Beroepe

Heil die bewakers van die waarheid

Aan die einde van elke jaar kies Time hul Persoon van die Jaar. In 2018 het joernaliste - as die bewakers van die waarheid - hierdie eer ontvang. Die toekenning is natuurlik gedoen in die konteks van pres. Donald Trump se ongebreidelde pogings om die media te diskrediteer met die term "fopnuus".

Maar joernaliste kry nie net in Amerika die wind van voor nie. Wêreldwyd moet hulle soms bonatuurlik dapper wees om die waarheid bloot te lê. Die moord op die Saoedi-Arabiese joernalis, Jamal Khashoggi, het hierdie gevare duidelik uitgespel.

Maar dit is jammer Time kon nie ook plek vind vir 'n kantaantekening oor Suid-Afrika nie. Want as daar een land is waar ondersoekende joernaliste die afgelope dekade die fakkel van vryheid aangevuur het, dan was dit hier.

Wyle Mandy Rossouw het Suid-Afrikaners van ons voormalige president se luukse opknappings aan sy huis in Nkandla - betaal deur ons, die belastingbetaler - ingelig. Sabelo Skiti van Sunday Times was aan die voorpunt wat Bell Pottinger se konkelry met die Guptas blootgelê het.

En soos Adriaan Basson die afgelope week voor die Zondo-kommissie getuig het, het hy en Carien du Plessis reeds in 2006 Bosasa se korrupsie ondersoek en daaroor verslag gedoen.

Ondersoekende joernaliste skryf nie net vir koerante nie. 'n Mens wonder in watter mate die publikasie van Jacques Pauw se The President's Keepers in Oktober 2017, twee maande voor die ANC-leierskongres, gehelp het om Cyril Ramaphosa 'n paar stemme meer as Nkosazana Dlamini-Zuma te gee. Geskiedskrywers kan dalk eendag saamstem dat hierdie boek Suid-Afrika van die rand van 'n afgrond gered het.

Hierdie onbaatsugtige bereidwilligheid om te veg vir 'n pers wat wanpraktyke kan blootlê, is een van die hoekstene van 'n demokrasie.

Ekonome sou joernaliste se bydrae tot die samelewing 'n positiewe eksternaliteit noem. Dit is nie net dat joernaliste nuus verkoop aan lesers nie; hulle maak ook die land 'n beter plek om in te woon.

'n Ander manier om daaroor te dink, is dat die opbrengs vir die samelewing groter is as die opbrengs vir die individu. Geeneen van die joernaliste wat die land miljoene gespaar het om korrupsie hok te slaan, het persoonlik baie voordeel daaruit getrek nie.

'n Diens of produk met groot positiewe eksternaliteite beteken dat die vrye mark te min van sulke tipe produkte en dienste oplewer. 'n Goeie voorbeeld is onderwys.

Geeneen van die joernaliste wat die land miljoene gespaar het om korrupsie hok te slaan, het persoonlik baie voordeel daaruit getrek nie.

'n Graad op universiteit beteken dat 'n individu 'n hoër salaris sal verdien - daar is dus beslis private voordele aan verdere studie. Maar daar is baie groter voordele vir die samelewing van 'n arbeidsmag met universiteitsopleiding: hooggeskoolde individue ontwikkel nuwe tegnologie en stelsels wat almal om hulle bevoordeel.

Daar is dus groot positiewe eksternaliteite aan onderwys, en daarom subsidieer die staat universiteitsopleiding.

Joernaliste sou dus 'n geldige argument kon voer dat hulle te min besoldig word vir die soort diens wat hulle lewer. Dit word natuurlik vererger deur die daling in koerantsirkulasiesyfers, die veranderende tendense van hoe nuus verbruik word en die verbysterende hoeveelheid sosiale nuusbronne van bedenklike gehalte (iets wat Bell Pottinger baie goed uitgebuit het). Kortliks: die private opbrengste vir joernaliste raak al hoe kleiner terwyl die sosiale opbrengste oënskynlik ál groter word.

Hoe sou ekonome voorstel dat hierdie gaping oorbrug word? Een opsie sou wees om staatsubsidies vir joernaliste in te stel, net soos daar subsidies vir hoër onderrig is.

Daar is een groot probleem hiermee. As die staat jou salaris betaal, is dit baie onwaarskynlik dat jy gemaklik gaan wees om staatskorrupsie en ander wanpraktyke te ondersoek. Dit is nie verrassend nie dat geen van die groot onthullings gekom het van joernaliste wat vir staatsgesubsidieerde media-instellings soos die SAUK werk nie.

Die teendeel is natuurlik ook waar. 'n Geldige kritiek teen joernaliste is dat hulle soms nie so ernstig oor korrupsie in die private sektor as dié in die openbare sektor is nie; hul publikasies maak immers staat op advertensies uit die private sektor.

'n Alternatiewe opsie is om seker te maak daar is genoeg winsgewende mediahuise. Mededingingsbeleid kan keer dat groot mediahuise saamsmelt en die aanbod van ondersoekende joernaliste verminder. Maar 'n meer sinvolle manier is dalk om private finansiering te gebruik om onafhanklike sentrums vir ondersoekende joernaliste te stig.

Dink net: twee of drie nuussentrums wat nie afhanklik van advertensie-inkomste of intekenaars is nie, en daarom uitsluitlik op die taak van fakkeldraer vir vryheid kan fokus.

Dit is waarskynlik die beste manier om ons teen 'n tweede Zuma-dekade te verseker.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM