
Bedrog met finansiële state is die soort bedrog in die werkplek wat die minste voorkom, maar wat ondernemings die duurste te staan kom.
Daarteenoor is korrupsie die algemeenste bedrogskema in die werkplek, lui die vereniging van gesertifiseerde bedrogondersoekers (ACFE) se 2018-verslag.
Meer as 2 690 gevalle van bedrog in die werkplek, uit 125 lande, is ontleed vir die samestelling van die jongste verslag.
Wêreldwyd word die verlies van bedrog in die werkplek op minstens $3 500 miljard geraam.
Van die gevaarligte wat op bedrog kan dui, is werkers wat finansieel sukkel, ver bo hul vermoë leef, 'n noue verhouding met 'n verskaffer het, en dié wat nie hul pligte wil deel nie, maar die beheer wil behou, sê die vereniging.
Jenny Reid, uitvoerende hoof van iFacts, het verlede week by die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAPFS) se beraad in Johannesburg uitgewei oor wat werkgewers kan doen om te keer dat oneerlike mense in diens geneem word. Geoutomatiseerde prosesse kan help met die insameling van inligting en besluitneming vergemaklik.
iFacts gaan onder meer kredietgeskiedenisse na, en verifieer bank- en ID-besonderhede. Die onderneming bied ook 'n verwysingsdiens vir wanneer iemand 'n nuwe werker in diens wil neem.


















