en dat Suid-Afrika om dié vaardighede meeding."

Benewens programmeerders, dokters, verpleërs en mense wat verskeie tale magtig is, wys die studie ook daar is 'n plaaslike tekort aan die volgende:

  • ambagslui;
  • senior finansiële bestuurders;
  • akademici;
  • mynboukundiges; en
  • risikobestuurders.

Xpatweb het 110 maatskappye, waaronder sommiges wat op die JSE genoteer is en groot multinasionale groepe in Afrika, in sy peiling ondervra.

Dit fokus spesifiek op die 2018-kalenderjaar.

Net soos in 2017 bly IT-spesialiste die moeilikste om te werf.

"Die merkwaardigste sprong in syfers is die aantal Suid-Afrikaanse maatskappye wat sukkel om ambagslui te werf, wat met 45% gestyg het, en beroepslui in die gesondheidsektor, wat met 'n massiewe 200% gestyg het," sê Jacobs.

Jacobs sê maatskappye in Suid-Afrika vind dit nie net moeilik om dié vaardighede plaaslik te werf nie, hulle sukkel ook om mense van oorsee te lok om hier te kom werk.

Die grootste struikelblok vir buitelanders is om werkvisums te kry.

Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM