Beroepe

Gids oor WVF-hulp kom Vrydag

Thulas Nxesi Foto: Daily Sun
Thulas Nxesi Foto: Daily Sun (Daily Sun)

Sakeondernemings wat vir 'n kort tydperk toemaak of wat op kort termyn heeltemal toemaak, en werknemers wat gedwing word om vir 14 dae in kwarantyn te gaan, kan nou voordele van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) eis.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het vandeesweek bekend gemaak maatskappye wat swaar kry weens die Covid-19-pandemie, sal kan aansoek doen om vir 'n tydperk nie by te dra tot die WVF nie.

'n Tydelike werknemer-werkgewer-ondersteuningskema sal gebruik word om te verhoed dat werkers afgelê word.

Teboho Thejane, woordvoerder van die departement, het laat weet 'n gids oor hoe alles sal werk, sal Vrydag gepubliseer word.

Michael Yeates, direkteur van die regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr se arbeidspraktyk, verduidelik die hulp wat aangebied word as volg:

Waar maatskappye besluit om vir 'n kort tydperk te sluit:

Korttermynvoordele uit die WVF sal vir werknemers beskikbaar wees.

Waar maatskappye 'n totale sluiting op kort termyn oorweeg:

Sulke maatskappye moet die departement van indiensneming en arbeid inlig, en die departement sal 'n span stuur om die onderneming te besoek en te help met die verwerking van WVF-eise.

Werknemers wat hulself aan kwarantyn van 14 dae moet onderwerp:

Dit sal as spesiale verlof beskou word en werknemers sal toegelaat word om vir WVF-eise aansoek te doen. Die eise sal betaal word op voorwaarde dat die rede vir die kwarantyn aan die nodige vereistes voldoen.

Werknemers wat vir langer as 14 dae in kwarantyn moet wees omdat hulle gereis het of in kontak was met iemand met die virus:

Sulke verlof sal as spesiale verlof beskou word en werknemers sal vir WVF-voordele aansoek kan doen.

Yeats verduidelik iemand wat tot die WVF bydra, kan normaalweg ingevolge die Wet op Werkloosheidsversekering vir siektevoordele eis as hy weens sy siekte nie kan werk nie.

Maar dit geld net as hy nie reeds vir ander werkloosheidsvoordele in aanmerking kom nie.

Die voordeel word bereken vanaf die datum waarop die persoon ophou werk weens die siekte, en vereis 'n doktersertifikaat.

Maar Yeats verduidelik dit is buitengewone tye en scenario's duik nou op wat nie noodwendig deur die wet voorsien is nie.

Die WVF is finansieel gesond en het 'n netto batewaarde van meer as R151 miljard, volgens syfers van die nasionale tesourie. Dit is anders as byvoorbeeld die Padongelukfonds, wat 'n netto tekort van R329,6 miljard gehad het teen die einde van die afgelope boekjaar.

Yeats meen dit is 'n ontwikkelende proses en dit is nog nie presies duidelik hoe besluit gaan word watter maatskappye sal kwalifiseer vir die vergunning om nie WVF-bydraes hoef oor te betaal nie. Dit beteken wel sulke maatskappye kry dan 'n finansiële voordeel, want hulle kan die geld wat hulle nie hoef oor te betaal nie, gebruik om hul kontantvloei te verbeter te midde van die swak handelsomgewing weens die pandemie.

Maatskappye is nie noodwendig verplig om spesiale betaalde verlof toe te staan nie, en die WVF-voordele sal werknemers dus help om finansieel te oorleef tydens hul spesiale verlof. Die voordele word normaalweg op 'n glyskaal op grond van die werknemer se salaris betaal, sê Yeats.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM