Beroepe

Hoe om jou van jou onderneming te speen

Die meeste entrepreneurs sal uiteindelik 'n punt bereik waar hulle die bestuur van hul onderneming aan iemand anders moet oorgee. Dit lei dikwels tot groot en emosionele omwentelings. Maar daar is maniere om dié oorgang makliker te maak.

Jy wil alles doen, maar jy kan nie. As baas of eienaar moet jy leer om te delegeer. Foto: iStock
Jy wil alles doen, maar jy kan nie. As baas of eienaar moet jy leer om te delegeer. Foto: iStock

Vir baie kleinsake-eienaars en maatskappyleiers is opvolgbeplanning amper soos om 'n begrafnis vir 'n gesonde familielid te beplan. Die tyd is amper nooit reg daarvoor nie.

Besprekings oor opvolgingsbeplanning dek hoofsaaklik kwessies soos tydsberekening, wie die beste persoon is om oor te neem, skakeling met die werknemers en die finansiële besonderhede van die oorgang.

Daar word egter bitter min gesê oor die emosionele sy van so 'n oorgang vir die sake-eienaar of maatskappyleier wat 'n droom moet oorhandig wat hy of sy oor baie jare opgebou en vertroetel het.

Timothy King, lewensafrigter van Lead Life Coaching, sê diegene wat geraak word, gaan gewoonlik deur een van twee prosesse. Sommige mense is daarop voorbereid om aan te beweeg en is selfs opgewonde om met 'n nuwe hoofstuk in hul lewens te begin. Ander is bang en onseker oor wat die toekoms inhou.

Ouderdom kan ook 'n impak hê - baie ouer mense sukkel met die gedagte aan 'n oorgang van 'n gerespekteerde leier tot om die leisels aan iemand anders te oorhandig en moontlik met iets nuuts te begin.

Wat nou?

Die meeste mense wat hierdie punt in hul lewe bereik, bevraagteken die feit of hulle die krag, vaardigheid of kreatiwiteit het om in 'n nuwe mark mee te ding, sê King.

Stephen Sheinbaum, stigter van die finansieringsmaatskappy Bizfi, sê in 'n artikel in die tydskrif Entrepreneur dat meer as 50% van alle kleinsake-eienaars in Amerika ouer as 50 is.

Baie mense vries eenvoudig. Hulle het so gewoond geraak aan 'n spesifieke omgewing dat hulle nie in staat is om 'n nuwe een te hanteer nie.

—  Timothy King, lewensafrigter

'n Moeilike keuse waarmee sake-eienaars worstel, is wie by hulle gaan oorneem. Gaan dit 'n familielid wees of behoort 'n werknemer van binne die onderneming die leisels by hulle oor te neem?

Emosionele oorgang

Bitter min raad is beskikbaar oor hoe die sake-eienaar sy eie oorgang moet hanteer. King sê die oorgang veroorsaak angstigheid en selfs depressie by baie mense. Dit speel ook 'n rol in die besluit oor wanneer om die leisels te oorhandig, die saak te verkoop of selfs nog 'n rukkie vas te klou . . .

"Baie mense vries eenvoudig. Hulle het so gewoond geraak aan 'n spesifieke omgewing dat hulle nie in staat is om 'n nuwe een te hanteer nie."

Hy sê sommige mense is bloot nie in staat om dit prys te gee nie. Hul sin van selfbevestiging en identiteit is heeltemal met die onderneming of hul leiersrol verweef.

Mense in dié posisie sal heel waarskynlik die een of ander "gebeurtenis" moet hê om dit prys te gee - of 'n gesondheidskwessie soos 'n hartaanval of 'n lewensmaat wat dreig om te loop oor die maat se onvermoë om aan te beweeg.

"Afgesien hiervan sal die persoon sy of haar identiteit moet herskep."

Op 60 is dit moeilik om te doen, en die frustrasie, irritasie en onsekerheid oor die aanbeweeg na die volgende fase duur kan voortduur.

'n Suksesvolle oorgang vereis die steun van familie en vriende, spesifiek aan iemand wat in sy besigheid of loopbaan vasgevang was en nooit 'n gebalanseerde lewe met ander belangstellings gelei het nie, sê King.

Verlies van status

In 'n studie deur die Center for Family Business aan die St. Gallen-universiteit in Switserland, wat deur Credit Suisse gepubliseer is, is entrepreneurs oor hul emosionele reaksie op die opvolgingskwessie gevra.

Entrepreneurs wat die oorgangstyd sien naderkom het, het in die algemeen meer teenstellende emosies beleef oor die proses om hul posisie prys te gee, en in uiterste gevalle het hulle selfs die proses gesaboteer.

Die rede hiervoor is die moontlike verlies aan status. Entrepreneurs geniet as werkgewers en aktiewe lede van die gemeenskap groot respek van ander.

Die nuutste uitgawe van Finweek.
Die nuutste uitgawe van Finweek.

"Hulle is bang om daardie respek te verloor. Statusoorwegings is waarskynlik meer prominent op die platteland as in die stad," is bevind.

'n Tweede belangrike aspek is die eienaar se vrees dat die prysgee van sy sake-aktiwiteite daarop neerkom dat hy "dít wat die meeste in sy lewe beteken, gaan verloor".

Die vrees spruit daaruit dat die meeste entrepreneurs geweldige baie tyd en emosionele energie in hul werk belê, in baie gevalle tot so 'n mate dat dit tot die uitsluiting van die meeste of alle ander aktiwiteite lei.

Selfs hul private lewens moet in die algemeen tweede viool speel sodat die maatskappy voorkeur kan geniet.

Staan terug

Een manier om die oorgang makliker te maak, is dat die entrepreneur 'n paar jaar voordat die teuels oorgegee word 'n kleiner rol in die maatskappy se daaglikse aktiwiteite speel. Die persoon se vermoë om afstand te doen van die beheer oor besluitneming sal kritiek wees.

"Dit sal vereis dat hy selfvertroue, geloof en vertroue in die mense het wat sy droom gaan oorneem," sê King.

Volgens die studie kan die vaardighede, vermoëns, strukture en prosesse lank voor die eienaar se vertrek ontwikkel word indien die eienaar effens terugstaan en van die verantwoordelikhede oordra.

Ideaal gesproke moet 'n entrepreneur daarna mik om met trots aan die einde van sy professionele loopbaan te sê dat hy sy onderneming in goeie hande gelaat het, is in studie bevind.

Vind jou doel

Mense verwar dikwels hul rol met hul doel.

King sê wanneer leiers of entrepreneurs die rol (as sake-eienaar of uitvoerende hoof) agterlaat, stort hulle dikwels ineen omdat al hul eiewaarde en selfbeeld aan daardie rol in plaas van aan hul doel toegedig was.

"Hulle voel dat hulle nie hulle doelwit in enige ander rol kan bereik nie. As hulle hul ware doelwit verstaan, kan hulle dit bereik in enige ander rol wat hulle in die lewe kies."

Indien hulle hul doelwit verstaan, sal dit vir hulle makliker wees om dit prys te gee en enige nuwe uitdaging te takel, sê hy.

Dit is 'n uittreksel uit 'n artikel in die 7 September-uitgawe van Finweek, wat vanaf 1 September op die rakke is. Ook in dié uitgawe:

  • Welvaartsbelasting: Die voor- en nadele
  • Waarom klassieke motors 'n slim belegging kan wees
Amanda de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM