Is jy verslaaf aan jou rekenaar of jou slimfoon? Jy het dalk die korporatiewe pes.

Dit is die naam wat prof. Johann Coetzee, 'n bedryfs- en konsulterende sielkundige, gegee het vir uitbranding by werknemers en top-bestuurders in die sakewêreld wanneer dit vererger word deur die digitale era.
'n Duidelike teken dat alles nie pluis is nie, is die paniek wat hy sien wanneer hy bestuurders vra wanneer laas in hul lewe hulle op datum met hul werk was, sê Coetzee.
Dit laat hulle besef hulle "is nog nie klaar nie", want daar is altyd nóg e-pos of nóg syfers wat aandag moet kry. "Almal vat hul rekenaar of tablet huis toe om in te haal en só word ons toenemend 'n samelewing van mense wat na monitors staar."
Coetzee, outeur van die boeke It's About Time en Take your Time, het in sy loopbaan meer as 27 000 bestuurders berading gegee en geïnspireer om positief te bly. Deesdae gee hy deeltyds klas aan die Universiteit Stellenbosch se USB-Bestuursontwikkeling (USB-BO).
Ons sien beter om na ons slimfone as na onsself.
— Arianna Huffington
Arianna Huffington, voormalige uitvoerende redakteur van die nuuswebwerf The Huffington Post, het dié week op Discovery se leierskapsberaad in Sandton gesê die digitale revolusie het die krisis van uitbranding vererger.
"Ons weet nie meer hoe en wanneer om af te skakel en wanneer ons ons digitale toestelle moet wegsit nie. Ons sien beter om na ons slimfone as na onsself."
Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery, sê die wêreldwye pandemie van stres en uitbranding is verantwoordelik vir 75% van gesondheidsorgkoste.

Volgens Huffington verkeer die wêreld onder 'n "kollektiewe waan" dat jy jouself moet uitbrand om sukses te kan behaal.
Sommige sakeleiers spog met hoe min hulle slaap, terwyl hulle tipiese simptome van slaapontneming soos onstabiliteit en onsamehangendheid het, sê sy.
Sy het 'n welstandsonderneming begin wat daarop fokus dat mense hul batterye moet herlaai.
Verslaag aan inligting
Volgens Coetzee het die digitale era bygedra tot 'n pandemie van nuuskierigheid. Oud en jonk is verslaaf aan inligting. "Hoeveel keer sien jy mense - selfs in die kerk of in 'n konsertuitvoering - gryp na hul fone om te sien wie het hulle gesoek?"
Die tye wat ons moet rus, met geliefdes moet deurbring of betekenisvolle menseverhoudinge moet bou, ly alles daaronder. Die struktuur van die moderne huisgesin het in duie gestort en die huishouding se ritme is versteur omdat almal byna heeltyd met hul neus in 'n skerm sit, sê hy.
Nog 'n probleem is dat jou werkplek "draagbaar" is omdat alles op jou tablet is.
Daar is al omvattend berig oor die omvang van internetverslawing onder jong kinders, soos in Suid-Korea.
Wees bereid om die toppos in die maatskappy prys te gee eerder as om in te boet op die vreugde om die beste eggenoot, pa of vriend te wees.
— Prof. Johann Coetzee
Dié land het selfs 'n paar jaar gelede wette ingestel om kinders jonger as 16 jaar se toegang tot aanlyn speletjies tussen middernag en 06:00 te beperk.
Reuters het vroeër regeringsdata gepubliseer wat wys dat nagenoeg een uit elke tien Suid-Koreaanse kinders van tien tot 19 jaar oud verslaaf is aan die internet. Ander skat dit selfs so hoog as 50%.
Dr. Lee Jae-Won, a neuro-psigiater in Seoel, het in 'n onderhoud gesê aanlyn speletjies maak ruweg 90% van gevalle van verslawing in Suid-Korea uit, het Businessinsider.com vroeër berig.
Coetzee sê natuurlik moet 'n mens vir jou kind 'n tablet of iPad koop. "Koop die beste, want dit is die toerusting wat nodig is in vandag se lewe."
Dissipline
Maar dissipline in die verantwoordelike gebruik van tegnologie begin by die huis.
Hy sê niemand het 'n teenmiddel vir korporatiewe pes nie en mense doen eers iets daaraan wanneer die skade al aangerig is aan hul gesondheid, gesin en geliefdes.
Hy glo aan kompromieë. Wees bereid om die toppos in die maatskappy prys te gee eerder as om in te boet op jou verantwoordelikheid en die vreugde om die beste eggenoot, pa of vriend te wees.
En werk bewustelik minder.
Volgens Huffington erken suksesvolle leiers en die wêreld se voorste maatskappye dat werkers rus nodig het en 'n "digitale detoks" moet ondergaan.
Benewens behoorlike eetgewoontes en oefening, is slaap hoogs ondergewaardeer. Slaaptyd is wanneer jou verstand herlaai.















