Beroepe

Huishulp móét betaalde verlof kry

Youlandé Prinsloo is 'n arbeidspesialis. Vrae oor arbeidsprobleme kan aan haar gerig word by Sake-Rapport, Posbus 333, Auckland Park, Johannesburg 2006 en by faks-tot-e-pos-nommer 0865 347 192.

Bereken huiswerker se verlof só

Huiswerkers - selfs dié wat deeltyds werk - is geregtig op betaalde verlof. Foto: iStock
Huiswerkers - selfs dié wat deeltyds werk - is geregtig op betaalde verlof. Foto: iStock (matka_Wariatka)

Vraag:

Ek werk as 'n huiswerker en voel ek word nie reg behandel nie. Die vrou vir wie ek werk, sê sy betaal my die minimum voorgeskrewe loon per uur en as ek verlof wil neem, word ek nie betaal nie.

Moet ek nou in Desember twee weke onbetaalde verlof neem om te rus omdat ek per uur betaal word? Is 'n huiswerker nie 'n gewone werknemer wat ook kwalifiseer vir betaalde verlof nie?

Antwoord:

Volgens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (wet 75 van 1997) is 'n werknemer iemand (behalwe 'n onafhanklike kontrakteur) wat vir iemand anders of vir die staat werk en wat besoldiging ontvang of daarop geregtig is om besoldiging te ontvang.

Dit kan ook iemand wees wat op enige manier help om die sakeonderneming van 'n werkgewer voort te sit of te bedryf, ongeag of jy 'n huiswerker is of vir 'n groot maatskappy werk.

Daarom is alle huiswerkers en tuiniers net soos enige ander werknemer geregtig op betaalde verlof en siekteverlof. Dieselfde geld alle ander bepalings en voordele van ons arbeidswetgewing - ongeag hoe betaling geskied.

Art. 20 van die wet bepaal 'n werknemer se jaarlikse verlofsiklus is die tydperk van 12 maande diens by dieselfde werkgewer. Die verlofsiklus begin met die aanvang van 'n werknemer se diens of met die voltooiing van die werknemer se vorige verlofsiklus.

'n Werkgewer moet minstens 21 opeenvolgende dae jaarlikse verlof (oftewel 15 werkdae en die naweke daarom) teen volle betaling aan 'n heeltydse werknemer toestaan in die jaarlikse verlofsiklus.

Met 'n ooreenkoms kan dit ook bereken word as een dag jaarlikse verlof met volle besoldiging vir elke 17 dae waarop die werknemer gewerk het, of op betaling geregtig was.

Nog 'n opsie (as jy deeltyds werk) is een uur jaarlikse verlof teen volle betaling vir elke 17 uur waarop die werknemer gewerk het of op betaling geregtig was.

'n Werkgewer moet jaarlikse verlof toestaan binne ses maande ná die einde van die jaarlikse verlofsiklus.

Met elke siekteverlofsiklus (36 maande diens by dieselfde werkgewer) is 'n werknemer geregtig op siekteverlof met betaling, wat gelyk is aan die getal dae wat die werknemer sou gewerk het oor 'n tydperk van ses weke.

As jy vyf dae per week werk, sal jy op 30 dae betaalde siekteverlof geregtig wees vir elke 36 maande wat jy gewerk het.

'n Werkgewer mag nie weier om betaalde verlof of siekteverlof toe te staan nie. Sou dit gebeur, kan jy die werkgewer by die departement van arbeid aangee.

Personeel bly weg, kom laat in vakansie

Laat vir werk: Dis belangrik om 'n deeglike dissiplinêre en beleidskode te hê.
Laat vir werk: Dis belangrik om 'n deeglike dissiplinêre en beleidskode te hê.

Vraag:

Ons onderneming sluit nie in Desember nie en dit is van ons besigste tye van die jaar. Ons sukkel egter baie met personeel wat in die tyd laat kom of afwesig is. Kan ons die personeel ontslaan wat van die werk wegbly?

Antwoord:

Baie werkgewers worstel met dié probleem en daarom is dit belangrik om 'n deeglike dissiplinêre en beleidskode te hê. Die werkgewer moet dadelik die nodige dissiplinêre stappe toepas as 'n werknemer laat kom of afwesig is.

As die werkgewer optree sodra die werknemer die reëls oortree, sal dit keer dat dit gereeld gebeur en die onderneming so skade berokken.

Onthou ook dat die werkgewer nie deurlopend 'n laatkommery kan duld en dan skielik, soos in die besige Desembertyd, so 'n werknemer ontslaan nie. Dit sal nie prosedureel en substansieel billik wees nie en kan vir die werkgewer groot probleme skep sou die werknemer die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.

Jy moet ook onthou dat die werkgewer moet uitvind waarom die werknemer laat vir werk opgedaag het. Die bewys om die laat opdaag vir werk te regverdig, berus by die werknemer.

Die werkgewer kan begin deur regstellende opleiding in die vorm van konsultasie en kan ook raad en bystand aan die werknemer gee.

Indien die werknemer laat opdaag, kan die verlore werktyd van sy of haar salaris verhaal word.

Alle konsultasies met die werknemer moet altyd op skrif in sy persoon aangebring word.

Die erns van die oortreding asook die gevolge wat die laatkommery vir die sakeonderneming, medepersoneel en die werknemer moet aan die betrokke werknemer verduidelik word.

Daar moet weer aan die werknemer verduidelik word dat sy gedrag nie toelaatbaar is nie. Ook wat die dissiplinêre en beleidskode se bepalings ten opsigte van die soort gedrag is en dat die gedrag tot die werknemer se ontslag kan lei as die optrede sou voortduur.

As die werknemer ná die konsultasiesessie weer laat vir werk opdaag, moet die onderneming se dissiplinêre kode streng gevolg word.

Dit is voorts belangrik om te onthou dat die wet bepaal 'n werknemer kan nie summier ontslaan word vir geringe oortredings wat minimale skade vir die werkgewer veroorsaak nie.

In sommige gevalle kan die laat aanmeld vir diens wel groter en ernstige skade vir die werkgewer inhou as dit die bedryfsvereistes van die onderneming beïnvloed en benadeel.

Die sakeonderneming se dissiplinêre kode behoort daarvolgens aangepas te wees en die werkgewer moet daarvolgens optree.

Onthou ook die reël van geen werk, geen vergoeding. Indien die werknemer laat opdaag, kan die verlore werktyd van sy of haar salaris verhaal word.

Dit is die werknemer se verantwoordelikheid en plig om betyds vir werk op te daag ongeag die omstandighede.

Dit is ook baie belangrik dat die werknemer die werkgewer betyds inlig dat hy laat gaan wees sodat die werkgewer alternatiewe reëlings kan tref en dit nie die bedryfswerkinge van die onderneming belemmer nie.

Die werknemer moet ook die werkgewer inlig waarom hy nie by die werk kan wees nie en wanneer hy weer op sy pos sal wees.

Kla oor die WVF

Vraag:

Ek het onlangs werkloosheidsversekering geëis, maar ek dink nie die uitbetaling wat ek ontvang het, is korrek nie. Ek dink ek het baie minder gekry as waarvoor ek gekwalifiseer het. Kan ek teen die bedrag appelleer en 'n verduideliking eis oor hoe die berekeninge gedoen is?

Antwoord:

Ek stel voor dat jy die kantoor van die Werkloosheidsversekeringsfonds kontak om vas te stel hoe die uitbetalings bereken is. Jy het dalk nie genoeg krediete gehad nie of al voorheen geëis.

Werknemers kan appelleer teen 'n besluit van die kommissaris van die Werkloosheidsversekeringsfonds of die eisebeampte deur 'n UI.12 vorm te voltooi binne 90 dae nadat jy van die uitslag/bevindings bewus geraak het.

Die vorms is beskikbaar by die kantore van die departement van arbeid of op hul webtuiste. Dit moet ingevul en aan die Werkloosheidsversekeringsfonds se hoofkantoor gestuur word.

Youlandé Prinsloo, Arbeidsake

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM