Beroepe

Hoeveel is jou slaap werd? R22 mjd. per jaar!

As jy nie minstens sewe uur per nag slaap nie, is jou brein so moeg dat jy nie jou werk behoorlik kan doen nie.

Kooi toe met jou, ou kêrel!
Kooi toe met jou, ou kêrel!

En as 'n mediese fonds met 500 000 lede hulle almal sover kan kry om genoeg te slaap, kan dit die fonds amper R250 miljoen per jaar spaar.

Só sê Charles King op grond van navorsing wat hy pas as deel van sy MBA aan die Universiteit Stellenbosch se sakeskool gedoen het.

Die risikofaktore vir siektes verhoog eksponensieel as jy nie sewe tot nege uur se slaap per nag inkry nie, sê hy.

King het die slaappatrone van 658 werkers van 'n finansiële instelling oor drie maande gemonitor om die impak te bepaal van gebrekkige slaap op ondernemings, werknemers en op mediese fondse weens eise vir toestande wat met slaapontbering verband hou.

Een siekefonds het 'n geraamde R22 miljard per jaar betaal aan die behandeling van lewensbedreigende siektes wat met slaap van minder as agt uur per nag verband hou, sê King.

In Amerika het dr. Jamie Zeitzer, 'n assistent-professor aan die Stanford-Universiteit, en Tim Althoff, 'n doktorale student toe die studie in 2017 gedoen is, bewys as jy een uur langer wakker bly as gewoonlik, al kry jy steeds 'n goeie nagrus, is jy die volgende dag veel stadiger by die werk.

King sê sewe tot nege uur slaap per nag word beskou as optimaal vir produktiwiteit, verlaagde risiko vir siektes en vir algehele welstand, maar 64% mense in sy studie het minder as sewe uur geslaap.

Die gedragstrateeg Joni Peddie, uitvoerende hoof van die onderneming Resilient People, sê sy fokus die laaste paar jaar al hoe meer op slaap in haar werk by groot maatskappye wat ernstig is oor hul werknemers se veerkragtigheid.

As een lid van 'n span na-uurs e-posse met opdragte stuur, kan ander gedwing voel om ná ure daarop te reageer.

—  Joni Peddie van Resilient People

Sy het verskeie groot finansiële instellings as kliënte. Volgens Peddie ly tussen 30% en 40% van volwassenes in Suid-Afrika aan slapeloosheid, tussen 10% en 15% van hulle in 'n erge graad. Baie slaapprobleme is weens depressie of angstigheid.

Sy sê maatskappye begin besef hoe belangrik slaap vir hul werkers is - dit help hul fisieke herstel, kognitiewe funksionering, konsentrasie en produktiwiteit.

Sy help bestuurders om tekens van slapeloosheid onder werknemers raak te sien, soos swak werksprestasie, hoë kaffeïen-verbruik en gewigsverandering.

Werkgewers kan help deur hul personeel te herinner om tyd af te neem wanneer nodig en goeie gewoontes aan te leer soos om skermtyd (selfone, televisie en rekenaars) voor slapenstyd te beperk en deur werk ná ure te bestuur. "As een lid van 'n span na-uurs e-posse met opdragte stuur, kan ander gedwing voel om ná ure daarop te reageer."

Maatskappye met kliënte of kollegas wêreldwyd, moet uitwys in watter omstandighede werknemers na-uurs beskikbaar moet wees.

Peddie sê as mense heeltyd geprys word omdat hulle oortyd of deur die nag werk, stuur dit 'n boodskap dat jy beloon word om jouself uit te brand ten koste van jou huislike lewe en geliefdes.

"Beloon eerder spanne wat hul teikens binne werkure haal."

King sê in Suid-Afrika is die tendens nog om werk huis toe te neem en 24/7 beskikbaar te wees en e-posse te beantwoord. Google in Amerika het 'n beleid wat werknemers penaliseer as hulle 'n vasgestelde perk van oortyd oorskry.

Peddie is ten gunste van slaaphokkies in die werkplek soos by Google, Samsung en Nasa waar werknemers 'n vinnige uiltjie kan knip.

Zoona, 'n tegnologiemaatskappy wat finansiële dienste bied aan gemeenskappe in Afrika wat nie toegang tot tradisionele finansiële dienste het nie, se Kaapstad-kantoor is een van enkele ondernemings in Suid-Afrika wat slaapgeriewe vir werknemers het.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM